De Jager, Salomé Liezel

Ds Liezel de Jager

GEBORE

23 Jul 1983

OORLEDE

13 Okt 2021

UNIVERSITEIT

BA Hons, BTh, MDiv (UOVS)

gelegitimeer

2009

ORDEN

2010

standplase

 2010 Kanoneiland

2019 Suidkus

DS LIEZEL DE JAGER (BA Hons, BT11, MDiv) 23 Julie 1983 — 13 Oktober 2021

Salome Liezel de Jager (Van Zyl) is op .23 Julie 1983 gebore op Olifantshoek, ‘n boerderygemeenskap tussen Kuruman en Upington. Haar ouers is Henk en Salomé van Zyl, wat met haar geboorte verbonde was aan die Suid-Afrikaanse Polisiemag op Olifantshoek. In 1997 word Henk bestuurder van die SAPD Kollege (Polisie-akademie) op Graaff-Reinet, toe Liezel in graad 9 jaar was aan die Hoër Volkskool. Ds Johan Esterhuysen, toe leraar van die Groot Kerk op Graaff-Reinet, skryf: “Ek onthou die skraal skooldogter by ons aan huis as skoolmaat van ons dogter. Liezel was die verpersoonliking van ‘n positiewe, opgewekte, energieke, sosiale en intelligente skepping van ons Heer. In haar ouerhuis is die fondasie gelê van ‘n ware verbondshuis, sodat sy met hierdie fondament die bediening kon betree. Henk was ouderling in ons gemeente en hy en Salome was baie betrokke in die kerklike lewe en gemeenskap— twee staatmakers! Liezel se twee jonger sussies was ‘n tweeling, ook goeie afdrukke van hierdie gesinslewe.” Ds Louis Venter van die Nuwekerk, beskryf die gesin as “Bybels-gelowige belydende Christene”, mooi mense en ‘n aanwins vir Graaff-Reinet.

Liezel was baie betrokke by die SKJA op Graaff-Reinet, ‘n aksie van albei gemeentes, waar sy in 2000 met toestemming van die kerkraad belydenis van geloof aflê in die NG Nuwekerk onder leiding van ds Louis Venter. Sy voel geroepe om predikant te word en begin studeer aan die UOVS in Bloemfontein. Na ‘n tyd onderbreek sy haar studie om te trou met Werner de Jager, waarna hulle twee jaar lank oorsee gaan werk. Met hulle terugkeer, hervat Liezel haar studie om predikant te word. Ds Louis Venter skryf ‘n verslag oor Liezel aan die Fakulteit Teologie in Bloemfontein, waarin hy sterk woorde gebruik soos voorbeeldig, beginselvas, kerklik betrokke, getrou en iemand met inbors en ‘n ware leier. Hy skryf oor haar geskiktheid vir die evangeliebediening: “Liezel sal uitstekend slaag as ‘n gemeentedominee en besit al die gawes, talente en vermoëns en onderskeidingsvermoë om suksesvol te wees.”

Nadat Liezel in 2001 aan die Hoër Volkskool in Graaff-Reinet matrikuleer, studeer sy teologie aan die Teologiese Fakulteit in Bloemfontein en doen in 2009 haar gemeentejaar in die NG Ge-meente Fichardtpark in Bloemfontein. Hier raak sy die harte en lewens van mense aan en daar is groot waarde-ring vir haar werksvermoë. Sy is goed teologies geskool met ‘n honneursgraad en ‘n meestersgraad in Teologie. Haar skripsie handel oor “Verkennende pastorale ondersoek na die effek van pornografie op kinders”. Liezel se belangstellingsveld is gesinsbediening, bejaardesorg en pastoraat. Op 17 November 2009 word Liezel in die NG Studentekerk langs die kampus as proponent gelegitimeer.

