Conradie, Jacobus Francois

 

Gebore

04 Febr. 1910

OORLEDE

26 Jul. 1995

UNIVERSITEIT

US

gelegitimeer

1935

ORDEN

1937

STANDPLASE

1937 Hopetown (Hpr.)

1939 Warrenton (Hpr.)

1941 Barkly-Wes (Hpr.)

1943 Kameelboom

1945 Stella

1949 Sondagsrivier-Suid

1962 Butterworth

1965 Cathcart

1980 Danielskuil

EMIRITEER

1978

Ds. Jacobus Francois Conradie 04 Febr. 1910 – 26 Jul. 1995

Kotie Conradie is op 14 Februarie 1913 gebore en gaan skool in die George-omgewing as een van ses kinders van ‘n skoolhoof. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Outeniqua op George en gaan daarna na die Universiteit van Stellenbosch, waar hy sy studies voltooi en in 1935 gelegitimeer word.

Hy is eers vir ‘n tydperk van ses jaar hulpprediker, in gemeentes, naamlik op Hopetown (vanaf 18 Des. 1937); op Warrenton (24 Jul. 1939) en Barkly-Wes (1941); Sy eerste gemeente, as geordende leraar, is Kameelboom (vanaf 24 Jul. 1943); Daarna volg Stella (06 Okt. 1945); Sondagsrivier-Suid (05 Febr. 1949); Butterworth (14 Jul. 1962) en Cathcart (30 Jan. 1965).

Ds. Conradie emeriteer twee keer. Die eerste keer was in 1978 te Cathcart. Daarna gaan doen hy nog eers hulpdiens in De Aar-Suid en help ook in die Ned Geref. Sendingkerk Gemeente Griekwastad. Hy help ook met afloswerk in die Ned Geref. Kerk in Afrika Gemeente Daniëlskuil en stel homself toe weer beroepbaar. Na die nodige goedkeuring word hy beroep en bevestig op 19 Apr. 1980. Hy emeriteer vir die tweede keer op 28 Februarie 1984.

Sy eerste huwelik was met Joan van der Westhuizen, maar sy is skielik en tragies oorlede en hy het met twee klein kinders agtergebly.

In 1956 tree hy weer in die huwelik naamlik met Rina Landman en hulle was 39 jaar lank gelukkig getroud. Hulle was ‘n voorbeeld vir almal met wie hulle in aanraking gekom het. Nog twee kinders is gebore. Een seun is tans professor in Semitiese Tale aan die Universiteit van die Noorde en ‘n ander seun, Johan is predikant op De Aar. Rina woon tans in Graaff- Reinet.

Wat uitstaan van sy lewe, is dat hy altyd student gebly het. Hy voltooi eers in 1979 sy Grieks III aan Unisa en bly ook op hoogte van sake met Hebreeus. Hy wou ook inskryf vir sy doktoraal en ʼn boek skryf oor `Die stem van God. Hy kon egter nie daarby uitkom nie. Tot met sy heengaan was hy egter besig met intensiewe studie van die Bybel. Sy stelling  was steeds dat die Woord homself verklaar.

Hy was ook baie lief vir sy groentetuin en het ook ‘n besondere voorliefde gehad vir die Suid-Afrikaanse geskiedenis.  Hy kon ure lank in besonderhede verhale waarmee ‘n mens nie elke dag te doen kry nie, vertel.

Hy was saggeaard, nederig en bemind, maar kon tog duidelik ontsteld raak as die Gereformeerde leer aangetas word. Hy was ‘n voorbidder en het gedurig vir sy gesin gebid. Daarvan was hulle altyd bewus.

Hy en sy eggenote het hulle uiteindelik op De Aar gaan vestig. Hoewel hy redelik gesond was, was hy ‘n jaar lank in die hospitaal en is ook op 26 Julie daar oorlede, toe hy 85 jaar oud was. – Ds.  Johan Esterhuysen, verwerk en aangevul deur DJ Viljoen. (Jaarboek 1997/266).