Cilliers, Lambertus Marthinus

Ds. Cilliers Lambertus

 

Gebore

21 Nov. 1911

OORLEDE

27 Febr. 1996

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1937

ORDEN

1940

STANDPLASE

Bloemfontein-Wes (Hpr.)

1942 Bothasrus

1947 Meyerton

1959 Dwaalboom

1962 Allanridge

EMIRITEER

1976

Bertie Cilliers is op 21 November 1911 op Wepener in die Vrystaat as die jongste van nege kinders gebore. Hy woon die laerskool op Shannon by en gaan na die hoërskool op Edenburg, waar sy oud- ste broer onderwyser was. Hierdie broer betaal ook vir sy studies van drie jaar aan die Universiteit van die Vrystaat (BA-Admissie) en vier jaar aan die Teologiese Kweekskool op Stellenbosch, waar hy in 1936 as predikant afstudeer. Hy word in 1937 gelegitimeer.

Na sy studies tree hy op as sekretaris van die destydse Strewersvereniging en reis deur die hele land en die destydse Suidwes-Afrika. Op Hofmeyr ontmoet hy die orreliste, mej Hennie Hough, en hulle trou op 9 Januarie 1939.

Aanvanldik is hy hulpprediker in Bloemfontein en bier doen hy veral besoeke aan die hospitaal en ander inrigtings. Hulle seun, Pieter, word daar gebore.

Sy eerste gemeente is Bothasrus(Despatch) waar hy op 21 Maart 1942 bevestig word. Die nuwe kerkgebou daar word onder sy leiding in 1947 ingewy. Die dogters Hendrien, Elsabe en Laetitia word daar gebore.

Op 8 November 1947 word hy in Meyerton bevestig. Die gemeente bestaan in daardie stadium uit ses klein dorpies, naamlik Henley-on Klip, Kookfontein, Daleside, Rothdene, Kliprivier en Meyerton. Gevolglik word drie kerksale na ‘n paar jaar van sy bediening gebou, een vir elke twee dorpies, wat dan ook later afgestig het as volwaardige gemeentes.

Na ‘n bediening van twaalf jaar word hy beroep na die gemeente Dwaalboom. In hierdie uitgestrekte bosveldgemeente word maandeliks dienste op drie verskil- lende plekke gehou en word die draagbare orreltjie waarop mev Cilliers as orreliste speel, elke keer saamgery.

Sy laaste gemeente is Allanridge in die Vrystaat waar by op 8 Desember 1962, bevestig word. Na drie jaar van sy bediening daar word ‘n nuwe kerkgebou in gebruik geneem en later ook ‘n nuwe pastorie.

Na al hierdie pionierswerk en die talle bouprojekte wat hy onder neem het, tree hy op 16 November 1976 na ‘n dienstyd van 39 jaar af. Hulle gaan vestig hulle eers op Gordonsbaai vanwaar hy vir tien jaar afloswerk doen in vier gemeentes, naamlik Calitzdorp, Fraserburg, Bredasdorp en Napier. Dwarsdeur sy bediening tree sy vrou as orreliste op.

Hulle is bevoorreg om daarna vir nog tien jaar saam te wees en woon in Huis van Niekerk in die Strand. Hulle 50ste huweliksherdenking kon hulle nog saam met hulle vier kinders en sewentien klein-kinders vier.

Na ‘n paar ligte beroerte-aanvalle in sy laaste jare is hy na drie maande in die siekeboeg van Huis van Niekerk oorlede. Twee weke voor sy dood kon hy nog sy eerste agterkleindogter vashou.

In sy gemeentes het ds. Bertie Cilliers altyd ‘n besondere deernis gehad met die minderbevoorregtes, siekes en oumense. Hy was ‘n rustige en saggeaarde mens, ‘n ideale eggenoot, vader en oupa. Deur die jare het by sy familie met sy gebede gedra. – (Pieter Cilliers, seun, verwerk deur DJ Viljoen.) (Jaarboek 1985).