Coertze, Arie Gerhardus Oberholster

Ds.Coertse Arie

Gebore

11 Des. 1889

OORLEDE

8 Jul. 1980

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1913

ORDEN

1914

STANDPLASE

Strand

1916 Vryheid

1930 Kapelaan Robertshoogte

Voortrekkerhoogte

1947 Derdepoort

1951 Org. Sekr. Carfo

Derdepoort

EMIRITEER

1964

Ds. Arie GerhardusOberholster (Gert) Coertse (11 Des. 1889 – 8 Jul. 1980) was een van ons kerk se stoere en kleurryke baanbrekers wat steeds agting afgedwing het. Geestelik sterk en van ‘n forse liggaamsbou, het hy nagenoeg 64 jaar in die bediening gestaan: 16 jaar in sendinggemeentes, 16 jaar in die ou Unie-Verdedigingsmag, 16 jaar in die gemeente Derdepoort en in Carfo en toe nog 16 jaar na sy aftrede as hulp in verskeie gemeentes. Hy is in die distrik Hopetown gebore en ontvang sy opleiding as leraar aan die toenmalige Sendinginstituut op Wellington. In Desember 1913 saam met wyle eerw P P Joubert en ‘n paar onder later welbekende sendingleraars gelegitimeer, word hy 31 Jul. 1914 as leraar van die sendinggemeente Strand bevestig. Uit Wes-Kaapland gaan hy 1916 na Vryheid in NataI, waar hy 14 jaar ywerig voortwerk. As offisier in sy distrik se kommando kom hy by geleentheid op die destydse Robertshoogte en dit lei daartoe dat hy April 1930 as opvolger van wyle ds. John (Jackie) Adler die derde voltydse kapelaan van die Afrikaanse Kerke in die Verdedigingsmag word. Hier kon hy as’t ware vrye teuels aan sy baanbrekersmoed, ondernemingsgees en deursettingsvermoë gee. Deur die jare heen is hy dan ook die onvermoeide kampvegter om vir die kerk ‘n regmatige plek in ons Weermag te verseker en vir die veldpredikers (later kapelane genoem) ‘n hoër statusen beter diensvoorwaardes te verkry. September 1935 word hy en ‘n veldprediker van die Anglikaanse Kerk die eerste twee Staandemag-Kapelane. Met die oog op die afstigting van Voortrekkerhoogte soos die ou Robertshoogte later heet tot ‘n selfstandige gemeente, gee die Transvaalse Sinode van 1940 aan hom volle predikantstatusen agt dae na die amptelike stigting van die gemeente op 19 Jun. 1940, word hy as die eerste vaste leraar van Voortrekkerhoogte bevestig. Deur al die jare lê hy hom onverpoosd daarop toe om met die krag van sy persoonlikheid, met sy pen en met sy organisasievermoë die gemeente te bou. Hy beywer hom byvoorbeeld vir beter plekke waarin die mense kan saamkom; hy reël konserte, kooruitvoerings en kultuuraande en daarby gee hy besondere aandag aan ‘n goed georganiseerde Sondagskool sowel as aan sendingwerk. Verder bestee hy baie tyd aan hospitaalbesoekwerk. Selfs op geldelike gebied moes die gemeente nie agter staan nie. Begryplik is dit dusdat ‘n hoë militêre offisier hom by die 50ste verjaardagviering van sy toetrede tot die bediening “die grondlegger van die kerk in die Weermag” genoem het. Nog iets waarvoor hy onthou moet word, is die samestelling 1940 onder moeilike omstandighede van die bekende klein Leërsangbundel in beide amptelike tale. Oorspronklik vir gebruik deur die gevegsmagte in Wêreldoorlog II bedoel, word dit lange jare daarna nog handig in die Weermag gebruik. (Op die omslag van die boekie heet die samesteller daarvan “Senior Veldprediker, Unie-Magte”); Kort na sy uittrede as veldprediker word die “Order of die British Empire” vir sy uitstekende dienste aan hom toegeken. In 1947 aanvaar hy ‘n beroep na die gemeente Derdepoort wat pas die vorige jaar gestig is en waarvan baie lidmate toe in behoeftige omstandighede verkeer. Hier lê hy die grondslae van ‘n bediening ” waar Woorden daadverkondiging hand in hand gegaan het,” totdat hy 1951 die ywerige organiserende sekretaris van Carfo word. Vanaf 1958 totdat hy middel 1964 op 74-jarige leeftyd sy emeritaat aanvaar, staan hy weer in Derdepoort. Selfs na sy aftrede neem hy nog aktief aan die bediening in Wonderboom, Onderstepoort en Derdepoort deel, terwyl hy ook tot byna aan die einde van sy lang lewe nog steeds preekbeurte waarneem. (Jaarboek 1981/253).