Melding is reeds gemaak van die Jao-volk wat tot ‘n groot mate die Moslemgeloof aanvaar het. Van die begin voel die Sending hierdie uitdaging aan. Hulle woon meesal aan die Meeroewer, hoewel een deel hulle onder hoofman Tambala, oos van Nkhoma, gevestig het.
Die Jao (ook Achawa genoem) verskil in sekere opsigte van die Achewa of Angoni onder wie die N.G. Sending posgevat het. Hulle is ook baie vernuftig en ondernemend. Oorspronklik kom hulle van die ooste (sommige beweer Zanzibar) die land binne. “Daar kom hulle in aanraking met die Islam en vandaar het hulle dit na Njassaland meegebring”. Die slawehandelaars is ook Moslems en waar die Jao as hul helpers optree, bevorder dit die Moslemgeloof onder hulle. Volgens die sensus van 1926 is daar ongeveer 200 000 Jao’s in die land, waarvan 105 000 Moslems is. Islam is dus feitlik die volksgodsdiens van die Jao. Onder die ander volkere vind dit egter mm aanhang, hoewel heelwat Achewa in die
omgewing van die sterk Moslemvesting Nkhotakota tot hierdie geloof oorgegaan het. Die groot verlange van die Moslem-Jao is om die Koran in Arabies te leer lees. Vir hierdie doel “het elke dorp sy mwalimo (onderwyser) wat skynbaar verbasend veel invloed het”. Hulle beoefen ook die besnydenis (Janda) en volgens Islam gebruik is Vrydag hul rusdag.
Die N.G. Sending doen reeds vanaf Malembo beperkte werk onder die Jao. In 1920 word ds. M. G. Uys vir werk onder die Moslems afgesonder en op 2 Augustus 1923 word die sendingstasie Chitundu vir hierdie bepaalde doel geopen. Dit is omtrent 16 km. oos van Nkhoma in die land van hoofman Tambala geleë. Na die vertrek van ds. Uys in 1926 gaan die werk op die stasie en langs die Meeroewer sonder sendeling met inheemse werkkragte voort, totdat ds. (later prof.) A. C. van Wyk in 1929 arriveer. Hy vind dat ‘n groter kennis van die Arabiese taal, waarin die Koran geskryf is, en van die Islam as godsdiens vir die Christelike werker onder hulle noodsaaklik is. Gevolglik gaan hy eers vir ‘n studie hiervan vir ses maande na die School for Oriental Studies in KaIro. In 1939 kan ‘n gemeente met 426 lidmate gestig word, maar nie baie van hulle is bekeerde Moslems nie. Die Moslems is ‘n moeilike arbeidsveld.
Die Sinode van Nkhoma sit die werk voort, beskou dit as ‘n sendingtaak van die Sinode en staan jaarliks ‘n kollekte in al die gemeentes daarvoor af. Die wérk op Chitundu gaan voort, maar die sentrum vir die Sinode se Moslemsending is intussen na Nkhotakota verskuif (Bron: Cronje, J.M. 1981. Aan God die dank. p. 32 – 33).