Buys, Barend Rudolph

Ds BR Buys

Gebore

22 Aug. 1914

OORLEDE

18 Jan. 1990

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1949

ORDEN

1950

STANDPLASE

1950 Usakos

1952 Vergelegen

1954 Olifantsfontein

1957 Selection Park

1960 Bedelia

1968 Spoorwegleraar OVS

1976 Ooshoek

1978 Steynsburg

EMIRITEER

15 Mar. 1981

Bennie Buys is gebore in Bloemfontein. Sy vader was die digter en romanskrywer van die Afrikaanse taalbeweging, B R Buys, wat van 1896-1906 medewerker en subredakteur van die eerste Afrikaanse tydskrifte, die Afrikaanse Patriot en Ons Klyntji, was. Weens die vroeë dood van sy vader, moes hy as oudste seun reeds op 13-jarige ouderdom uitspring om die pot aan die kook te hou en in die moeilike depressiejare sy moeder, broers en susters te onderhou. Hy het in die Suid-Afrikaanse Spoorweë op Kimberley as messelaar gewerk, 1927- 1941. In hierdie tydperk het hy in ‘n oorheersend Engelse omgewing verskeie Afrikaner-kultuurorganisasies in Kimberley help vestig en het hy ook ‘n kranige rugbyspeler geword. Hy het gereeld vir Griekwas op senter gespeel. Op 27-jarige ouderdom het hy ‘n besondere bekeringservaring gehad en homself geroepe gevoel tot die bediening. Hy het die ongelooflike reggekry om op 27, binne een jaar, sy matriek eksamen te slaag. In 1942 het hy op Stellenbosch ingeskryf vir admissie en is in 1949 as predikant gelegitimeer. In Desember 1945 is by met Jeannette Lubbe van Schweizer-Reneke getroud, wat musiek en orrel vir die B.Mus-graad op Stellenbosch studeer het. Uit die huwelik is vyf kinders gebore, waarvan twee vroeg oorlede is. As student was hy senter in die Maties se eerste rugbyspan. Hy was ook ‘n begaafde sanger, wat gereeld as solis opgetree het by sangfeeste, asook in die eerste Kweekskoolkoor van prof Gawie Cillie. Tydens sy bediening in Springs (1958) het hy dan ook ‘n langspeelplaat met gewyde sangitems gemaak. Sy bediening het oor 30 jaar gestrek (1950-1981); in die volgende gemeentes: Usakos (SWA); Vergelegen (Noord-Kaap); Olifantsfontein, Selection Park (Springs); Bedelia (Welkom); Spoorwegbearbeiding (OVS); Ooshoek (Bloemfontein) en Steynsburg. Na aanvaarding van emeritaat op 15 Mrt. 1981 het hy afloswerk in Humansdorp, Zastron en Parys gedoen. In 1988 het hy finaal afgetree in sy vakansiehuis op Kaap St Francis. Ds. Bennie Buys se besondere klem in die bediening was evangelisasie en sending. Reeds in sy eerste werkkring in SWA was hy lid van die sendingkommissie wat in 1952 in Kaokoland ondersoek ingestel het na ‘n “eie sendingveld” vir SWA. Dit het later uitgeloop op die vestiging van die bekende Orumana-sendingstasie, waar sy seun, dr Gerhard Buys, in later jare as sendeling en dosent aan die Teologiese Skool Orumana werksaam was. Verder het hy hom in elke gemeente op die bekering van kerkvervreemdes toegespits. Hy het reekse spesiale dienste georganiseer, waar hy dmv geestelike sang die boodskap van verlossing gebring het, met besondere seën en vrug. Sy eggenote, Jeannette, was altyd orreliste van die gemeente en het kore afgerig. Sy was ‘n toegewyde Vrouediensleidster en was een van die stigterslede van die VSB en NGVV in SWA. Sy het ‘n besondere bydrae gelewer in die versorging van weeskinders. Sy is in 1984 oorlede. Einde 1987 is ds. Buys getroud met mej F P Taute. Op 18 Januarie 1990 is hy in Kaap St Francis, op 75-jarige ouderdom, oorlede. (Jaarboek 1991/284).