
Gebore
28 Mrt. 1929
OORLEDE
27 Jun. 2005
UNIVERSITEIT
BA (UKOVS); MA (Columbia Univ); DTh (VU Amsterdam)
gelegitimeer
1954
ORDEN
1959
STANDPLASE
1959 Kroonstad-Suid
1968 Bloemfontein-Noord
EMIRITEER
17 April 1994
Francis Burger is op 28 Maart 1929 op die mooi Oos-Vrystaatse dorpie Rosendal gebore. Sy vader Michiel Burger was die skoolhoof op die dorp en sy moeder Bessie Smith, ‘n boorling van Rosendal, ‘n onderwyseres wat die Here met oorgawe dien. Frans of Vet soos sommige hom genoem het, bly tot met sy dood besonder geheg aan die dorpie waar hy gedoop is, later aftree en ook begrawe word. Frans ontvang sy eerste skoolopleiding op Rosendal vanaf graad 1 tot 10, daarna is hy twee jaar lank ‘n leerling aan die Hoërskool Ficksburg waar hy in 1945 matrikuleer en goeie rugby speel. Reeds op Rosendal in graad 10 het die Here Sy hand op hom as jong seun gelë en voel hy geroepe vir die Evangeliebediening.
In 1946 vertrek die jongman van Rosendal na die Rosestad waar hy die BA (Admissie) aan die destydse UKOVS verwerf. In 1949 word hy student aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch waar hy drie jaar lank in die Teologie studeer en sy kandidaatseksamen in teologie aflê. Aan die begin van 1952 vertrek hy na Nederland en behaal in 1954 die DTh-graad aan die Vrije Universiteit van Amsterdam. Vet Burger keer na Suid-Afrika terug en word einde 1954 as proponent gelegitimeer. Gedurende 1955 werk hy ses maande in die NG Gemeente Wellington en ses maande in die NG Gemeente Bloemfontein-Wes. Vet Burger is ook die CSV se reisende sekretaris en besoek swart skole regoor die land. In 1958-59 het hy weer sy vlerke gesprei en aan die Theological Seminary, New York, gaan studeer. Hy het die MA-graad aan die Teacher ‘s College van die Columbia Universiteit behaal.
Op 9 Desember 1959 word die jong dr Frans Burger in die NG gemeente Kroonstad-Suid ontvang en bevestig. Hy is verantwoordelik vir die jeug en is die kollega van ds. Dawid Snyman, later sendingsekretaris van die Vrystaatse Kerk. Tydens sy bediening daar word die NG Gemeente Kroonstad-Oos afgestig. In Kroonstad ontmoet hy mej Esta Crous, met wie hy in 1962 in die huwelik tree. Uit die huwelik is vier kinders gebore. Michiel Burger is ‘n boer in die Rosendal distrik, Herman Burger is predikant van die NG Gemeente Kuilsrivier-Digtebij in die Kaapse Skiereiland, Frans is predikant van die NG Gemeente Windhoek-Wes in Namibië en Hettie Venter is onderwyseres in Pretoria.
Op 1 Februarie 1968 word hy bevestig in Bloemfontein-Noord waar hy na ‘n dienstyd van 26 jaar aftree op 17 April 1994. Die Oranje Meisieskool val binne die grense van die gemeente Bloemfontein-Noord en dr Frans was intens betrokke by die bediening in en die bestuur van die skool. Onder sy leiding het plaaslike leraars Sondagaande dienste vir die dogters in die skoolsaal gehou. ‘n Gemeentesentrum word in die tyd gebou en die bediening onder jongmense en kinders was baie geseënd. Dr Frans het dekades lank op die kuratorium van Oranje gedien en die laaste jare van sy bediening was hy die voorsitter van die kuratorium. In 1984 word ‘n Bybelskool in die gemeente Bloemfontein-Noord gestig. Dr Hennie Maartens onthou Pietie Victor en die Straatwerkspan se besoek in 1972 aan Bloemfontein, die geboorte van Klub 6:13 en die gewillige span werkers onder leiding van dr Frans Burger. Hy was die hart en siel agter Straatwerk en het voorgestel dat hulle die straatwerkaksie Klub 6: 13 noem, na aanleiding van Romeine 6:13.
