De Jager, Johann Theobald Hatting

Ds. De Jager Johann

Gebore

19 Des. 1911

OORLEDE

4 Mei 1989

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1953

ORDEN

1954

STANDPLASE

1954 Fouriesburg

1960 Marandellas

EMIRITEER

Ds Johan Theobald Hattingh De Jager (19 Des. 1911-4 Mei 1989) is in die Bethlehemdistrik gebore. In 1931 verwerf hy ‘n Diploma in Landbou aan Glen in die Vrystaat en boer vir ‘n paar jaar in die distrik van Paul Roux. Die gesin verhuis in 1939 na die destydse Rhodesië waar hulle naby Salisbury boer. In 1947 voel Theo de Jager hom opnuut geroepe om hom as predikant te bekwaam en sê hy vaarwel aan die boerdery. Hy studeer aan die Potchefstroomse Universiteit vir Christelike Hoër Onderwys, Unisa en die Kweekskool, Stellenbosch en word in 1953 gelegitimeer. Sy eerste gemeente was Fouriesburg (1954-1960); Van 1960 tot 1966 bedien hy die gemeente Marandellas (Rhodesië) waarna hy Saakgelastigde van die Midde-Afrikaanse Sinode word tot met sy emeritaat in 1973. Hy sal onthou word vir sy boeiende prediking wat die evangelie op ‘n verstaanbare wyse vir oud en jonk oorgedra het. Hy was ‘n leier wat die gemeente kon motiveer tot daadwerklike getuienis. Die kerkbasaar van Marandellas was ‘n streekgebeurtenis en die arbeid onder die heidendom het geblom in sy bediening. Ds De Jager het veral aktief leiding geneem in die Afrikanergemeenskap in Rhodesië: hy was stigterslid en dien ook as voorsitter van die Genootskap van Rhodesiëse Afrikaners en het dikwels namens die kerk en die Afrikanergemeenskap met die regering, by wie hy hoë aansien geniet het, onderhandel. Hy was ook lid van die Sensorraad in Rhodesië. Hy was vaardig met die pen: het ‘n gereelde rubriek in die Afrikaanse koerant KERN in Rhodesië behartig en in 1988 het sy jeugherinneringe in die boek “Nuwejaarsvoëltjie” verskyn. Hy is op Hemelvaartdag oorlede en word oorleef deur sy eggenote, Helena Berthina Schoeman, en twee getroude kinders, Ena en Theo. (Jaarboek ).