Burger, Christiaan Johannes

Gebore

28 Sept. 1925

OORLEDE

6 Sept. 2004

UNIVERSITEIT

BA; BA (Hons); MA (US)

gelegitimeer

1950

ORDEN

1951

STANDPLASE

Malawi-Sending (Skakelbeampte Nkhoma)

1975 NGK Suider-Paarl

EMIRITEER

1990

Ds. Christie Burger is op 28 September 1925 op die plaas Soutkuil in die distrik Aurora gebore. Sy oupa aan moederskant was CJ van Lill, ‘n vooraanstaande en gesiene boer in die distrik Redelinghuys. Hy was ‘n saggeaarde en liefdevolle mens, daar is altyd gesê dat Christie na sy oupa aard. Christie se oupa Burger het in die distrik Citrusdal geboer en is jonk oorlede, nie sy pa of broers het ouer as vyftig geword nie omdat die familie almal gely het aan hoë cholesterol. Sy vader was Schalk Willem Jacobus Burger, onderwyser in ‘n tweemanskool in die distrik Aurora waar hy op 45-jarige leeftyd aan sy hart sterf. Hy was ‘n goeie en veelsydige onderwyser wat hom onvermoeid beywer het vir die opheffing van kinders in die Sandveld. In die omgangstaal was hy ook vrederegter, boer, posmeester, grondbewaarder en sieketrooster wat na die geestelike belange van almal omgesien het. Hy het geglo in dissipline en was beginselvas en regverdig. Christie se moeder was ook onderwyseres, saggeaard met ‘n ongelooflike werksvermoë.

Christie is vanaf 1931 tot 1938 leerling aan die Laerskool Noordkuil en Platkloof by Aurora, met sy vader as skoolhoof. In die tyd word die Sandveld besoek deur ds. George du Toit (spesiale Evangeliesasieprediker van die Kaapse Kerk) en hy woon die geseënde evangeliesasiereeks dienste by, waar hy die Here Jesus as persoonlike verlosser aanneem. Hy word vanaf 1939-1943 leerling aan die Hoërskool Piketberg, hy is hoofseun en kaptein van die eerste rugbyspan en blink veral uit in atletiek wat aan hom erekleure en ‘n skild as die beste in die skool besorg, dit maak hom ‘n toppresteerder. Hy skryf oor sy besluit om voltyds vir die Here te werk: “Aanvanklik het ek sterk daaraan gedink om medies te studeer, maar voor die einde van matriek het ek egter onbetwisbare sekerheid gekry dat ek my vir die bediening moes bekwaam”. In 1944 vertrek hy na Stellenbosch waar hy die BA- en Honneurs (grade) en die MA-graad in Sielkunde behaal. Hierna studeer hy vier jaar lank aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch en word einde 1950 as proponent gelegitimeer. Omstreeks 1947 word ‘n CSV-konferensie op Stellenbosch gehou waar een van die sprekers praat oor ‘n sendingroeping en Christie kry ‘n duidelike roeping om sendeling te word. Hy het nooit daarna hieroor getwyfel nie en het hom in 1951 aangemeld vir die sendingveld.

Christie studeer ook ‘n semester lank aan die Selley Oak College te Binningham in Engeland.

Christie neem die eerste drie maande van 1951 waar in die NG Gemeente Middelburg (Kaap); Die kerkraad wil hom beroep maar hy wys dit van die hand weens ‘sy sendingroeping. Hy aanvaar ‘n beroep as sendeling na Malawi (destyds Njassaland) en word op 28 Maart 1951 met handoplegging georden en bevestig en lewer sy intreepreek in die NG Gemeente Nuwe Kerk op Graaff-Reinet. Dit was destyds gebruiklik dat sendelinge wat buite Suid-Afrika se grense werk in die Moederkerk bevestig word, so is die jong sendeling in diens van die Nkhoma sending in Malawi. Hy trou op 4 April 1951 met Helen Murray Retief op Graaff-Reinet, ‘n maatskaplike werker wat op Stellenbosch afstudeer. Uit die huwelik is vier kinders gebore: Marguerite, ‘n verpleegkundige wat getroud is met ds. TS Smit, tans leraar van NG Gemeente Durbanville-Bergsig; Guillaume, ontvang sy BA in Landbou en bedryf sy eie besigheid op Caledon, getroud met Tracey Hall, ‘n musikus Murray, ‘n sielkundige en tans hoofbestuurder: Menslike hulpbronne- en vergoeding by Absa in Pretoria, getroud met Bessie Smit, adjunkhoof by Hoërskool Vorentoe in Johannesburg; Helene studeer in die Sielkunde en behaal ook haar MA-graad by RAU. Sy is getroud met Charl Cronje, ‘n direkteur by Pepkor.

