Conradie, Lourens Petrus

 

Gebore

12 Des. 1944

OORLEDE

26 Des. 2003

UNIVERSITEIT

B Comm, B Comm-honneurs, M Comm, BA, BTh, Lis-Teol

gelegitimeer

1982

ORDEN

1983

STANDPLASE

Burgerspark (nou Pretoria)

EMIRITEER

Lourens PetrusConradie is op 12 Desember 1944 op Lichtenburg gebore, ‘n boerseun van Syferpan by Coligny in die Wes-Transvaal. Loutjie, soos sy familie en vriende hom genoem het, was die naas oudste van vyf kinders. Sy ouers was Frikkie en Matty Conradie, ‘n nougesette en godsdienstige familie wat altyd ‘n voorbeeld in woord en daad was. Hy het sy skoolopleiding aan die Laerskool Burgersdorp en Lichtenburg (1951 tot 1958) ontvang, en aan die Hoërskool op Lichtenburg (1959-1963) gematrikuleer. As tiener het Loutjie belang gestel in sport en oor ‘n wye verskeidenheid onderwerpe gelees. Hy was lid van die leerlingraad en is ook as die skool se Victor Ludorum aangewys.

Loutjie het vroeg in sy lewe reeds belanggestel in die ekonomie en daarom het hy na matriek aan die Potchefstroomse Universiteit vir CHO gaan studeer. Hy het in 1967 die B Comm-graad behaal. Loutjie het uitgeblink in Ekonomie en Geld- en Bankwese, en ook die grade B Comm-honneurs en M Comm voltooi. Sy skripsie het gehandel oor “Die heffing van inkomstebelasting en die terugploeg van die opbrengs in die Tuislande”. Hierna het hy van 1963 tot 1975 verskeie bestuursposte in die bemarkings wêreld en bankwese beklee. Hy is op 4 Julie 1970 getroud met Gerda de Villiers, ‘n onderwyseres. Hulle het twee kinders, Amanda en Gerhard.

In die vroeë sewentigerjare het Loutjie die roepstem van die Here gehoor om predikant te word, en Loutjie het Grieks en Hebreeusaan die Puk gaan studeer om toelating tot teologiese opleiding te kry. Hierna het hy en sy vrou na Stellenbosch vertrek waar hy verdere opleiding aan die Fakulteit Teologie in die Eikestad ontvang het. Hy het in 1981 die B Th-graad ontvang en het aktief leiding geneem as lid van die teologiese studenteraad en klasprimariusin sy finalejaar. Hy het ook ‘n kursusin Kliniese Pastorale vorming by die Tygerberg-hospitaal voltooi en as ‘n geestelike werker by gevangenisse op Stellenbosch en Koelenhof opgetree. Aan die einde van 1982 het hy die Lisensiaat in Teologie behaal en is hy as proponent gelegitimeer, ‘n groot oomblik vir Loutjie wat ouer was as sy klasmaats.

Prop Lourens Conradie is op 14 Januarie 1983 in die NG Gemeente Burgerspark in Pretoria ontvang en met handoplegging bevestig. Die rede is gelewer deur prof Dawid de Villiers van die Kweekskool op Stellenbosch, voorheen ook leraar van die NG Gemeente Burgerspark in Pretoria. Lourens het ook beroepe ontvang na die gemeentes Harrismith, Victoria-Wes en Vanderbijlpark. Loutjie het baie in middestad bediening belang gestel en was betrokke by gesprekke oor die oorlewing van die gemeentes in die middestad van Pretoria. Hy het ook die Ring van Pretoria as skriba gedien en was voorsitter van die fondsekommissie. In 1989 het hy ‘n trombose-aanval oorleef – hy het sedert sy vroeë twintigerjare aan hipertensie gely. Weens rasionalisasie in die Ring van Pretoria en ernstige gesondheidsprobleme, het ds. Loutjie op 4 Junie 2000 demissie ontvang en sy emeritaat aanvaar.

Ds. Loutjie en Gerda Conradie het hulle daarna op die pragtige Vrystaatse dorp Senekal gevestig, waar hy gereeld dienste in die Ring van Lindley gehou en tot 30 Junie 2003 as skriba in die NG Gemeente Senekal gehelp het. Ses maande later, op 26 Desember 2003, het hy sonder enige waarskuwing as gevolg van ‘n hartstilstand gesterf. ‘n Roudiens is deur dr Nico Dicks in die NG Gemeente Senekal-Noord gehou. Ds. Loutjie is op die familieplaas, Syferpan, in die distrik Coligny begrawe.

Sy vrou Gerda skryf: “Lourens was ‘n baie haastige mens wat die lewenstempo maar net altyd kon aandraai, miskien omdat hy geweet het dat die tydjie tot sy beskikking maar kort was. Hy het baie hoë eise aan homself gestel, selfs toe hy siek was. Hy was baie stiptelik in die uitvoering van sy pligte. As hy iets gedoen het, was sy hart en siel daarin en het hy daarvan ‘n sukses probeer maak. Hy was ‘n ekstrovert wat nie gehuiwer het om sy mening te gee nie, veral waar dit oor godsdienstige sake gegaan het. Hy was ‘n ernstige mens met ‘n fyn humorsin met baie empatie vir sy medemens. Hulle het hom maklik in hulle vertroue geneem. Hy was ‘n plat-op-die-aarde mens, wat elke dag in afhanklikheid van sy Heer geleef het. Sy godsdiens en geloof was nie iets wat in die lug gehang het nie, maar ‘n realiteit. Wanneer daar teruggekyk word oor ‘n besonder ryk, vol en geseënde lewe, verdwyn die persoon en weet ‘n mens dit was al les maar net genade! Dit was ‘n besondere voorreg om saam met so ‘n lewensmaat en geesgenoot die pad te loop.” – Dr Gerdrie van der Merwe.(Jaarboek 2005/348).