Ds. Fanie Schoonees, 24 jaar lank sy kollega in die NG Gemeente Bloemfontein-Noord, skryf oor sy vriend Vet Burger: “Dr Frans Burger, ook bekend onder die bynaam, Vet, was ‘n hoogs-intelligente en bekwame mens met ‘n borrelende geesdrif wat sy lewe aan die diens van die Here, die kerk en die Koninkryk gewy het. Hy het ‘n passie gehad vir mense en vir die Evangelie. Sy bediening was geanker in sy onwrikbare geloof in God. Hy het ‘n besonderse humorsin en het dikwels uitsprake gemaak wat uiteenlopende reaksies by mense gehad het. Frans Burger was geliefd in die werkkringe waarin hy gestaan het en het diep spore in die Vrystaatse Kerk getrap.
Voordat ek nog die beroep aangeneem het, het ek al gehoor dat Vet ‘n baie moeilike man is. Hy het ‘n baie strenge uitkyk op sy gesig en uit sy oë gehad. Toe ek hom die. eerste keer op sy naam probeer noem, het hy my met daardie strenge afkeuring aangekyk. Ons het immers net 12 jaar in ouderdom verskil. Daarna het ek hom altyd op sy titel aangespreek totdat hy op sy laaste ‘n pasiënt onder my sorg was. Esta het vroeër altyd van hom gepraat as “Doktor”. Vir my vrou Barbara het hy “Mevrou” genoem. Elke keer dat sy vir hom probeer reghelp, het hy gesê: “Nee, jy is mevrou.” Hy het altyd gesê dat ‘n dominee se vrou nie te bekwaam moet wees nie. Sy moet allermins nie die orrelis wees nie. Hy was dus ‘n baie formele mens en het altyd baie formeel en statig opgetree. Vet het gereeld na die middagete met sy gesin huisgodsdiens gehou. Hulle het as gesin ook met huisgodsdiens saam gesing. Hy kon egter nie eintlik noot hou nie, maar hulle het hulle nie daaraan gesteur nie en met hul hele hart en stem die Here geloof.
Ds. Jan Slabbert skryf: “Hy het nooit gehuiwer om van standpunt te verskil nie, veral in vergaderings. Wanneer hy oortuig was van sy standpunt, het hy dit sonder huiwering uitgespreek. Hy het ‘n besonderse sin vir humor gehad, iemand wat hom nie goed geken het nie, kon maklik sy humor verkeerd interpreteer. Sy liefde vir die jeug was ‘n besonderse kenmerk van sy bediening. Daarom was jeugbearbeiding ‘n uiters belangrike deel van sy gemeentebediening gewees. Sy preke was altyd kort, aktueel en Skrifgebonde gewees”.
Dr Frans en Esta Burger vestig hulle na die aanvaarding van sy emeritaat op 17 April 1994 op Rosendal, waar hy hom besig gehou met tuin maak, ‘n vrugteboord en ‘n duiweboerdery. Hy het die laaste tyd aan Alzheimer se siekte gely, die laaste weke van sy lewe in die siekeboeg van die Fichardtpark-aftreeoord versorg. Op 1 Julie 2005 het sy twee predikante-seuns, Herman en Frans, die begrafnisdiens in die NG Kerk Rosendal waargeneem met Psalm 16 en Romeine 8:28 as Skrifgedeelte. Iemand het sy lewe raak saamgevat: “Hy was altyd blymoedig en dankbaar vir die genade van Bo om te kan leef en werk in die Naam van die Here”. Met sy ingebore humor het dr Vet Burger dikwels gesê dat ons tog nie ‘n soliede granietsteen op sy graf moet sit nie, want hy wil nie sy kop stamp met die opstanding nie! – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2006/363).