Gebore
01 Jul. 1911
OORLEDE
29 Jun. 2006
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1943
ORDEN
1944
STANDPLASE
944 Oos-Randse Kampongs
1945 Ladybrand
1949 Lydenburg
1956 Vanderbijlpark
1968 Riebeeck-Wes
1976 Grasmere
EMIRITEER
1978
Christiaan Ernst Viljoen Combrink is op 1 Julie 1911 op die plaas Bosmanskraal in die distrik Hendrina gebore. Hy is op die dorp gedoop en het ook onder leiding van ds. JHM Stofberg belydenis van geloof afgelê. Sy ouers was Hendrik en Lenie Combrink, twee staatmakers in die NG Gemeente Hendrina. Ook Hendrik was ‘n stigterslid en iemand wat met sy lewe help skryf het aan die kerk- en dorps geskiedenis van Hendrina.
Christiaan het sy eerste skoolopleiding in die distrik ontvang, maar weens siekte sy skoolloopbaan onderbreek. Na ‘n jaar het hy sy skoolopleiding hervat en in 1928 aan die Hoërskool Middelburg (Transvaal) gematrikuleer. Hierna het hy op die plase Bosmanskraal en Birmingham in die distrik Hendrina geboer. In 1937, tydens die week van gebed op Hendrina, het Christiaan egter die roeping ontvang om voltyds vir die Here te gaan werk. Christiaan het gehoorsaam en in 1938 na Wellington vertrek. Hier het hy aan die Sending-Instituut op Wellington gestudeer en hy is aan die einde van 1943 as sendeling gelegitimeer. Hy is met Ria le Roux van Parys, ‘n maatskaplike werker, getroud. Uit hulle gelukkige huwelik is twee kinders, Rita en Hennie, gebore.
Eerwaarde Christiaan Combrink is op 26 Februarie 1944 as sendeling op Boksburg aan die Oos-Rand georden, die eerste “Strewers-sendingleraar in die Noorde”. In 1945 is hy na Ladybrand in die Oos-Vrystaat, op die grens van die destydse Basoetoland, beroep, waar hy diep spore in die sending getrap het. In 1949 het hy sendeling op Lydenburg in die Oos-Transvaal geword, waar hy vyf jaar lank die Here en gemeenskap as stadsraadslid gedien het. In 1956 het hy die eerste sendeling in Vanderbijlpark geword, waar hy as baanbreker die Woord van die Here bedien en die gebied se snelle ontwikkeling beleef het. In 1968 het sy pad na die NG Sendingkerk op Riebeek-Wes geloop, waar ‘n pragtige kerkgebou gebou is. Hy het ‘n mooi bediening onder die werkers gevestig en is hy deur die boerderygemeenskap aanvaar.
In die herfs van 1976 het hy na die Vaaldriehoek teruggekeer, hierdie keer as leraar van die Moederkerk, en later is hy bevestig in die NG Gemeente Spioenkop, in die suide van Johannesburg. Later het die gemeente se naam na Grasmere verander, waar ds. Christiaan tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 19 Maart 1978 gewerk het.
Die egpaar het hulle op Middelburg gevestig, waar hulle stigterslede van die Rolbalk1ub was en goed aangepas het. Ses maande na hulle aankoms is sy vrou skielik oorlede. Daarna is ds. Christiaan met Myra, weduwee van ds. Danie Barnardo van Koppies in die Noord-Vrystaat, getroud. Hulle het in 1984 na Hendrina verhuis, waar hy net soos sy vader vroeër ook in die kerkraad gedien en as predikant uitgehelp het.
In 2001 is Myra oorlede. Christiaan het 95 jaar oud geword en is op 29 Junie 2006 oorlede. Hy is op 10 Julie 2006 vanuit die NG Gemeente Hendrina begrawe, en ds. H Boshoff het die begrafnisniens gelei. Hy word oorleef deur sy dogter Rita en sy seun Hennie. (Jaarboek 2010/390).