Cloete, Frans Lodewyk

Gebore

27 Jun. 1922

OORLEDE

6 Jan. 1987

UNIVERSITEIT

BA, MA, BD (UP)

gelegitimeer

1947

ORDEN

1948

STANDPLASE

1948 Daspoort

1950 Amsterdam

1960 Hendrina

1964 Suidkus

1967 Newcastle

1970 Amsterdam

1978 Lyttelton

EMIRITEER

1984

Ds. Frans Lodewyk Cloete (27 Jun. 1922 – 6 Jan. 1987) was, soos ons in Ester 10:3 van Mordegai lees, “hoog in aansien . . . en gewild by al sy volksgenote; hy het hom vir die welvaart van sy mense beywer ” Hy groei op by Perdekop in die Volksrust-distrik, waar sy vader geboer het. Na die voltooiing van sy skoolloopbaan op Amsterdam en Volksrust, behaal hy die grade BA, MA en BD aan die Universiteit van Pretoria. Die onderwerp vir sy MA-tesis was: “‘n Kritiese Beskouing oor die Etiek van Albert Schweitzer”. As student was hy o.a. redakteur van die teologiese blad Deo Gloria en ook ondervoorsitter van die teologiese vereniging Deo Gloria. Na sy toelating tot die bediening op 27 Nov. 1947 word hy op 14 Febr. 1948 in Daspoort bevestig. In sy bediening van meer as twee jaar in Daspoort beywer hy hom vir ‘n nuwe kerkgebou en word die gemeentes Wonderboompoort en Booysen afgestig. Sy tweede gemeente was Amsterdam, waar hy op 26 Aug. 1950 bevestig word. Onder sy aansporing word daar ‘n sendingkerk op Amsterdam opgerig en hy beywer hom ook vir die totstandkoming van die Landbou-hoërskool. In 1960 aanvaar hy ‘n beroep na Hendrina waar hy op 25 Jun. 1960 bevestig word. Op 26 Jan. 1964 word hy op Suidkusbevestig. In hierdie gemeenskap beywer hy hom vir die totstandkoming van Afrikaanse skole en deur sy ywer word die terrein waarop Amanzimtoti se huidige kerk gebou is, aangekoop. Op 11 Febr. 1967 aanvaar hy diens in die groeiende nywerheidsdorp Newcastle. Met die intrapslag neem hy die leiding met die herstel van die geskiedkundige “kliphuis” langs die pastorie, sodat dit as kerksaal gebruik kon word. In hierdie tyd werk hy ook mee aan die ideaal om ‘n Afrikaanse universiteit in Natal te vestig en dien hy in die bestuur van die Greytown-kinderhuis. In Natal dien hy ook as skriba van die Jeugkommissie. Vanaf 19 Des. 1970 dien hy vir ‘n tweede termyn van sewe-en-‘n-half jaar in een van sy vorige gemeentes, Amsterdam. Sy bedieningsjare in sy laaste gemeente, Lyttelton, volgens sy skoonseun, ds. P.G. von Wielligh, in meer as een opsig ‘n hoogtepunt: “Die jare 1978 – 1984 was dan ook ‘n tyd van konsolidasie en afsluiting na ‘n vrugbare diens in die Koningkryk van die Here, na bykans 37 jaar.” Dit was hier waar hy saam met sy medeleraar die gemeente se droom kon verwesenlik van die oprigting van ‘n ruim jeugsentrum en kategeselokale. Verwoerdburgstad het intussen soos ‘n paddastoel gegroei en dit het nuwe eise en intensiewe beplanning geverg. Op 29 September 1984 het ds. Cloete die tuig neergelê en keer hy terug na Perdekop, waar hy opgegroei het. Ds. Cloete se eggenote was Martha Sophia Kolbe Terblanche en daar is vier kinders uit die huwelik gebore. (Jaarboek 1988).