Conradie, Willem Jacobus

 

Gebore

15 Jul. 1928

OORLEDE

22 Nov. 2008

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1953

ORDEN

1954

STANDPLASE

Fraserburg

1958 Rietbron

1962 Sandveld

1968 Nieuwoudtville

EMIRITEER

1982

Willem JacobusConradie is op 15 Julie 1928 op Robertson gebore, die jongste seun van Siebert en Rachel Conradie. Sy eerste lewensjare het hy op Klaasvoogds naby Robertson deurgebring, en daarna het die gesin na Riviersonderend verhuis, waar oupa Siebert ‘n smidswinkel bedryf het. Sy ambag was die maak van wawiele, maar vandag is die meubels wat hy gemaak het versamelstukke. Die gesin het uit nege kinders bestaan en daar was min geld, maar baie liefde. Op agtjarige ouderdom het Willie polio gekry, daarom was sy linkerbeen daarna effens korter en het hy mank geloop. Hy het aan die Hoërskool Riviersonderend gematrikuleer en het geroepe gevoel om sendeling te word. Sy ouer broers en susters het besluit om vir die onkoste in te staan en Willie het aan die Sendinginstituut op Wellington gaan studeer.

Willie was ‘n inwoner in die koshuis Samuel en is einde 1953 as sendeling gelegitimeer. Hy het onder meer beroepe na Port Nolloth en Somerset-Wes ontvang. Prop Willie Conradie is in 1954 met handoplegging bevestig as leraar van die NG Sendingkerk op Fraserburg in die Groot-Karoo. Die boere het gou geheg geraak aan die jong sendeling en in 1970 is hy terugberoep na Fraserburg, maar hy het die beroep bedank.

In die Karoo op Fraserburg het hy Ansie Mocke ontmoet, met wie hy op 18 Februarie 1956 in die huwelik getree het. Uit die huwelik is drie dogters gebore: Hannelie (1957); Ranel (1959) en Anneke (1961); Anneke is getroud met ds. HL Venter van die NG Gemeente Ottosdal-Suid en Ranel met ds WA Venter.

Op 10 Mei 1958 het hy sendeling van die NG Sendingkerk op Rietbron geword, ‘n gemeente tussen Willowmore en Prins Albert. Na drie gelukkige jare is hy einde 1962 in die NG Sendinggemeente Sandveld op Leipoldtville bevestig, ‘n vierkoppige gemeente met kerke op Leipoldtville, Redelinghuys, Elandsbaai en Graafwater. Anneke skryf: “In Pappa se tyd is ‘n kerk op Redelinghuys gebou en hy het self die kerkbanke gemaak. Ek onthou nog die stapels hout in ons garage. Pappa het in sy vrye tyd gehamer en getimmer. Mamma het weer konserte gehou om geld in te samel vir die kerkgebou. Mamma was baie kunstig en ek onthou al die reuse rangskikkings wat gereeld in kerke en sale gepryk het. Hy het ook ‘n kerksaal op Leipoldtville laat bou.”

Op 10 Februarie 1968 is Willie in die NG Gemeente Nieuwoudtville bevestig. Hy het in die gemeente gebly tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 1 Augustus 1982. Tydens sy bediening in die NG Sendingkerk het hy 38 beroepe bedank.

Maar daar was ook die pyn en hartseer toe Ansie Conradie op 30 Junie 1968 in die ouderdom van 29 jaar aan ‘n hartaanval oorlede is, en ds. Willie met drie dogters agtergebly het. Hannelie skryf: “Vir Pappa moes dit geweldig moeilik wees om ons drie dogters alleen groot te maak. Ek was skaars tien, Ranel agt en Anneke ses. Hy het ons in geloof groot gemaak en ek het hom baie keer op sy knieë langs sy bed gekry. Dan was sy antwoord: `Die Here help my om julle groot te maak.'” Ds. Willie het agt jaar lank sy dogters alleen grootgemaak, voordat hy op 19 Junie 1976 met Barbara Visagie getroud is. Hy het nie net ‘n vrou gekry nie, maar ook drie kinders: Hein (9); Sanette (8) en Wilmien. Anneke skryf uit Ottosdal: “Ons drie was al uit die huis en in die hoërskool. Uit die huwelik is Willem Jacobus Conradie op 27 Desember 1977 gebore. Pappa het altyd geglo dat hy soos Abraham van ouds ook nog ‘n seun sal hê. God het sy geloof nie beskaam nie. Hierdie seun was Pappa se trots en hy het uitstaande presteer. Hy was hoofseun en sportster op Hoërskool Calvinia.”

Op 1 Augustus 1982 het ds. Willie emeritaat aanvaar en hy en Barbara het hulle op haar plaas gaan vestig om te boer. Anneke skryf: “Hy het van die boerdery ook ‘n reuse sukses gemaak. Hy het baie vrugtebome op die plaas geplant en met omtrent duisend skape geboer. Hy het nog gereeld op Fraserburg, Williston, Calvinia en Carnarvon gepreek. Hulle het die laaste twee jaar weer op Nieuwoudtville gebly. Selfs met sy tagtigste verjaardag het ons heerlik saamgekuier. Sy helder verstand en fiksheid kon ons bewonder.”

Ds. Willie het kanker gekry en is op 22 November 2008 stil oorlede. Anneke skryf: “Hy was ‘n man van God. Sy wandel was altyd met God en almal wat sy pad gekruis het, kon getuig van sy nederigheid en geloof. Selfs die moeilike droogtejare op Gouna het hy met geloof geweet dat God water sal voorsien; al was dit drupsgewys uit die boorgat. Hy het ‘n wonderlike humorsin gehad en ons het heerlik gelag wanneer ons saamgekuier het.” Dr Gerdrie van der Merwe VDM Jaarboek (2013/393).