Gebore
24 Sept. 1912
OORLEDE
24 Okt. 2002
UNIVERSITEIT
BA (US)
gelegitimeer
1939
ORDEN
1940
STANDPLASE
1940 Windhoek (Hpr.)
1942 Mafeking (Hpr.)
1943 Standerton (Hpr.)
1944 Louwsburg
1948 Thabazimbi
1961 Breyten
EMIRITEER
1977
Henry Guise Laurie Burger is op 24 September 1912 op Sutherland in die Roggeveld gebore, ‘n tydgenoot van NP van Wyk Louw in die koue Sutherland. Sy vader was Jacobus Gideon Coenraad Burger, aanvanklik ‘n onderwyser wat later na Stellenbosch vertrek om as predikant opgelei te word en op 37-jarige leeftyd in 1920 as predikant gelegitimeer word. Hy (JGC) trou met Maatje Wilhelmina Laurie, iemand wat hom getrou bystaan. Op 3 September 1921 word hy herder en leraar in die NG Gemeente Nieuwe Rust (Nuwerus) digby Namakwaland en op 25 Januarie 1930 leraar van die NG Gemeente Keimoes aan die Oranjerivier. Hier aanvaar hy na sestien jaar in 1946 sy emeritaat. In 1959 getuig die NG Kerk Jaarboek van hom (JGC): “Hy was ‘n bekende en geliefde leraar, van wie selfs die onverskilligste mens moes getuig dat hy waarlik ‘n Christen was.”
As jong seun begin hy sy skoolopleiding op Stellenbosch, later op Nuwerus en hy matrikuleer aan die Hoërskool Keimoes. Hy behaal die BA-graad op Stellenbosch en studeer aan die Universiteit van Stellenbosch waar hy einde 1939 as predikant gelegitimeer word. Dit was moeilike oorlogsjare en werk was skaars, maar die Here voorsien wonderlik en hy word op 22 Januarie 1940 hulpprediker in die NG Gemeente Windhoek. In 1941 trou hy in die NG Moederkerk op Stellenbosch met Miempie Pistorius, ds. CWI Pistorius, broer van die bruid doen die huweliksbevestiging. Op 24 Januarie 1942 word ds. HGL Burger hulpleraar in die NG Gemeente Mafeking, met Lobatsi in die huidige Botswana as standplaas. Hier word hulle eerste kindjie Martjie, in 1942 gebore. In 1944 neem hy ‘n beroep aan na die NG Gemeente Louwsburg, hier word sy seun Jacobus Gideon in 1945 gebore en ‘n dogter Wilna in 1947. Die seun volg sy vader se voetspore en is tans leraar van die NG Gemeente Garsfonteinpark.
In 1948 neem hy ‘n beroep aan na Thabazimbi. Sy seun skryf: “Daar het hy vir 13 jaar met groot vrug gewerk in die geografiese groot bosveld gemeente met buiteposte en vêr uitgestrekte besoekpunte. Met sy rustige persoonlikheid was hy lief vir die mense en hulle vir hom. In 1961 neem hy ‘n beroep aan na Breyten. Terwyl hy daar werksaam was, is hulle oudste dogter Martjie in die ouderdom van 29 jaar oorlede. Dit was vir hulle baie swaar, maar hy was die een wat met sy vaste geloof in sy Meester weer rustigheid en aanvaarding gebring het in die gesin”.
Ds. HGL Burger aanvaar op 22 September 1977 sy emeritaat en die egpaar gaan woon in Rustenburg. Hy los nog gereeld in gemeentes af en is ‘n voorbeeld vir meer as een jong predikant. 1n 1986 verhuis hulle na Herfsblaar in Queenswood in Pretoria, sy vrou Miempie sterf in 1994 en hy bly alleen agter. Op versoek getuig ‘n predikanteseun oor sy ouers: “Hulle het ‘n unieke en intieme verhouding gehad. Sy het vet gegee en hy het verantwoordelik rem getrap. Dit was treffend hoe sy mooi verhouding met die Here hom gehelp het om haar dood te verwerk. Hy was ‘n voorbeeld van nederigheid. Hy het ander hoër geag as homself, hy het net gepraat van die mooi wat hy by ander beleef het. Later het hy vergeetagtig geword. Hy kon nie onthou nie. Maar die woorde van die “Here Jesus Christus” kon hy noukeurig onthou en dit foutloos aanhaal. Die woorde van sy Meester het hy nie vergeet nie. Hierdie voorbeeld van hom wil ons nie vergeet nie”.
Ds. HGL Burger sterf na ‘n kort siekbed op 24 Oktober 2002 in die geseënde ouderdom van 91 jaar en sy seun ds. JG Burger bedien die Woord met sy begrafnis uit die NG Gemeente Garsfonteinpark. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2006/365).