De Clercq, Lodewyk

Ds. De Clercq Lodewyk

Gebore

16 Jun. 1921

OORLEDE

02 Aug. 2002

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1946

ORDEN

1947

STANDPLASE

Premiermyn

1951 Barberton

1957 Malelane

1961 Dundee

EMIRITEER

Ds Lodewyk De Clercq (BA, BD) 16 Jun. 1921 – 02 Aug. 2002

Lood de Clercq is op 16 Junie 1921 op Ermelo gebore. Sy vader was Jacob de Clercq, ‘n boer van Hendrina, en sy moeder was Martha Elizabeth de Jager, ‘n tuisteskepper. Lood het die Laerskool Hendrina bygewoon (1929-1936) en aan die Hoër- skool Ermelo (1937-1939) gematrikuleer.

Hy het sy teologiese opleiding aan die Universiteit van Pretoria ontvang, waar hy ‘ n inwoner van die manskoshuis Sonop was. Hy het die BA-graad in 1941 en BD in 1945 behaal. Sy BD-verhandeling het gegaan oor “Bidure in die Ned Geref Kerk in SA” en sy proponentsverhandeling het Kategetiek as tema gehad.

Hy is aan die einde van 1946 gelegitimeer en het kort daarna met Petronella Margaretha (Nel lie) Potgieter getrou. Hulle is met drie kinders geseën: Jacob (1950); Frederik Johannes en Lodewyk (1957); Frederik is egter as baba oorlede. Daar was in 1997 reeds ses kleinkinders.

Sy eerste gemeente was Premiermyn waar hy op 29 Maart 1949 georden en bevestig is. Vier jaar later is hy na Barberton beroep waar hy ‘n kerkbouprojek aangepak het. Ds De Clercq het ook in sy volgende gemeente, Malelane, gehelp met die bou van ‘n kerk en ‘n kerksaal. In 1961 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Dundee aanvaar en was hy voorsitter van die Geloftefeeskomitee.

Daarna het hy nog in die stadsgemeentes Bezuidenhoutsvallei in die Witwatersrand (1967) en Ontdekkers-Noord aan die Wes- Rand (1974) gearbei. In laasgenoemde gemeente was hy vir dertien jaar werksaam voordat hy op 65 geëmeriteer het.

Hy het ‘n besondere belangstelling in sending en evangelisasie gehad en in die Sinodale Sendingkommissie van Transvaal en die Sinodale Evangelisasiekommissie van Natal gedien. Hy het ook ‘n groot bydrae gelewer in die Sinodale Kommissie vir Bloedrivier.

Na sy aftrede het ds De Clerq-hulle hulle in Roodepoort gevestig waar hy betrokke was by pastorale hulp in die Roodepoortse Sentrum vir Bejaardes. Sy liefde vir hierdie taak en sy besondere deernis om met senior burgers te werk, het hom ‘n geliefde en minlike persoon by die sentrum gemaak. In 1998 moes hy ook tuig neerlê. Sedert 1997 het hulle in die Wilrow Park Aftreeoord gewoon. Verlede jaar moes ds De Clercq ‘n hartomleidings- operasie ondergaan. Op 2 Augustus2002 is hy weens longontsteking oorlede. Hy was 82 jaar oud.

Sy gemeentelede, sowel as sy huisgesin en vriende, sal sy warme hartlikheid onthou. Hy het sy roeping altyd met nederigheid uitgeleef.

Lood de Clercq was klein van postuur, maar groot in sy geestelike gestalte met ‘n onuitblusbare geesdrif vir die verheerliking van die Here. Sy lewensboodskap was een van toewyding, entoesiasme, pligsgetrouheid, sorgsaamheid en integriteit. Hy sal veral deur sy lidmate onthou word vir sy getroue huis- en siekebesoek, en bystand in tye van beproewing. Sy gebede was eenvoudig, kinderlik en opreg. Juis hierdie eenvoud en opregtheid het hom ‘n geliefde persoon in sy gemeentes gemaak.

( Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 01 Febr. 1997 ingevul het, en ‘n huldiging van sy vriend, oudl. Ben Strydom.) (Jaarboek ).