Burger, Adriaan Johan Victor

 

Gebore

23 Sept. 1900

OORLEDE

21 Mei 1981

UNIVERSITEIT

BA (TUKS); (US)

gelegitimeer

1927

ORDEN

1928

STANDPLASE

 Paulpietersburg

1939 Pretoria-Noord

1947 Johannesburg-Noord

1955 Johannesburg-Oos

1957 Redakteur „Die Voorligter”

EMIRITEER

1967

Ds. Adriaan Johan Victor (Attie) Burger (23 Sept. 1900 – 21 Mei 1981) sal altyd as die jarelange redakteur van Die Voorliger en as skriba van die eerste Algemene Sinode van die NG Kerk onthou word. Sy vader was die bekende ds. A P Burger wat sy hele bediening van byna 45 jaar aan die gemeente Middelburg (Tvl) gewy het. As oorlogskind bring hy sy eerste twee lewensjare in die konsentrasiekamp op Howick in Natal deur. Nadat hy die BA-graad aan die ou TUK in Pretoria verwerf het, gaan hy na die Teologiese seminarie op Stellenbosch, om in 1927 tot die bediening toegelaat te word. Sy bevestiging as leraar in Paulpietersburg – een van die gemeentes Natal wat destyds nog onder die Transvaalse Kerk geval het – volg 24 Mrt. 1928 en daarna bedien hy agtereenvolgens Pretoria-Noord (1939); Johannesburg-Noord (1947) en Johannesburg-Oos (1955); Grotendeels op sy aandrang word Die Voorligter in 1937 deur die Transvaalse Kerk opgerig. Van die begin af dien hy as sekretaris van die redaksiekommissie en April 1948 word hy, saam met sy gewone gemeentewerk, deeltydse redakteur van die blad. Hy pak sy taak met ‘n bewonderenswaardige geesdrif en ywer aan en lê hegte grondslae vir latere uitbreiding en die verdere uitbouing van die tans nog steeds so gewilde kerklike gesinstydskrif. Sedert 1957 is hy voltydse redakteur en selfs na sy aftrede 1967 sit hy die werk nog drie jaar in deeltydse hoedanigheid voort. Daar benewens is hy 13 jaar skriba van die ou Raad van die NG Kerke, skriba van die Algemene Sinodes van 1962 en 1966 en eers 14 jaar skriba en toe ses jaar assessor van die Transvaalse Sinode. In die werk van die genoemde moderature, sowel as in verskeie belangrike kerklike kommissies, gee hy sterk leiding en trap hy diep spore. Ook as aktiewe lid van die toenmalige Armesorgkommissie van die Transvaalse Kerk beywer hy hom gedurende en kort na Wêreldoorlog II, soos sy vader na die Anglo-Boereoorlog, grootliks in belang van die maatskaplike opheffing van sy minderbevoorregte en veragterde volksgenote. So rig hy in Pretoria die eerste gemeenskapsentrum met ‘n voltydse maatskaplike werkster op, terwyl hy ook in die werksaamhede van die CMR van die stad die voortou neem. Terselfdertyd staan hy buite die nouer kerklike verband sy plek vol, onder meer as lid van die Voortrekkermonument- en die Van Riebeeckfeeskommissies, fakulteitslid van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns en regeringsverteenwoordiger in die Witwatersrandse Universiteitsraad. Reeds sedert sy studentejare het hy ‘n besondere voorliefde vir skryfwerk en daar sien dan ook toe al ‘n hele aantal artikels, verhale en toneelstukkies van hom die lig. Later verskyn daar onder die skuilnaam Jurg Vaber of ook onder sy eie naam verskeie werke uit sy pen. Sy ‘n Stad op ‘n Berg” wat in die vroeë vyftigerjare in die Kerk en Volkreeks uitgegee is, was ʼn baanbreker op die gebied van ons kerklike publisiteit. Sy heengaan in Pretoria volg op ‘n lang siekbed. (Jaarboek 1982/254).