Gebore
3 Jul. 1951
OORLEDE
14 Aug. 2009
UNIVERSITEIT
BA (RAU); BD (UP)
gelegitimeer
1979
ORDEN
1980
STANDPLASE
1980 Randpoort
1983 NGSK Verre-Oosrand (Alrapark/Geluksdal)
1989 uit die bediening
1992 Kimberley-Noord (opdrag: Jannie Brink Skool en Yonder-Sentrum)
EMIRITEER
–
Johannes Christoffel Buys is op 3 Julie 1951 gebore. Sy oupa Stoffel en ouma Johanna Buys het op die plaas Vetpan naby Kransfontein in die Riemland geboer. Sy oupa Koos en ouma Hester Taljaard het op die plaas Nairobi naby Reitz geboer. Chris se oupagrootjie is in die Slag van Spioenkop oorlede. Chris se ouers was Stefaans en Dorothea Buys, wat ook op Vetpan geboer het. Chris was die oudste van drie seuns en besonder familievas.
Chris was van 1958 tot 1964 ‘n leerling aan die Bethlehem Seuns-Volkskool en van 1965 tot 1969 ‘n leerling aan die Bethlehem Voortrekker Hoër. Hy was ‘n koshuiskind wat veral beskermend teenoor die kinders van die Charlotte Theron-kinderhuis opgetree het. As skoolseun was hy aktief betrokke by die kinderkrans en die CSV. Sy seun Rikus skryf: `In die tyd het hy ‘n erediens in die dorp se swart woonbuurt aangebied en vir Ma gesê hy wil ‘n predikant word. Hy het as kind erg gehakkel, maar dit later met ritmiese self spraak terapie oorkom.”
Chris was vir sy militêre diensplig op Oudtshoorn gestasioneer en het grensdiens gedoen. In 1971 het hy hom vir die BA-kursus aan die Randse Afrikaanse Universiteit ingeskryf en in 1976 ‘n student aan die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan die Universiteit van Pretoria geword. Daar het hy die BD-graad behaal en is hy einde 1979 as proponent gelegitimeer. Sy skripsie handel oor die geestelike bediening aan die verstandelik-gestremde.
Proponent JC Buys is na die NG Gemeente Randpoort in Randfontein beroep en op 9 Februarie 1980 met handoplegging ontvang en bevestig. In 1983 het sy pad na die NG Sendingkerk in die Verre-Oos-Rand (Alrapark/Geluksdal) geloop. Dit was die tyd van die Belhar-belydenis en ds. Chris het dit met oorgawe ondersteun. Hy het sterk standpunt ingeneem vir “God en sy kerk” teenoor die “Afrikaner en sy kerk”. Met ‘n Pinkster afsluiting in die Johannesburgse stadsaal het gegriefdes uit die diens gestap. Ds. Chris het later tentmakerleraar van die NG Sendingkerk in Nigel geword en het later by Metropolitan Life in die middestad van Johannesburg gewerk. In die gemeente het hy groot sukses met gemeentebediening behaal. In 1992 het hy leraar van die NG Gemeente Kimberley-Noord geword, met opdrag die Jannie Brink-skool en Yonder-sentrum in Kimberley. Hier het hy uitstekende werk gedoen.
Chris is in die winter van 1972 met Annamarie Smuts getroud en hulle het in die NG Gemeente Crosby gewoon, waar die liefdevolle ds. Theuns Botha hom sterk beïnvloed het. Hulle seun, Rikus, is tans hoof van die NG Kerk se Kinderhuisversorging in die Vrystaat. Die huwelik het egter in 1996 op die rotse beland en ds. Chris het uit die bediening getree. In die krisis het hy die land verlaat en ‘n Australiese burger geword. Sy seun skryf: “Pa Chris se eerste dae in sy nuwe vaderland was besonder eensaam; ‘n gebroke huwelik, weg van sy geliefde kinders, ouers, broers en familie. Sondae het hy op die hawemuur van Fremantle gesit en so ver wes na die sonsondergang gekyk as wat hy kon – in die hoop om Afrika in die vêrte te kon sien.”
Hy is in 2003 weer in Perth met Heather McWilliam, ‘n Kanadese immigrant en ‘n verpleegsuster, getroud.
In Australië het ds. Chris betrokke geraak by kerkvestiging. Met die stigting van die Uniting Church in Australië het hy geestelike werk gedoen. Hy was leraar in Ongerup, Duncraig en Augusta. In Margaret River het hy ‘n besondere bediening onder die Koreaanse werkers gehad.
Op Vrydagaand 14 Augustus 2009 was Chris alleen in Margaret River toe hy borspyn kry en na ‘n massiewe koronêre trombose sterf.
In Australië is twee roudienste gehou in die Uniting Church, een by sy laaste gemeente in Margaret River en die ander in Duncraig Perth. Ds. Izak Cronje, boesemvriend van skooldae af en self leraar in die Uniting Church in Australië, het albei dienste gelei. In Suid-Afrika het ds. Anton Dohman van Harrismith vir die kinders ‘n roudiens in die NG Gemeente Bethlehem-Wes gehou, die kerkgebou langs die koshuis in Chris se kinderdae. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2012/392)