Conradie, Frederik Johannes

 

Gebore

23 Mrt. 1924

OORLEDE

2 Jul. 2010

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1949

ORDEN

1950

STANDPLASE

1950 Riversdal

1953 Bredasdorp

1956 Murray (De Doorns)

1961 Bellville-Wes

1964 Stellenbosch-Sentraal

1969 Durbanville

1973 Stellenbosch

EMIRITEER

1989

Ds. Derick Conradie (BA) 23 Mrt. 1924 – 2 Julie 2010

Frederick Johannes Conradie is op 23 Maart 1924 op Ceres gebore. Sy vader was ‘n onderwyser en dertig jaar lank skoolhoof van die Laerskool Gericke, iemand wat met sy lewe en wese kinders aangeraak en voorberei het vir die toekoms. Derick se moeder was saam met haar man hart en siel in die onderwys en ‘n onderwyseres op Wellington en Ceres. Hy skryf in 1996: “My kinderjare en skool jare het ek op Ceres deurgebring. Ons was ‘n baie gelukkige gesin wat dit as ‘n voorreg beskou het om te kon deel in die pragtige natuurskoon van Ceres.”

Derick het van kleins af geroepe gevoel vir die evangeliebediening. Na matriek het hy in 1941 na Stellenbosch vertrek, waar hy baie jare in diens van die Here deurgebring het. Hy het in 1944 die graad BA verwerf en in 1945 die graad Honneurs in Filosofie. Hierna was hy student aan die Teologiese Seminarium en hy is aan die einde van 1949 as proponent gelegitimeer.

Op 1 April 1950 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Riversdal ontvang en bevestig en na twee jaar is hy op 14 Junie 1952 as leraar van die NG Gemeente Bredasdorp bevestig. Hy onthou dit as ‘n besonder vredeliewende gemeente. Op 16 Junie 1956 het hy leraar van die NG Gemeente Murray op De Doorns geword. Hier is ‘n nuwe kerksaal gebou, wat na hom genoem is. Hy het De Doorns as ‘n welgestelde gemeenskap beleef wat ook gedeel het in die 1861-herlewing. In 1961 het hy leraar geword van die NG Gemeente Bellville-Wes, en in 1963 het hy na die NG Gemeente Stellenbosch-Sentraal (Studentekerk) verskuif, ‘n besondere dienstyd onder die studerende jeug in die Eikestad.

In 1969 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Durbanville aanvaar. In 1973 is ds. Derick Conradie na die NG Moedergemeente Stellenbosch beroep, waar hy met oorgawe gewerk het tot met die aanvaarding van sy emeritaat. Hulle het in die pastorie langs die Moederkerk oorkant die Kweekskool gewoon, ‘n huis waarin almal op Stellenbosch welkom was. Hy was jare lank voorsitter van die CSV se hoofbestuur op Stellenbosch, iemand wat op voetsoolvlak ‘n groot verskil in die lewe van jongmense en die studerende jeug gemaak het.

Op 23 April 1989 het ds. Derick Conradie emeritaat aanvaar en die egpaar het op Stellenbosch aangebly. Hy het sy geestelike talente en gawes met mense bly deel en betrokke geraak in die NG Gemeente Kuilsrivier-Digteby.

Ds. Derick is op 5 Januarie 1951 met Maria Dorothea (Dottie) Boshoff van Oudtshoorn getroud. Uit die huwelik is drie kinders gebore: Johann Conradie (leraar van die NG Gemeente Kempton park); Dorothea en Helena. Ds. Johan skryf: “Ons ouers is lank vir ons gespaar en het ons lewe sterk beïnvloed, naaste- en liefdesdiens was deel van ons leefwêreld. Deur die genade van die Here was daar geen ernstige siekte of rampe tydens hulle lewe nie.” Dottie is op 20 Julie 2009 oorlede en ds. Derick op 2 Julie 2010, die dag waarop Dottie tagtig jaar oud sou word. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2012/394).