Gebore
25 Jul. 1918
OORLEDE
30 Jun. 2001
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1944
ORDEN
1945
STANDPLASE
1946 Waterford
1949 Molteno
1952 Port Elizabeth
1953 Noordeinde (P.E.)
1958 Oos-Londen
1961 Organiserende Sendingsekretaris, Kaapland
1963 Sidwell
1965 Silverton
1968 Port Elizabeth-Sonheuwels
1970 Port Elizabeth-Westering
1974 Predikant in Sin. diens met opdrag Sending Oos-Kaapland
EMIRITEER
1983
Ds. KobusClaassen het sy hele lewe aan sending gewy. Hoewel hy ook ‘n kenner van die kerkreg was, was die sending sy besondere liefde en is hy twee keer in sinodale poste vir sending benoem.
Hy was ‘n baie bekende in die kerk en het oral gesag afgedwing. Hy was ‘n gawe van die Here aan sy gesin, aan die NG Kerk en veral aan die sending van die Oos-Kaap. Ons eer en dank die Koning van die kerk vir hierdie besondere dienskneg van Hom.
KobusClaassen is op 25 Julie 1918 op Kirkwood gebore. Sy vader, Johannes TheodorusHermanusClaassen, was ‘n boer en sy moeder was Elizabeth Maria van der Westhuizen. Hy het sy hele skoolopleiding op Kirkwood ontvang (laerskool 1922 tot 1932 en hoërskool 1933 tot 1937); In hierdie tyd was hy baie betrokke by die CSV. Na matriek het hy op Stellenbosch gaan studeer (1938 tot 1944) en die BA-graad en die Teologiese Diploma voltooi. As student het hy rugby gespeel en Sondagmiddae saam met ander studente sendingwerk gedoen. Hy is in 1944 gelegitimeer.
In 1945 het hy met Frieda Augusta Vermaak getrou. Hulle het twee kinders, Amanda (‘n onderwyseres) en Johannes Jacobus(‘n advokaat); Daar is ook twee kleinkinders.
Ds. Claassen se eerste beroep was in 1945 na Calvinia. Daarna volg nog vyf gemeentes, Waterford (1946); Molteno (1949); Port Elizabeth (1952); Noordeinde in Port Elizabeth (1953) en Oos-Londen (1958); In 1961 is hy benoem as “organiserende sendingsekretaris” van die Sinode van Kaapland (1961); Hy was egter net twee jaar in die pos voor hy ‘n beroep na Sidwell in Port Elizabeth aanvaar het.
Vyf jaar later het hy vir twee jaar na Silverton in die Transvaal geskuif (1968); maar na twee jaar het hy weer teruggeskuif na die Oos-Kaapse gemeente Port Elizabeth Sonheuwels (1968); In 1970 het hy ‘n beroep aanvaar na Port Elizabeth-Westerling. In 1974 is hy deur Oos-Kaapse Sinode benoem as predikant in sinodale diens met opdrag sending. In hierdie pos het hy vir tien jaar waardevolle diens gelewer totdat hy in 1984 emeritaat aanvaar het. Ds. Claassen en sy vrou het daarna in Jeffreysbaai gaan woon.
Hoewel hy nooit self in die sendingveld diens gedoen het nie, was sendelinge altyd verras oor hoe goed hy hulle leefsomstandighede en behoeftes verstaan het. Onder die personeel was hy geliefd en is sy leiding en oordeel met waardering aanvaar. Hy was ‘n waardige verteenwoordiger van die “moederkerk” by al die lidmate van die “dogterkerke”. Die sendelinge en leraars het hom “as een van ons” beleef.
In die algemene kerkwerk het hy in belangrike kommissies gedien. Behalwe die sendingkommissie waarin hy gedien het, was hy ook ‘n lid van die Sinodale Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid en die Algemene Kommissie vir die Diens van Barmhartigheid, daarby was hy ook ‘n lid van die Sinodale Regskommissie, sowel as die Algemene Regskommissie.
Ds. Claassen was die laaste sowat nege maande van sy lewe in die siekeboeg van die aftreeoord Jeffreysrus. Hy het geleidelik verswak. Op 30 Junie 2001 het hy sag heengegaan.
Mej Willemien Appel wat jare lank sekretaresse in die Oos-Kaapse kerkkantoor was, skryf in haar huldiging oor hom: “KobusClaassen was ‘n man wat deur God begenadig was om in baie gemeentes te dien. Maar hy was vir groter verantwoordelikheid in Oos-Kaapland geoormerk. Nie alleen was hy vir tien jaar die eerste aktuariusvan die sinode sedert 1973 nie, maar as predikant in sinodale diens met opdrag sending, het hy die destydse Transkei en Ciskei platgery om alle sendingpersoneel te besoek, te bemoedig, probleme uit te stryk en saam te droom en te beplan oor wyer en dieper vestiging van die werk. Baie kere het tannie Gussie saamgegaan en tyd met die personeel deurgebring waarvoor hulle groot waardering gehad het. Dikwels egter moes sy agterbly om hulle twee kinders, Amanda en Hannes, te versorg.”
Ons onthou sy kragtige prediking en roerende gebede. Die wêreld waarin hy geleef en gewerk het, het vinnig verander.
In sy meer as 82 jaar het baie patrone en tradisies rondom hom verskuif. Hy het egter onwrikbaar vasgehou aan die krag van gebed en moedig bly glo in God se wonderwerkende Gees in en deur die kerk, ook in die lange jare van geleidelike agteruitgang en uitmergelende siekte. Hy en Gussie is deur die Here begenadig om 55 jaar mekaar aan te vul; deur dik en dun. Ons eer sy voorbeeld en gedagtenis. (Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 27 Jan. 1997 ingevul het, ‘n gesprek met sy eggenote, ‘n huldeblyk van mej W Appel en van ds. Dawie Conradie.)