Gebore
31 Jan. 1936
OORLEDE
1 Aug. 2011
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1961
ORDEN
1962
STANDPLASE
1962 Nuwerus
1966 Bonnievale
1971 NGK Vosburg asook NGKS Vosburg
1974 Douglas
1981 Prins Albert
EMIRITEER
1996
Matthys Magielse Coetzee is op 31 Januarie 1936 op Garies in Namakwaland gebore. Thys was van kleins af ‘n Namakwalander in murg en been, en die eienskappe van ‘n dorre en harde omgewing het die jong Thys aangespoor om net sy beste te lewer. Hy het grootgeword in ‘n ouerhuis waar die Here met oorgawe gedien is, en al die kinders uit die huis het diep spore as gelowiges getrap. Sy broer Hannes was in die onderwys en ‘n staatmaker van die CSV op Garies.
Van kindsbeen af het Thys geroepe gevoel om ‘n predikant te wees. Na matriek was daar nie genoeg geld nie en het hy eers ‘n jaar lank by die SA Spoorweë op Calvinia gewerk. ‘n Uitweg het gekom toe hy na die Sending-Instituut op Wellington vertrek het om as sendeling opgelei te word. Op Wellington was hy een van die “donkies”, ‘n eretitel vir die studente van hierdie instituut wat ‘n besondere rol in die NG Kerk gespeel het. In 1961 is hy en ses ander studente as sendelinge gelegitimeer, en na die NG Kerk se besluit het hy ook die titel van predikant gekry.
Ds. Thys is met Joyce Coetzee getroud, ‘n onderwyseres van Houtbaai naby Kaapstad. Sy was ‘n besondere predikantsvrou wat haar man met oorgawe bygestaan het. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Petrus, Stevie, Michiel en Marietjie. Petrusis aan kanker oorlede tydens die gesin se verblyf op Douglas.
Op 24 Februarie 1962 is Thys as sendeling op Nuwerusin Namakwaland bevestig. In 1966 het die gesin se pad na die Breë riviervallei geloop, waar Thys ‘n sendeling op Bonnievale geword het. Hier het hy ‘n besondere verhouding met die boere gehad en ‘n besondere verhouding met die Moederkerk opgebou. In 1971 het hy leraar van die NG Gemeente Vosburg in die Groot-Karoo geword, terwyl hy ook die Sendinggemeente bedien het. Na drie jaar het hy leraar van die NG Gemeente Douglas geword. Dit was ‘n besonder geseënde dienstyd in Douglas en die pastoriepaar het intens met die gemeente en gemeenskap meegeleef.
Hierna het die gesin se pad na die NG Gemeente Prins Albert geloop, waar hy op 7 Augustus1981 bevestig is. Die gemeente onthou ds. Thys as ‘n waardige predikant, iemand wat die regte kommentaar op ‘n saak kon lewer. Hier het ds. Thys op 31 Mei 1996 emeritaat aanvaar, waarna hy en sy vrou in hulle strandhuis op Reebok naby Klein-Brakrivier gaan aftree het.
Ds. Thys Coetzee het na sy aftrede by die gevangenis op Mosselbaai betrokke geraak, waar hy dienste gehou en ‘n weeklikse Bybelstudiegroep gelei het. Hy is op 1 Augustus2011 aan ‘n hartaanval oorlede en is op Hartenbos begrawe. Ds. Chris de Wet van die NG Gemeente Reebok het ‘n treffende begrafnisdiens gelei. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2012/393).