Gebore
05 Mei. 1927
OORLEDE
04 Sept. 2010
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1955
ORDEN
1956
STANDPLASE
1956 Letsitele
1960 Kampersrus
1963 Schweizer-Reneke
EMIRITEER
–
Ds Albert De Jongh (BA, BD) 05 Mei. 1927 – 04 Sept. 2010
AlbertusJacobusde Jongh is op 5 Mei 1927 op die skilderagtige dorpie Bethulie digby die Oranjerivier gebore. Sy vader was Jurgen Jacobusde Jongh, ‘n polisieman, en sy moeder Johanna Bradfield. Hulle het later na Middelburg (KP) verhuis, waar Albert in 1934 begin skoolgaan het totdat sy vader in 1937 na Pretoria verplaas is. Van 1941 tot 1945 was hy ‘n leerling aan die Afrikaans Hoër Seunskool in Pretoria, waar hy gematrikuleer het. Hy het uitgeblink in rugby, atletiek en was in die Voortrekkers.
Albert het geroepe gevoel om predikant te word en het in die Staatsdiens gewerk terwyl hy buitemuurs gestudeer en die BA-graad in 1951 behaal het. Daarna het hy sy studies aan die Fakulteit Teologie (Afd. B) voortgesit, waar hy die graad BD voltooi en op 24 November 1955 as proponent gelegitimeer is. Sy BD-skripsie was oor: “Die rol van verenigings in die kerk.” Albert is op 13 Oktober 1956 met handoplegging in die NG Gemeente Letsitele in die Laeveld ontvang en bevestig. Hier was hy betrokke met die bou van ‘n pastorie en kerksaal. Op 26 Maart 1960 het hy leraar van die NG Gemeente Kampersrusby Hoedspruit geword, ook ‘n nuwe gemeente waar hy ‘n pastorie gebou het.
Hierna het sy pad na die Wes-Transvaal geloop, waar hy op 15 Maart 1963 leraar van die NG Gemeente Schweizer-Reneke geword het. Op 3 Desember 1966 is hy in die NG Gemeente Port Natal in Durban bevestig. Na agt jaar in Natal het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Belfast aanvaar, waar hy op 13 Oktober 1974 bevestig is. Hy het die gemeente twintig jaar lank bedien, totdat hy op 13 Oktober 1994 emeritaat aanvaar het. Op 7 Maart 1959 is hy met Alice May Neethling getroud, en uit die huwelik is drie kinders gebore (twee seuns en ‘n dogter).
Na sy aftrede het die egpaar hulle op Hartenbos gevestig, waar hy ouderling van die NG Gemeente Hartenbos was. Hy was lief vir rolbal en die egpaar was geliefde inwoners op die aftreedorp. Ds Albert is op 4 September 2010 oorlede en daar was oral dankbaarheid vir sy mooi lewe van naaste diens. – Dr Gerdrie van der Merwe VDM. (Jaarboek ).