Coetzee, Petrus Stefanus Zacharias

 

Gebore

25 Des. 1885

OORLEDE

3 Sept. 1975

UNIVERSITEIT

BA (US); D.Th. (h.c) (US), D.Phil. (h.c.) (UOVS)

gelegitimeer

1915

ORDEN

1916

STANDPLASE

1916 Boshof (Hulpprediker.)

1916 Odendaalsrus

1920 Philippolis

1925 Edenburg

1934 Johannesburg

1945 Edenburg

1949 De Bloem

EMIRITEER

1966

Dr. Petrus Stefanus Zacharias (Oom Pietie) Coetzee (25 Des. 1885 – 3 Sept. 1975) het gedurende ruim ‘n halfeeu in die aktiewe bediening nie alleen in die Vrystaatse en Transvaalse Kerke baie diep spore getrap nie, maar ook in die breër kerklike lewe in ons land ‘n heel besondere plek ingeneem. Hy gaan op sy geboortedorp Boshof skool, totdat hy as 14-jarige penkop by ‘n Boerekommando aansluit. Na afloop van die Anglo-Boereoorlog 1902, ontvang hy sy verdere skoolonderrig op Franschhoek. Aan die ou Victoria-Kollege op Stellenbosch kry hy die graad BA en toe word hy wiskunde onderwyser eers op Reddersburg en daarna op Winburg, waar die latere staatspresident CR Swart een van sy matriekleerlinge is. In 1910 is hy op Stellenbosch terug en 1913 lê hy die proponentseksamen met lof af. Uit Europa waar hy vir verdere studie aan die Vrye Universiteit in Amsterdam is, moet hy weens die uitbreek van Wêreldoorlog I in 1914 na sy vaderland terugkeer. Eers dien hy Boshof (1915) as hulpprediker en daarna staan hy in die gemeentes Odendaalsrus (1916); Philippolis (1920); Edenburg (1925); Johannesburg (1934); Edenburg (1945) en De Bloem, van 1949 tot sy uittrede Februarie 1966. Sedert 1956 is hy drie keer moderator van die Vrystaatse Sinode, nadat hy jare vantevore al aktuarius en skriba van die Vrystaatse en later aktuarius van die Transvaalse Sinode was. In 1962 word hy ook assessor van die eerste Algemene Sinode. In al sy gemeentes speel hy ‘n leidende rol in kerklike en kulturele aangeleenthede en beywer hy hom vir die opvoeding en die opheffing van sy volksgenote ook deur die kerklike barmhartigheidsdiens. Aan die Rand dien hy in een stadium in 35 liggame en in die Vrystaat in talle sinodale kommissies. Tydens sy bediening in Johannesburg trek hy hom die lot van die minderbevoorregtes baie ernstig aan en dit is grotendeels deur sy toedoen dat die barmhartigheidswerk van ons Kerk daar op ‘n wetenskaplik georganiseerde grondslag geplaas word. Eweso kan die groot vordering wat die sending in die afgelope dekades in die Vrystaat gemaak het, in ‘n groot mate aan sy arbeid en invloed toegeskryf word. Vir sy groot werk vereer die Universiteit van Stellenbosch hom 1965 met ‘n D Th en 1966 volg die Universiteit van die OVS met ‘n D Phil. Van die groot geleenthede waar hy optree, is die inhuldiging van ons eerste twee staatspresidente in die historiese Tweetoringkerk van Bloemfontein. Na sy aftrede, sit hy sy geestelike werk voort in BIoemfontein se hospitale en sy wens om in die diens van sy Meester te sterf, word vervul deurdat hy enkele ure voor sy plotselinge heengaan tydens sy middagstapie, nog pasiënte in die Nasionate Hospitaal besoek het. (Jaarboek 1976).