Conradie, Pieter

 

Gebore

24 Mei. 1932

OORLEDE

16 Sept. 2005

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1957

ORDEN

1958

STANDPLASE

Bantoesending (Ring van Hopetown)

1961 Lepelle

1975 NGK Marble Hall

EMIRITEER

1995

Pieter Conradie is op 24 Mei 1932 op Witbank gebore, waar sy ouers die Here as onderwysers gedien het. Hulle is Hoffie en Margery Conradie, twee dierbare kinders van die Here wat die kerk en gemeenskap dien. Pieter was die enigste seun en het nog twee susters, Annetjie en Betsie. Laasgenoemde is getroud met ds. Kosie Barnard van Pretoria. In Pieter se kinderjare woon hulle op ‘n plot buite Witbank waar Pieter van kindsbeen af hard moes werk. Sy vader het deeltyds ‘n melkery bedryf. Sy grootouers aan vaderskant is Pieter JacobusConradie en Aletta Elizabeth Haarhoff van Beaufort-Wes in die Groot Karoo. Een van sy vader se broers is die bekende ds. Willie Conradie, jare lank verbonde aan die CSV op Stellenbosch. Hierdie oom beteken vir Pieter baie tydens sy studiejare.

Pieter is vanaf 1938-1944 leerling aan die Laerskool Witbank en later aan die Hoërskool Witbank waar hy aan die einde van 1949 matrikuleer. Op skool het hy uitgeblink in atletiek en rugby en was ‘n staatmaker by die CSV op Witbank.

Pieter studeer aanvanklik in 1950 vir veearts in Pretoria, maar hy voel intens geroepe vir die evangeliebediening en begin met sy admissie aan die universiteit en is betrokke by die KJV van die NG Gemeente Hartbeesspruit in Pretoria. In 1954 word hy student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch, waar hy by sy oom, ds. Willie en Sarie Conradie, woon. Aan die einde van 1957 word hy as proponent gelegitimeer en voel geroepe om as sendeling te werk.

Op 15 Januarie 1958 word hy bevestig op Witbank om as sendeling in die Ring van Hopetown te werk, met standplaas Prieska waar hy baanbrekerswerk doen in die omstreke van die Grootrivier. Aan die begin van 1961 word hy herder en leraar in die NGKA Lapelle by die sendingstasie Matlala, waar hy tot 1975 baanbrekerswerk doen in Sekhukhuneland. Hy is betrokke by die bou van verskeie kerke op Apel, Mphaaneng en Leeuwfontein.

Ds. Pieter Conradie trou op 13 Januarie 1962 te Marble-Hall met Francina van der Schyff, ‘n verpleegkundige wat in die omgang bekend staan as Tokkie. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Nico Conradie, wat as ingenieur opgelei is, ‘n MBA verwerf en tans sy eie sakeonderneming op Nelspruit bedryf. Hy en Nita het twee seuns. Anne-Marie Conradie, is ‘n gewese onderwyser wat tans besig is met haar LLB. Sy is getroud met Paul de Kock, ‘n onderwyser van Tzaneen en hulle het twee kinders. Pieter Conradie is ‘n sakeman in Pretoria en is getroud met Joanne en hulle het twee seuns. Johan Conradie behaal die grade BSc-Landbou en MBA en is tans direkteur by Epol. Hy is getroud met Henriëtta, ‘n onderwyseres, en hulle het twee seuns.

Op 13 Januarie 1977 word ds. Pieter Conradie leraar van die NG Gemeente Marble-Hall, waar hy en sy vrou besondere werk verrig in die Here se diens. In die tyd werk hulle saam met ds. Pieter Grobler, ds. Adam Boshoff en ds. Andries Louw. Ds. Pieter Conradie word onthou as ‘n nederige mens, iemand wat hard kon werk en altyd klem op die sendingtaak gelê het. Hy was prakties aangelê en sy hande het vir niks verkeerd gestaan nie. Na iets meer as twee dekades in die gemeente en byna 34 jaar in die omgewing, aanvaar hy op 19 Februarie 1995 sy emeritaat weens swak gesondheid. Sy afskeid op Marble-Hall was baie swaar. Die kerkraad skryf: “Ds. Pieter Conradie se naam het sinoniem geword met die meeste huishoudings in Marble-Hall en omgewing. Klein en groot het hom lief en respekteer hom vir sy integriteit, beskeidenheid, vriendelikheid, hulpvaardigheid, oop gemoed, onwrikbaarheid en algehele toewyding in sy werk. Hoewel sy gesondheid die laaste paar jaar verswak het, het hy homself nie gespaar nie. Ons gun hom die geleentheid om te gaan rus.”

Hierna tree die egpaar op Naboomspruit af, waar hulle ‘n besondere tyd saam beleef. Hy restoureer hulle eie huis en maak baie van die meubels eiehandig. Hy het vreugde in sy tuin gevind en het graag eie plante gekweek en weggegee. Hy was kerklik meelewend en dien nege jaar lank as ouderling. Ds. Pieter het gereeld in die omliggende gemeentes gepreek en hulp plaaslik verleen waar dit benodig is. Tokkie skryf oor haar man: “Pieter se mees uitstaande kenmerke en karaktertrekke as mens was sy lojaliteit, humor, nederigheid, selfbeheersing, logiese denke, versiendheid en hardwerkendheid. Hy was ‘n ewige student en het gedurig gelees en aantekeninge gemaak en kon onderhoudend daaroor gesels. Hy het blokkiesraaisels ingevul om sy denke te stimuleer.” Sy geliefkoosde uitdrukking was: “Ek wil nie van my kop af verrot nie.”

Aan die einde van 2004 word hy siek en daarna het hy nooit weer herstel nie en was gedurig aan suurstof gekoppel. Hy sterf op 16 September 2005 en op eie versoek word ‘n lofsangdiens op 18 September 2005 gehou met Romeine 5 as teks. Die Woord word bedien deur ds. W Knipe. In sy biografiese vorm skryf ds. Pieter oor sy hoogste prioriteit: “Om maar net VDM te wees. Deo Gratia”. (Jaarboek 2007/362)