Gebore
16 Febr. 1904
OORLEDE
3 Sept. 1980
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1930
ORDEN
1931
STANDPLASE
Boksburg (Hpr.)
1928 Goedemoed
1944 Reivilo
1948 Oudtshoorn
EMIRITEER
1969
Ds Daniel De Jager (*16 Febr. 1904 – +3 Sept. 1980) is op ‘n plaas in die distrik Reitz gebore. Hy lê die matriekeksamen op Bethlehem af en vertrek toe na Stellenbosch waar hy gradueer en daarna sy teologiese opleiding aan die Kweekskool ontvang. In die tyd vergesel hy ‘n aantal Angolaboere wat hy in antwoord op ‘n koerant-advertensie besoek het, na Suidwes-Afrika. Na die voltooiing van sy studie op Stellenbosch, studeer hy en wyle prof J J Milller saam aan die Vrye Universiteit in Amsterdam, voordat hulle 1930 ook saam gelegitimeer word. Sedert sy bevestiging op 26 Sept. 1931 as hulpprediker in Boksburg, staan hy daar aan die sy van die vermaarde ds J M Louw, totdat hy 1938 die eerste vaste leraar van Goedemoed, die vroeëre arbeidskolonie van die Vrystaatse Kerk, word. Meer as vyf jaar later gaan hy na Reivilo, waar hy ruim vier jaar lank bly voordat hy Julie 1948 die herderstaf in die groot gemeente Oudtshoorn in die Klein Karoo opneem. Hier arbei hy moedig en met vrug saam met sy eggenote (‘n dogter van wyle ds M G Potgieter); totdat sy hom slegs twee maande voor sy aftrede op 23 Nov. 1969 ontval. Tydens sy 21-jarige dienstyd saam met etlike medeleraars aldaar, word daar binne iets meer as ses jaar met sy aktiewe medewerking nie minder as vier gemeentes van Oudtshoorn afgestig nie. Terwyl sy kanselarbeid deur deeglike voorbereiding en erns gekenmerk is, het hy sy herderlike pligte getrou nagekom. Hy dien jare lank eers in die Sinodale Sendingkommissie en daarna in die SKDB. In sy omgang met mense was hy altyd hoflik en tegemoetkomend en teenoor sy vriende en kollegas lojaal. Na sy aftrede vestig hy hom in Pretoria, maar later woon hy en sy tweede eggenote (ook ‘n pastoriedogter) ‘n tyd op Kleinmond, voordat hulle na Pretoria terugkeer, waar hy op gevorderde leeftyd die tydelike met die ewige verwissel. (Jaarboek 1982/254).