Gebore
30 Sept. 1929
OORLEDE
10 Sept. 2007
UNIVERSITEIT
Lis Teol. (US)
gelegitimeer
1955
ORDEN
1956
STANDPLASE
1956 Kuilsrivier
1959 Napierville
1962 Pinetown kpln. SAP
1974 Pretoria- Polisiekollige en vanaf 1975 Kpln.-generaal SAP
EMIRITEER
1990
Christoffel Colyn is op 30 September 1929 in Parow gebore. Hy het sy skoolopleiding in Parow begin en in 1946 aan die Hoërskool JJ du Preez in Parow gematrikuleer. Hy was ‘n kranige Voortrekker en later ‘n offisier in die beweging. Aan die einde van sy matriekjaar het hy na aanleiding van Genesis 3:9 die roeping ontvang om predikant te word. Na matriek het hy twee jaar lank by Old Mutual in Kaapstad gewerk voordat hy in 1949 met sy admissiegraad aan die Universiteit van Kaapstad begin het.
Aan die begin van 1952 is hy as student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch toegelaat. Aan die einde van 1955 is hy as proponent gelegitimeer en op 28 April 1956 is hy met handoplegging in die NG Moedergemeente Kuilsrivier bevestig, waar hy drie jaar lank gedien het. Hy skryf oor sy eerste nagmaal: “Toe ek die m6re in hierdie pragtige, vol kerk op die preekstoel klim en die ongelooflike gesig waameem van die gedekte kerk met sy wit tafeldoekies voor elke bank, het dit gevoel of ek nie net in die gees nie, maar in werklikheid met die Here Jesus aan tafel is.”
Hierna het sy pad na die NG Gemeente Napierville in Pietermaritzburg geloop, en in 1962 is hy in die NG Gemeente Pinetown bevestig. Daar het hy as 39-jarige geskiedenis gemaak toe hy as moderator van die Natalse Sinode gekies is.
Ds. Stoffel Colyn het op 29 Januarie 1955 met Lena Marais getroud, en uit die huwelik is drie kinders gebore: Anita, Christa en Pieter. Met sy afsterwe was daar ses kleinkinders.
Hy was ‘n geliefde oupa en ‘n storieverteller duisend.
In 1969 het hy die kans gekry om sy passie uit te leef toe hy SAP-kapelaan geword het, met standplaas Pietermaritzburg-Suid. Op 1 Mei 1974 is ds. Stoffel Colyn aangestel as kapelaan-generaal van die SAP in Pretoria. Hierdie besondere pos hy tot met sy aftrede op 31 Oktober 1990 beklee.
Kort na sy koms in Pretoria is hy verkies tot aktuarius van die Sinode van Noord-Transvaal, ‘n pos wat hy elfen ‘n halfjaar lank beklee het. Hy het ook in die Algemene Sinode se breë moderatuur, die kuratorium van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van Stellenbosch, die Kerkkantoorkommissie en die Algemene Sinode se Regskommissie gedien. Hy was voorsitter van die Maatskappy vir Immigrasie, streekvoorsitter van die FAK en lid van die hoofbestuur. By drie geleenthede was hy en sy vrou bevoorreg om die nasionale gebedsontbyt van die Amerikaanse president in Washington by te woon.
Die joernalis Neels Jackson skryf: “Ds. Stoffel Colyn het in 1986 ‘n storm ontketen toe die Algemene Sinode op sy voorstel ‘n besluit geneem het wat Islam as valse godsdiens’ bestempel het. In die 1980s het hy twee termyne in die Noord-Transvaalse moderatuur gedien. Prof Flip van der Watt, wat saam met hom in die Noord-Transvaalse moderatuur was, het gesê hy het ‘n geweldige knap brein gehad. ‘Hy was ‘n man duisend.’ Mev Lena Colyn, sy weduwee, het gesë haar man het lank aan ‘n hartkwaal gely. Verlede maand is leukemie by hom gediagnoseer en hy was in die Faerie Glen-hospitaal in Pretoria vir behandeling.” Hy is weens ‘n massiewe hartaanval oorlede.
Ds. Stoffel Colyn, die man met die kenmerkende waterpas kyk, is op Vrydag 14 Septem- ber 2007 vanuit die NG Gemeente Valleisig begrawe. Dii Christo van Rooyen en Tertius Erasmus het die Woord bedien, terwyl generaal Johan van der Merwe ‘n treffende huldeblyk namens oudlede van die SAP gelewer het. Sy begrafnisbrief lui: “Waardig het hy gelewe en met waardigheid het hy gesterf. Hy het sy roeping uitgeleef tot aan die einde. Die aand voordat hy gediagnoseer is met akute leukemie het hy nog deur sy telefoniesegebedsbediening vyf vriende onderskraag en totdat sy stem stil geword het, het hy steeds getuig teenoor elke hospitaalpersoneellid wat hom versorg het.”
Ds. Stoffel Colyn se gedig, “‘n Laaste Gebed”, se openingstrofe is:”As vandag my laaste dag sou wees, help my Heer, om so te leef dat ander mense rondom my ‘n brief van Christus in my lewe kan lees”. (Jaarboek 2009/384)