Claasen, Johannes Petrus

Ds.Claassen Johannes

Gebore

3 Jul. 1926

OORLEDE

25 Okt. 2010

UNIVERSITEIT

BA, DTh, D Litt et Phil

gelegitimeer

1952

ORDEN

1956

STANDPLASE

1956 Schweizer-Reneke

1960 Coligny

1964 Queenswood

1976 Predikant vir leer- en aktuele sake Sinodes Wes en N-Tvl

1977 Snr lektor Univ van die Noorde

1981 Prof Kerkgeskiedenis Univ van die Noorde

EMIRITEER

1987

Prof Pieter Claasen (BA Honneurs, DTh, DLitt) 3 Julie 1926 – 25 Oktober 2010

Johannes Petrus Claasen is op 3 Julie 1926 op Indwe in die omgewing van die Stormberge gebore. Sy pa was Johan Wilhelm Claasen, ʼn masjinis by die Suid-Afrikaanse Spoorweë en Hawens, en sy moeder Maria Elizabeth Barnard. Hy het sy skoolopleiding in 1933 op Indwe begin. Later het sy ouers na Burgersdorp getrek, waar hy in 1943 aan die hoërskool op die dorp gematrikuleer het.

Pieter het geroepe gevoel om predikant te word en het in 1944 en 1945 in die plaaslike tak van Volkskas gewerk om studiegeld bymekaar te maak. Nadat hy lenings aangebied is, het hy in 1946 na die Universiteit Stellenbosch vertrek, waar hy in 1948 die graad BA (Admissie) behaal het. In die Kweekskool het hy in die Kweekskoolkoor gesing en in tennis en tafeltennis uitgeblink.

Aan die einde van 1952 is Pieter as proponent gelegitimeer en het hy daarna in Oranjemund en Luderitz as predikant afgelos. Die naweek van 21 Januarie 1956 is hy in die NG Gemeente Schweizer-Reneke ontvang en bevestig. Hierna het sy bedieningspad na die NG Gemeente Coligny geloop, waar hy op 29 Oktober 1960 bevestig is. In sy dienstyd is die halfeeufees van die gemeente (die naweek van 13 Mei 1964) gevier. Op 26 Julie 1964 het hy leraar van die NG Gemeente Queenswood in Pretoria geword, waar hy in 1973 met die tienjarige feesviering ‘n feesboekie uitgegee het.

Op 17 Mei 1976 het ‘n nuwe draai op sy pad gekom toe hy sekretaris geword het van Leer en Aktuele Sake van Wes- en Noord-Transvaal. Later die jaar is hy beroep as senior lektor in Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van die Noorde, ‘n pos wat hy vanaf 1 Januarie 1977 beklee het. Sy vrou Louise skryf: “In 1981 is hy bevorder tot professor in dieselfde departement aan die Universiteit van die Noorde. Daar was baie onrus in daardie stadium en die studente het geboue afgebrand en kos uit die kombuise is oral op die kampus uitgegooi. Die dosente moes snags wagstaan. Dit was moeilike jare, maar Pieter het ‘n goeie verhouding met die studente gehad.”

Hy het baie van navorsing en skryf gehou, en twee doktorsgrade behaal. Die eerste in 1973 aan die Fakulteit Teologie aan die Universiteit Stellenbosch met die proefskrif: “Die Sieketroosters in Suid-Afrika. 1652-1866.” ‘n Tweede het in 1986 aan die Universiteit van Suid-Afrika gevolg, met die proefskrif: “Die Kaapse Kerk in die oorgangstyd. 1780-1824.” Hy het ook ‘n boek geskryf oor die Jerusalemgangers en ‘n handboek vir Tsjeggo-Slowaakse immigrante wat Afrikaans wil leer. Pieter was ‘n baie talentvolle man wat alles in die lewe probeer het. Hy het gedig, goed gesing, en kon ses tale vlot praat: Afrikaans, Engels, Duits, Frans, Tsjeggies en Italiaans.

Pieter en Louise Claasen was 56 jaar getroud en uit die huwelik is drie seuns gebore. Die oudste was Johan, wat soos sy pa predikant en professor in Kerkgeskiedenis geword het. Johan is in 1994 skielik op 39-jarige ouderdom in sy slaap aan ‘n aneurisme oorlede.

Hulle verwerk die dood van hulle belowende seun swaar, maar hulle aanvaarding en vertroue op die Here bemoedig ander mense. Prof Pieter Claasen het self met sy gesondheid gesukkel. Sy vrou Louise skryf: “Pieter het na ‘n lang geskiedenis van hartomleidings en stente op 61-jarige ouderdom afgetree as professor in Kerkgeskiedenis en dekaan van die Fakulteit Teologie aan die Universiteit van die Noorde. Maar die Here het beskik dat hy 84 jaar oud geword het.” Die egpaar het saam in ‘n aftreeoord in die Strand gewoon, waar Pieter op 25 Oktober 2010 oorlede is.” – Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2013/392).