Gebore
3 Okt. 1921
OORLEDE
15 Jul. 2004
UNIVERSITEIT
, B.D., Drs.Phil.
gelegitimeer
1946
ORDEN
1947
STANDPLASE
1947 Livingstone
1948 Verkeerdevlei
1957 Kempton Park-Oos
1972 Randfontein-Noord (met opdrag sendingorganiseerder van die Ring van Roodepoort)
1973 Sekretaris van Antikom
1975 Swartruggens
EMIRITEER
1978
Charl Cilliers Colyn is op 3 Oktober 1921 naby Vredefort in die Vrystaat gebore, die oudste seun van vier kinders van Hendrik JacobusRenier Colijn en sy tweede vrou, Cecilia Johanna Botha. Die eerste Colijn kom in 1690 uit Parys (Frankryk) in Kaapstad aan, later is die Colijn-familie woonagtig in die omgewing van Montagu en verhuis in 1881 na Potchefstroom in die Zuid-Afrikaansche Republiek. Hier is Roelof PetrusColijn ‘n bekende inwoner van Klerksdorp en Hartebeesfontein omgewing en in die Tweede Vryheidsoorlog ‘n lyfwag van genl Cronje, krygsgevangene in Ceylon. Hy neem ook aan die Dorslandtrek.
Sy broer Hendrik JacobusReinier Colijn, later van die plaas Hercules in die distrik Vredefort, is die vader van ds. Charl Cilliers Colijn. Hy is vernoem na die bekende Charl Cilliers, wat deel was van die Gelofte wat voor die Slag van Bloedrivicr afgelê is. Sarel word op 16 Desember 1921 gedoop deur dr SJ du Toit (Totius); by die klipstapel op die geskiedkundige plaas “Dewetsdrift” in die omgewing van Vredefort, waar gereeld Geloftefees gehou word en die jong Sarel ook in 1938 deelneem aan die Simboliese Ossewatrek. In die kerklike dokumente word sy van Colyn gespel, terwyl sy kinders in hulle herinneringe die van Colijn spel – ons volstaan met die kerklike spelling.
Sarel ontvang sy Laerskool opleiding aan ‘n driemanskool op Reitzburg. Hy matrikuleer aan die Hoërskool Vredefort waar hy op akademiese- en sportgebied presteer. Hy is onder die tien toppresteerders in die Vrystaat en verwerf met sy matriekuitslae ‘n groot beurs om te gaan studeer. Sarel studeer in Potchefstroom aan die PU vir CHO waar hy die BA (Admissie) met lof behaal. Hierna loop die jongman se pad na Stellenbosch waar hy vier jaar lank studeer aan die Teologiese Seminarium in die Eikestad, waar hy op 25 Augustus1946 sy proefpreek onder leiding van prof EE van Rooyen hou. Aan die einde van 1946 word hy as proponent in die Groote Kerk in Kaapstad gelegitimeer. Tydens sy studentejare is hy in 1943 op die redaksie van “Die Matie” en is in 1945 sekretaris van “Polumnia”.
As jong proponent loop sy pad na die NG Gemeente Livingstone in Noord-Rhodesië (vandag Zambië); waar hy op 25 Januarie 1947 met handoplegging ontvang en bevestig word. Hy besoek sommige lidmate per trein omdat sommige buite bereik van paaie woon, ‘n gemeente wat geografies groter as die Oranje-Vrystaat is. In die verre noorde bereik ‘n roepstem hom as leraar van die NG Gemeente Verkeerdevlei, waar hy op 17 Oktober 1948 as herder en leraar bevestig word. In die tyd skryf hy as nagraadse student aan die UOVS in Bloemfontein in, waar hy die Honneurs en MA in Wysbegeerte behaal onder leiding van dr EA Venter. Op 10 November 1948 is hy op Theunissen ‘n stigterslid van die VCI-10, ‘n Vereeniging waarby hy geesdriftig betrokke bly tot met sy dood. Na sy terugkeer uit Nederland gee hy vanaf 1955-1957 skool op Reitzburg en aan die President Steynskool op Waterbron by Bloemfontein.
