Gebore
20 Jan. 1908
OORLEDE
9 Mei 1978
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1935
ORDEN
1936
STANDPLASE
Kroonstad (Hulpprediker.)
1938 Hennenman
1947 Luckhoff
1950 Reddersburg
1958 Derby
1961 Parys-Wes
EMIRITEER
1963
Ds. Jan Hendrik Adriaan Crous(20 Jan. 1908 – 9 Mei 1978) was ‘n seun van die Vrystaat en vyf van die ses gemeentes waarin hy gestaan het, was dan ook Vrystaatse gemeentes. Nadat hy op Kroonstad gematrikuleer het, gaan bekwaam hy hom vir die onderwys. In sy vierde studiejaar ontvang hy egter die duidelike roeping tot die evangeliebediening, volg die kursusaan die Teologiese Seminarie op Stellenbosch en is in 1933 gelegitimeer. Begin November 1936 volg sy bevestiging as hulpprediker in Kroonstad. Toe Hennenman twee jaar later van Kroonstad afstig, word die moedergemeente se hulpprediker die eerste leraar. Met onvermoeide ywer wy hy hom aan die opbou van die jong gemeente en mettertyd verrys daar ook ‘n kerkgebou. In 1947 aanvaar hy ‘n beroep na Luckhoff en 1950 gaan hy na Reddersburg, waar sy gesondheid na ‘n ernstige aanval van trombose sodanig verswak dat hy April 1953 uit die bediening moet tree. Hy herstel egter so mooi dat hy binne vyf jaar die herderstaf in die nuutgestigte gemeente Derby kan opneem. Ook hier word daar gou ‘n kerk gebou en die gemeente op ‘n vaste koers geplaas. Sedert April 1961 neem hy as die eerste leraar van Parys-Wes nog ‘n keer die leiding om die fondamente van ‘n nuwe gemeente te lê en reeds April 1962 word daar ‘n pragtige kerk in gebruik geneem. Vroeg die volgende jaar word hy deur verswakte gesondheid verplig om af te tree en gaan woon op sy plasie naby Hennenman. As toegewyde gelowige, beminlike mens en vurige prediker het hy met vrug meegewerk aan die bevordering nie alleen van die stoflike nie, maar veral ook van die geestelike heil van die gemeentes waarin hy gestaan het. (Jaarboek 1979/267).