Bruwer, Gerrit Etienne

 

Gebore

31 Des. 1905

OORLEDE

10 Febr. 1983

UNIVERSITEIT

BA (US)

gelegitimeer

1933

ORDEN

1934

STANDPLASE

Piketberg (Hpr.)

1935 Citrusdal

1939 Riebeek-Wes

1943 Jeppestown

1946 Parow

1951 Worcester

1955 Organiserende Sekretaris, Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Kaapland

EMIRITEER

Ds. Gerrit Etienne Bruwer (31 Des. 1905 – 10 Febr. 1983); wat tot sy aftrede in Desember 1970, 15 jaar lank as sekretaris van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika veral in Kaapland en Suidwes-Afrika voortreflike dienste in belang van Bybelverspreiding gelewer het, het na ‘n lang siekbed in die Tygerberg-Hospitaal in Parow naby Kaapstad heengegaan.

Sy geboortedorp was Hanover in die Karoo waar hy die laerskool besoek. Die gesin verhuis egter na Willowmore en daar lê hy in 1923 die matriekeksamen af om daarna na Stellenbosch te gaan waar hy in 1927 die BA-graad verwerf. Nadat hy twee jaar op die spoorweë in Natal skoolgehou het, keer hy in 1930 na Stellenbosch terug om hom as predikant te bekwaam. Hier neem hy aktief aan die studentelewe deel. Onder meer dien hy as voorsitter van die Unie-Debatsvereniging en as sekretaris van die Afrikaanse Kultuurvereniging. Sy besondere gawe om te organiseer, kom toe reeds duidelik aan die lig en so word hy as sekretaris aangewys van die komitee wat in 1933 die feestelike ontvangs van die Afrikaanse Bybel op Stellenbosch reël. Ook tref dit juis so dat hy op Sondag 4 Junie daardie jaar bevoorreg is om die eerste student van ons Kerk te wees wat die pas verskene Afrikaanse Bybel vir sy proefpreek kan gebruik. Sy vindingrykheid, deursettingsvermoë en boweal sy organisasietalent sou hom in die meer as 20 jaar van sy gemeentelike bediening groot invloed besorg en hom uitnemend voorberei vir die groot taak wat by die Bybelgenootskap vir hom gewag het.

Enkele maande na sy legitimasie vind sy plegtige ordening as hulpprediker van dr (later prof) J J Muller in Piketberg op 14 Mrt. 1934 plaas en daarna bedien hy die Wes-Kaaplandse gemeentes Citrusdal (April 1935) en Riebeek-Wes (Februarie 1939); In Citrusdal laat sy ywer en sy vermoë om te organiseer, haas geen afdeling van die gemeentelike lewe onaangeroer nie. Onder andere word die jeugwerk en veral die Sondagskole gereorganiseer, gereelde Bybelsondae gehou, die kerkboufonds kragdadig gestyf en die mondigwording van die gemeente (1937) sowel as die Voortrekkereeufees (1938) onder sy besielende leiding luisterryk gevier. In Riebeeck-Wes, ‘n gevestigde en rustige plattelandse werkkring, kan hy hom vier jaar lank heelhartig op die herderlike versorging van die kudde toelê, totdat hy in April 1943 as medeleraar van dr H L N Joubert in die groot en uitbreidende gemeente Jeppestown in die Goudstad te staan kom. Onder sy leiding word Bezuidenhoutsvallei in 1944 afgestig, ‘n jeugklub gestig om die jongmense gesonde ontspanning en kulturele voorligting te gee en ‘n gemeentelike maandbrief in die lewe geroep. Met sy aanvaarding in Junie 1946 van die (eerste) medeleraarskap in Parow op die Kaapse Skiereiland, rusdaar weer ‘n snel swaar verstedelikende werkkring op sy skouers. Maar ook hier laat hy geen gras onder sy voete groei nie. Die kerkgebou word van nuwe elektriese ligte en matte voorsien en ‘n nuwe pastorie, streng bouregulasies ten spyt, in 1947 voltooi. Omdat die jeug hom steeds na aan die hart lê, help hy om die Sondagskool tot ‘n model-inrigting uit te bou. Ook word daar vir die eerste keer ‘n jeugouderling en -diaken gekies. Verder slaag hy en sy medeleraar, wyle ds. J C N Mentz, saam met die kerkraad daarin om die gemeente so aan te spoor dat die jaarlikse dankofferinkomste aanmerklik opgestoot word. In sy dienstyd hier word hy ook die eerste skriba van die toe nuutgevormde Ring van Parow wat die groot noordelike voorstede Goodwood, Parow en Bellville ingesluit het. Sy laaste gemeente was Worcester waar hy in September 1951 as medeleraar van wyle ds. N E Nel en ds. H A Heyns diens aanvaar en met kennelike seën onder oud en jonk arbei totdat hy begin Februarie 1955 as organiserende sekretaris in diens van die Bybelgenootskap tree.

Twaalf volle jare is hy alleen vir die uitgestrekte gebied van Kaapland en Suidwes-Afrika verantwoordelik, voordat hy in ds. Johannes Ries ‘n mede-sekretaris kry. Intussen (1964) word hy ook tot streeksekretaris vir die genoemde gebied bevorder. Vir 1970 is hy aan die hoofkwartier van die Genootskap in Kaapstad verbonde en veral met organisasiewerk in verband met die Bybeljaar (Biblia 70) en sekere publikasiewerk – Onder meer die uitgawe van die feesboek waarin die geskiedenis van die Bybelgenootskapbeweging in ons land oor 150 jaar beskryf is – belas. Deur sy onvermoeide ywer, sy verbasende werkkrag, sy doelgerigtheid as organiseerder, sy stipte presiesheid en deeglikheid en sy vermoë om die saak van Bybelverspreiding vroeg en laat en in beide landstale welsprekend en oortuigend te stel, maar bowenal ook deur sy brandende liefde vir Christus en die Woord, slaag hy daarin om die saak in ons Kerk maar dan ook onder ander Kerke ver en wyd te propageer. Onder meer deur sy ywer klim die bydraes vir Bybelverspreiding van sowat R75 000 in 1955 tot ongeveer R500 000 in 1970. Voorts was hy verantwoordelik vir die stigting van die tweetalige nuusbrief Die Saaier/The Solver – om ‘n band tussen die Genootskap en sy ondersteuners te lê. Met sy fyn historiese sin – wat ook op ander gebiede blyk – maak hy vrugbaar van historiese Bybeljare gebruik om sy saak met krag te bevorder deur onder andere die geldelike behoeftes by gehore tuis te bring en harte diep te roer. Na sy aftrede woon hy en sy gade deels in hul huis in Bellville en deels in hul vakansiehuis op Kleinmond, maar later verhuis hulle na die kerklike tehuis vir bejaardes, Huis Aristea, op Durbanville. (Jaarboek 1984).