Gebore
29 Sept. 1923
OORLEDE
19 Mei. 2002
UNIVERSITEIT
Dipl. Teol.
gelegitimeer
1955
ORDEN
1956
STANDPLASE
1956 Bothasrus
1961 Pongola
1965 Goodwood-Wes
1969 Walvisbaai-Noord
1977 Otjiwarongo-Suid
EMIRITEER
–
Ds. Eben Cilliers is op 29 September 1923 op De Aar gebore. Sy vader was Johannes Francois Cilliers, ‘n stoomlokomotiefdrywer op die dorp. Sy moeder was Francina Beatrix Pienaar.
Eben het sy hele skoolloopbaan op Upington deurgebring. Hy het aan die einde van st 8 (1936) die skool verlaat om as ‘n lokomotiefpasser te gaan werk en het in 1945 in die SA Spoorwegwinkels op Usakos die sertifikaat verwerf. Die Here het hom egter geroep om voltyds in sy diens te staan en Eben het besluit om terug te gaan na die hoërskool op Upington. Hy het in 1947 st 9 en in 1948 matriek voltooi.
Daarna het hy aan die Universiteit van Stellenbosch die BA-graad en die Diploma in Teologie (1955) behaal en is hy gelegitimeer.
Ds. Cilliers is in 1956 op Bothasrus in die Oos-Kaap (Despatch) bevestig. In dieselfde jaar het hy met Louisa Jacoba Wepener getrou. Hulle het twee kinders gehad, Francina Beatrix en Johannes Francois. In 1997 was daar vier kleinkinders. Dit was ‘n lang en gelukkige huwelik.
Na vyf jaar op Bothasrus het ds. Cilliers ‘n beroep na Pongola aanvaar en vier jaar later na Goodwood-Wes. In albei gemeentes het hy hom beywer vir die bou van ‘n kerksaal.
Hy het in 1969 sy bediening in Walvisbaai-Noord voortgesit en agt jaar later ‘n beroep na Otjiwarongo-Suid aanvaar. Hier het die Here mooi dinge deur hulle laat plaasvind.
In Oktober 1977 het ds. Cilliers ‘n ernstige hartaanval oorleef.
Ds. Cilliers was voorsitter van die Ringe van Parow, Omaruru en Otjiwarongo, terwyl hy ook ‘n gewaardeerde lid en voorsitter van die Regskommissie van die Namibiese Sinode en lid van die Algemene Regskommissie was. Hy was ook in die laat jare sewentig aktuariusen assessor van die destydse Sinode van Suidwes-Afrika. Hy het tien jaar lank (tot 1987) in die Moderatuur gedien.
In 1988 het hy emeritaat aanvaar toe hy die ouderdom van 65 bereik het. Hulle het eers in Walvisbaai en later op Kroonstad gewoon. Op 19 Mei 2002 is ds. Cilliers oorlede.
(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 31 Jan. 1997 ingevul het sowel as uit artikels wat in Die Voorligter verskyn het.) (Jaarboek 2003/334).