Gebore
2 Nov. 1914
OORLEDE
18 Mei 1984
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1943
ORDEN
1944
STANDPLASE
1946 Brakpan-Suid
1948 Turffontein
1958 Gezina
1962 Gevangenisbearbeider, Tvl.
EMIRITEER
–
Ds Jacob (Jaap) De Jager (2 Nov. 1914 – 18 Mei 1984); wat tot sy aftrede in Mei 1983 vir 21 jaar die bekende en geliefde gevangenisleraar in Pretoria en omstreke was, het sy eerste lewensjare as plaasseun in Middelburg Tvl. deurgebring. Tot die uitbreek van die Engelse Oorlog het sy grootvader De Clerq wie se voornaam hy gedra het, die distrik in die distrik in die Volksraad van die ZAR verteenwoordig. In die mooi ou kerk van Middelburg waar hy gedoop is en belydenis afgelê het, lewer hy as hulpleraar in die gemeente sy eerste intreepreek en doop hy 61 jaar na sy eie doop ook sy eerste kleinseun! In 1937 gaan hy Stellenbosch toe waar hy na volbragte studie die proponentseksamen aflê om op 3 Des. 1943 saam met 17 ander kandidate in die Groote Kerk, Kaapstad gelegitimeer te word. Op 6 Mei 1944 volg sy bevestiging as leraar van Goedgegun, wat die verspreide lidmate in die hele Swaziland sowel as die in die suidoostelike punt van die Transvaal ingesluit het. In daardie “armste gemeente van die (Transvaalse) sinode” moet hy teen ‘n geringe vergoeding die mas probeer opkom, totdat hy vroeg Februarie 1946 leraar van Brakpan-Suid word. Daarna arbei hy nog in die groot stadsgemeente Turffontein (1948) waar hy tydens sy eerste huisbesoek 675 “onbekende” lidmate opspoor, en toe in Gezina (tans Rietfontein-Suid); Pretoria (1958); voordat hy in 1962 gevangenisleraar word. Voor die tyd verwerf hy met deeltydse studie eers die honneursgraad in maatskaplike werk (met lof) en toe ook die meestersgraad. Deur sy bediening heen het sy blymoedigheid en pragtige humorsin hom goed te staan gekom. Maar veral is sy omgang met die gevangenes deur ‘n Bybelse bewoënheid en ‘n egte deernis met die mens in nood gekenmerk. Nie alleen het hy dan ook by elke moontlike geleentheid vir ‘n beter begrip vir en groter belangstelling in die lot van die gevangene gepleit nie, maar steeds was dit sy ernstige strewe om die ongelukkiges na die Verlosser te lei. Daarom ook het hulle hom as ‘n ware vriend beskou – ‘n ongekunstelde mens wie se boodskappe altyd die eerste teks waaroor hy as gevangenisleraar gepreek het: `Kom na My toe, almal wat vermoeid en belas is’, onderstreep het.