Gebore
9 Febr. 1957
OORLEDE
30 Mei 2011
UNIVERSITEIT
BA, BD
gelegitimeer
1981
ORDEN
1984
STANDPLASE
1984 Glaudina
1998 Debruinpark-Ermelo
2010 Klerksdorp La Hott.
EMIRITEER
–
Francois de Villiers Davel is op 9 Februarie 1957 in Benoni gebore. Sy vader, Johannes Christiaan Davel, was aanvanklik ‘n onderwyser en later dosent en marknavorser by Yskor. Sy moeder was Dahne de Villiers. Francois het in 1974 aan die Hoërskool Staatspresident CR Swart in Pretoria gematrikuleer. Hy was op skool voorsitter van die SKJA van die gemeente Waverley-Oos.
Aan die begin van 1975 het hy ingeskryf vir die graad BA (Admissie) aan die Universiteit Pretoria, en na die verkryging van die graad in 1977 het hy ‘n student geword aan die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan die Universiteit Pretoria, waar hy in 1980 die BD-graad behaal het. Sy skripsie titel vir die Lisensiaat in Teologie was: “Vormgewing aan die preek as hulp vir effektiewe kommunikasie”.
Prop F de V Davel is einde 1981 as proponent gelegitimeer en het daarna diensplig gedoen. Op 15 Desember 1984 is hy met Wilhelmina Christina Kotze getroud. Hulle het drie kinders: Christiaan (23); Wilhelm (21) en Hannelet (17); Hy is na die NG Gemeente Glaudina in die Wes-Transvaal beroep en is op 7 Januarie 1984 met handoplegging in die gemeente ontvang en bevestig. Die rede is gelewer deur ds AV Burger. Francois is met ‘n aorta-vernouing gebore, wat in 1990 tydens ‘n operasie herstel is. Daar was groot dankbaarheid oor ‘n kans om voort te gaan met sy dienswerk.
In 1998 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Debruinpark op Ermelo aanvaar, waar hy langer as ‘n dekade die Woord bedien en met mense meegeleef het. Hy was lief vir prediking en die kleingroep bediening was vir hom baie belangrik. In 2010 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Klerksdorp-La Hoff aanvaar, waar hy op 30 Mei 2011 oorlede is. In die tyd was sy vrou, Wilma, die orrelis van die gemeente. Dit was altyd ‘n besondere voorreg om saam met haar man deel te wees van die erediens.
Wilma skryf: “Francois was ‘n ongelooflike mens. Hy het altyd met God se wysheid en kalmte onder beheer van die Heilige Gees opgetree. Hy het ‘n diepe deernis en meelewing gehad met mense in nood. Hy was ‘n uitsonderlike prediker vir wie dit bo alles belangrik was om God se Woord in waarheid en met krag uit te dra. Hy was die hart van ons gesin en ‘n ongelooflike man en pa. Dwarsdeur sy lewe was hy baie lief vir fotografie en liggaamlike oefening. Hy het gereeld vroeg opgestaan om te gaan gym of vroeë-oggendfoto’s te neem. Ons is so dankbaar vir die voorreg om ons lewe met hom te kon deel. In die besonder sê ons dankie vir die gemeente van NG La Hoff, wat ons eie familie geword het.” ‘n Roudiens is op 2 Junie 2011 in die NG Gemeente Klerksdorp-La Hoff gehou. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek ).