Gebore
–
OORLEDE
18 Nov. 1901
UNIVERSITEIT
BA, BD, MTh
gelegitimeer
1892
ORDEN
1893
STANDPLASE
Soutpansberg
1898 Wolmaransstad
EMIRITEER
–
Juist toen wij ter perse gingen kregen wij het beriebt dat de Wel-Eerw. Heer M. P. A. Coetzee jr., Predikant der Ned. Herv. of Gereformeerde Gemeente te Makwassie (Wolmaransstad); tegen het einde der maand November, 1901, te Klerksdorp overleden is. Verdere bijzonderheden zijn nog niet ontvangen. (Jaarboek 1902/)
In My Dopperdagboek skryf Morne van Rooyen as volg oor hom:
Burgersdorp se leraar bedank weens ernstige gemoedsbesware
In 1892 het die gemeente Burgersdorp ’n besonder ernstige terugslag ondervind, want in daardie jaar het sy predikant sedert 1883, ds. M.P.A. Coetsee jr., skielik sy verbinding met die Gereformeerde Kerk verbreek en oorgegaan na die Nederduitse Gereformeerde Kerk.
Op 2 Julie 1892 het die gemeente Nagmaal gevier en toe is besluit dat die eersvolgende kerkraadsvergadering gehou sou word op die eerste Vrydag in September. Die eerste Sondag ná hierdie Nagmaalsviering het ds. Coetsee tydens die môrediens bekendgemaak dat hy by die eersvolgende kerkraadsvergadering sy ontslag as predikant sou aanvra weens onoorkomelike gemoedsbesware wat hy dan aan die kerkraad sou meedeel.
Die Sondagaand ná die afkondiging het dit uit ’n berig in De Kerkbode geblyk dat ds. Coetsee, terwyl hy nog predikant was van die gemeente, aansoek gedoen het by die Nederduitse Gereformeerde Kerk om ’n colloquium doctum, dat die versoek toegestaan is en op 3 Augustus daardie jaar sou plaasvind.
(Volgens die WAT is ’n colloquium doctum: “Die mondelinge ondervraging (wat die proponentseksamen vervang) aangaande die goeie sedelike gedrag, die proefondervindelike genadewerking in die hart, die gehegtheid aan die kerkleer en die wetenskaplike bekwaamheid van iemand wat elders of deur ’n ander kerk gelegitimeer is, of van ’n predikant uit die kerkverband wat tydelik in ’n burgerlike betrekking gestaan het en hom weer beroepbaar wil stel.”)
Op 15 Julie het ds. Coetsee ’n brief aan die kerkraad gerig waarin hy sy amp neerlê en ook sy verbinding met die Gereformeerde kerk beëindig. Daaruit het geblyk dat hy weens ernstige, onoorkomelike gemoedsbesware bedank as herder en leraar van die Gereformeerde gemeente en dat met sy bedanking sy betrekking tot die Gereformeerde Kerk in die algemeen ophou.
In die brief word die gemoedsbesware nie genoem nie, maar word wel vermeld dat ds. Coetsee teen sy kerkraad en gemeente niks gehad het nie. Later het geblyk dat die besware eintlik gegaan het oor die bestaansreg van die Gereformeerde Kerk en dat ds. Coetsee gemeen het daar was geen rede meer dat die twee kerke apart sou bestaan nie.
In die gemeente Burgersdorp was geen ernstige beroeringe weens ds. Coetsee se bedanking nie. ’n Paar lidmate het sy voorbeeld gevolg, maar die gemeente het rustig voortgegaan veral nadat die vakature gevul is deurdat ds. L.P. Vorster die beroep daarheen aangeneem het.
Ds. Coetsee het van 1893 tot 1898 die NG Gemeente Zoutpansberg (Pietersburg) bedien en is daarna op hierdie dag op Wolmaransstad bevestig. Weens die Tweede Vryheidsoorlog is baie min bekend oor sy drie en ’n half jaar lange bediening in die gemeente. Dit was wel vir hom en sy gesin ’n baie moeilike tyd.
Kort ná sy aankoms moes hy Kaapstad toe gaan vir ’n operasie. Hy was erg terneergedruk maar ook diep gelowig, soos blyk uit ’n brief aan die kerkraad gedateer 22 Oktober 1898:
“Die Heere heeft zijn bedoelingen door mij op den weg van lijden te leide, moge zijn naam daardoor verheerlijkt worden!”
Ná ’n paar maande op Wolmaransstad het die onweerswolke van die Tweede Vryheidsoorlog oor die ZAR begin saampak. Die spoor van ellende en smart wat die oorlog gebring het, het Wolmaransstad nie misgeloop nie.
Toe die dorp op ’n keer deur die Engelse troepe beset is, het hulle die grootste deel van die skool, die pastorie en die kerk afgebrand sodat al die notuleboeke, doop- en lidmaatregisters verlore gegaan het. Ná dié verwoesting het die werksaamhede van die gemeente feitlik tot stilstand gekom. Ds. Coetsee was ’n malarialyer en die knellende omstandighede het sy gesondheid nog verder geknak.
Die Skotse sakeman en avonturier Thomas Leask meld dat hy ds. Coetsee tydens die oorlog op Klerksdorp teëgekom het toe hy te voet en in swak gesondheid daar aangekom het. Nie lank daarna nie, op 18 November 1901, is hy oorlede.