Op 6 September 1957 word hy leraar van die NG Gerneente Kempton Park-Oos, waar hy tot in 1972 die gemeente bedien. Die aanvoorwerk vir ‘n nuwe kerkgebou die inwyding daarvan na sy vertrek, asook die harde werk bring mee dat die gemeente finansieël op sy voete kom. Iemand het tereg geskryf dat die talle basaars en dosyne koeksisters, die skuld na 17 jaar help delg het. Op 1 Oktober 1973 aanvaar ds. Sarel Colyn ‘n aanstelling as voltydse sekretaris van Antikom. Dit maak die deur oop om te dien in verskeie kerklike kommissies van die NG Kerk, asook op die raad van die Publikasieraad, SA Matigheidsbond en op die Aksie Morele Standaarde. Ds. Sarel Colyn keer met sy bevestiging op 8 Februarie 1975 as leraar van die NG Gemeente Swartruggens terug tot die aktiewe gemeentebediening en werk daar tot met sy emeritaat in die winter van 1978 weens swak gesondheid.
Hierna vestig die egpaar hulle in 1978 op ‘n plasie naby Naboomspruit waar hy met Brahmane boer. Hy help ook sy seun wat ‘n boorkontrakteur is, want hy stel intens belang in die ondergrondse waterbronne van Suid-Afrika. In die tyd is hy ook ouderling in die gemeente op Naboomspruit. Ds. Sarel Colyn bly tot met sy dood student, in 1995 op 74-jari ge leeftyd ontvang hy die M Th-graad aan die Fakulteit Teologie aan die UOVS in Bloemfontein. Weens siekte en afsterwe kon hy nie sy doktorsgraad in Kerkreg onder leiding van prof Piet Strauss voltooi nie.
Charl of Sarel soos hy ook genoem is, is op 29 September 1945 met Cornelia Hendrika Christina Smit (Stienie) getroud, ‘n huishoudkundige van beroep. Uit die huwelik is die volgende kinders gebore: Hennie Colyn is op 8 Mei 1947 in Livingstone, Noord-Rhodesië (Zambië) gebore, hy trou met Lydia en is ‘n besigheidsman op Potgietersrus. Maxie is op 19 Oktober 1949 te Verkeerdevlei gebore. Sy behaal ‘n B.Sc-graad en is getroud met Leon van Rhyn, mediese dokter. Die gesin woon sedert 1993 in Nieu-Seeland. Cecilia Johanna is op 19 Deseinber 1951 ook op Verkeerdevlei gebore. Sy behaal die B.Sc-graad en is getroud met Erick van Zyl. In die herfs van 1953 word op Verkeerdevlei ‘n dogtertjie Christa gebore, sy sterf op 29 Desember 1955 weens ‘n ongeluk. Die Here voorsien weer met die geboorte van Martie op 12 April 1959 te Kempton Park. Sy het haar bekwaam as Wiskunde onderwyseres en is getroud met dr Kobie du Plessis, tans is hulle predikantspaar in Kanada.
In 1995 trek hulle na Minnebron by Brakpan, in die nabyheid van hulle dogter wie se man leraar in Dalpark is. Sedert Mei 2003 woon hulle in Centurion, waar hulle in ‘n tehuis vir verswakte bejaardes opgeneem word en hy op 15 Julie 2004 in die Unitas hospitaal sterf na ‘n moedige stryd van twee jaar weens maagkanker. Die begrafnisdiens vind op 21 Julie 2004 op Centurion plaas, waar sy vriend en promotor prof Piet Strauss ‘n diep treffende en wonderlik vertroostende roudiens hou. Slegs drie maande later sterf sy vrou op 19 Oktober 2004, merkwaardig genoeg op haar oudste dogter se verjaardag.
Volgens sy kinders was die Latynse uitdrukking, `Dum spiro spero’ (Solank ek asemhaal, hoop ek); ‘n kenmerk van hulle vader se lewe. Hy was ‘n bittereinder, wat altyd maar weer opgestaan en gehoop het, al het omstandighede hom soms platgeslaan. Sarel Colyn word deur sy kollegas onthou vir sy diepe insig en kennis in kerksake en die Woord van God, iemand met ‘n besondere intellek wat altyd besorg was oor die lot van die annes. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2006/366).