Ds. Christie en Helen Burger se sendingtaak in Malawi kan in twee termyne verdeel word. Die eerste deel strek van 1951 tot in 1975, ‘n wonderlike tyd van kerkopbou en groei. Daar was groot seën op die werk. Na iemand se bekering moes hulle drie jaar lank gekatkiseer word voordat hulle gedoop kon word – soms is tot 120 mense op een dag gedoop. ‘n Kerkgebou is op Mchinji herbou, terwyl ds. Christie twee jaar lank al die gemeentes in die Nkoma Sinode besoek het met ‘n rentmeester veldtog. Dit word later in boekvorm uitgegee en beleef verskei geseënde herdrukke. In die herfs van 1975, pas na ‘n vakansie in die Republiek versoek die regering van Malawi die twee sendelinge, ds. Christie Burger en ds. Pieter Botha om die land binne 48 uur te verlaat. Dit het alles te doen met die naoorlogse stryd in Mosambiek, weens spanning die Angola provinsie langs Malawi. Maar ook in die krisis voorsien die Here. Terug in Suid-Afrika ontvang ds. Christie nie minder as sewe beroepe nie, een daarvan is na die NG Gemeente Suider-Paarl.

Hierdie gesoute sendelingpaar was aanvanklik onseker, bang en onwillig om die beroep te aanvaar, maar die Here lei wonderbaarlik en op 24 Mei I 975 word hy bevestig as herder en leraar van die NG Gemeente Suider-Paarl. Dit is die tuisgemeente van ds. Siebie en Alida Sieberhagen, algemene sendingsekretaris van die Kaapse Kerk. ‘n Jaar later breek die onluste van 1976 uit. Die omgewing rondom die Paarl was letterlik aan die brand en ds. Christie reël ‘n deurnag van gebed. Wonderbaarlik kom daar ‘n merkwaardige verandering rondom die Paarl. Hy reël ‘n interkerklike dankdag oor grense heen waar ‘n reuse skare vergader op die sportveld en dit is die begin van beter kerklike verhoudinge met plaaslike sendingkerke en die NGKA. In sy dienstyd in die Suider-Paarl vind ‘n geestelike opbloei plaas en ‘n ruim kerksaal word gebou wat sy naam dra.

Maar in sy hart bly ds. Christie ‘n sendeling. Daarvan getuig sy terugkeer in die herfs van 1983 na Malawi nadat verskeie instansies, ook president dr H Banda die egpaar gevra het om terug te keer. Die egpaar skeur hulle los uit ‘n gelukkige tuiste in die Paarl en begin die laaste agt jaar van hulle dienstyd in die Here se wingerd in Malawi. Hy word as skakelbeampte tussen die Nkhoma-Sinode van die KMAP en die NG Kerk in Suid-Afrika, ‘n ware brugbouer tussen swart en wit oor taaI- en kultuurgrense heen. Hy is ook assessor van die Sinode van Nkhoma.

Op 5 April 1990 aanvaar ds. Christie Burger sy emeritaat en die egpaar vestig hulle op Stilbaai. In die veertien jaar dien hy die kerk en gemeenskap op ‘n besondere wyse, as ouderling en voorsitter van die Getuieniskommissie. Hy is ook voorsitter van die Dienssentrum, wat ook uitbrei na Melkhoutfontein die plaaslike bruin woonbuurt waar ‘n oorgangshuis gebou word. In 1992 word laegraadse limfoom kanker by hom gediagnoseer, maar na lang tye van chemo is dit vir agt jaar lank in remissie. Die kanker hervat weer in 2002 en ds. Christie is tot die einde ‘n ware voorbeeld van Christenwees.

Hieroor skryf ds. Kobus Koch: “Selfs in sy siekte was hy ‘n rolmodel. In elke siekte besluit ‘n mens elke dag of jy beter of bitter gaan word. Christie het met vreugde, humor en sy vermoë om ander te lei en te inspireer, tydens hierdie proses net sterker geword”. Op 6 September 2004 sterf ds. Christie Burger in die Medi-Kliniek in Durbanville. ‘n Merkwaardige mens met ‘n sendinghart is huistoe. Op 10 September 2004 word ‘n dankdiens gehou, ds. Kobus Koch lewer ‘n trooswoord uit Hebreërs 12 vers 2, terwyl ‘n Malawiese leraar namens die KMAP praat en dr Chris Blignault ‘n huldeblyk lewer. Ds. Christie se hoogste prioriteit in die lewe was om elke mens voordie uitdaging te stel om deur die geloof vir Jesus Christus aan te neem as verlosser en Here. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2006/362).