Prop SL de Jager word op 5 Junie 2010 in die NG Gemeente Kanoneiland ontvang en met handoplegging bevestig deur prof Kobus Kellerman. Hy skryf: “Ek was as brugpredikant betrokke by die gemeente wat op die stadium sonder leraar was en erg verdeeld oor sekere sake. My opdrag was om die gemeente te lei tot eenheid en die pad oop te maak vir die beroeping van ‘n leraar. Na vele besoeke en gesprekke was die gemeente gereed om te beroep. Die aansoek van proponent Liezel de Jager van Bloemfontein was een van die wat voor die kerkraad gedien het. Die keuse het op haar geval en ‘n onderhoud is per Skype met haar gevoer waar sy ‘n goeie indruk gemaak het. By die kerkraadsvergadering is sy eenparig beroep, wat sy aanvaar het, na ‘n gemeente waar groot uitdagings op hierdie jong vrou gewag het.”

Na nege jaar waarin ds Liezel de Jager die gemeente Kanoneiland met haar hele hart en wese gedien het, aan-vaar sy ‘n beroep na die NG Gemeente Suidkus in Amanzimtoti. Die mense van Kanoneiland was hartseer en wou haar nie verloor nie. Sy word op 7 Julie 2019 bevestig in die groot gemeente aan die Natalse Suidkus as kollega van ds Marius Schoombie. Haar dienstyd eindig tragies toe ds Liezel de Jager (38) die oggend van 13 Oktober 2021 vermoor word en haar lyk langs die pastorie gevind word. Haar man Werner de Jager en hulle twee dogtertjies Ila en Lané, was in die pastorie tydens die hartseer gebeurtenis.

Na ds Liezel de Jager se dood is haar lewensbeeld deur die twee gemeentes wat sy bedien het, in herinnering geroep. In 2009 te Kanoneiland bevind die 27-jarige ds Liezel de Jager haar in ‘n boeregemeenskap, waar sy eiesoortige probleme hanteer en oplos. Ds Liezel se borrelende en warm persoonlikheid, gevul met arbeidsvreugde en energie, het ‘n groot verskil gemaak op voetsoolvlak. Sy het met liefde en opregtheid ‘n verskil gemaak en probleme hanteer. Ds Liezel kon moeilike situasies op ‘n dinamiese wyse ontlont, sonder om kant te kies. Maar as sy konflik nie kon vermy nie, het sy die bul by die horings gepak en ‘n netelige krisis in die gemeente is altyd met liefdevolle begrip suksesvol hanteer.

Toe die nuus oor haar moord op 13 Oktober 2021 bekend word, was die land verslae van haar eerste gemeente Kanoneiland, naby Upington af tot by Amanzimtoti. Almal wat ‘n pad met haar geloop en haar menswees geken het, was sprakeloos en verstar oor die wrede einde van ds Liezel, iemand wat met soveel passie en vreugde geleef het. ‘n Herinneringsdiens word op 19 Oktober 2021 in die NG Gemeente Suidkus in Amanzimtoti gehou. Ds Marius Schoombie het gesê: “Ek het nooit in my wildste nagmerries gedink dat ek vandag hier gaan staan nie dat ons hier saam moet wees om afskeid te neem van iemand vir wie ons so lief is. Wat van ons weggevat is op so ‘n onregverdige en wrede manier.”

Ds Francois Maritz het namens die Sinode van KwaZulu-Natal sy meegevoel uitgespreek en vertel hoe ds Liezel de Jager nie net in Amanzimtoti ‘n groot impak gemaak het nie, maar haar denke was goed vir die streeksinode. “Jy laat ‘n groot leemte nie net in ons kerklike kringe nie, maar veral ook in ons hart.”

Die kerkgemeenskap van die kusdorp Amanzimtoti is tot stilstand geruk met die moord op ds Liezel de Jager. Met die afskeidsdiens was die werklikheid nog rou oor die angswekkende gebeure by die pastorie van die Suidkus-gemeente. In stilte voor die Here het elke kerkganger sy magtige teenwoordigheid beleef. Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Bl. 358)