Bruwer, Eduard Christiaan Daniel

Ds ECD Bruwer

Gebore

03 Febr. 1931

OORLEDE

27 Des. 2008

UNIVERSITEIT

BA; Dipl. Teol. (UP)

gelegitimeer

1954

ORDEN

1955

STANDPLASE

1955 Wonderboom-Suid

1959 Sendingwerkkring Bendstore (Nkhensani)

1964 Nkhensani,

1974 NGK Org. Sendingsekr. N-Tvl

1985 NGKA Sekr. van Toerusting vir DvB, N-Tvl.,

EMIRITEER

29 Apr. 1995

Eduard Christian Daniël Bruwer is op 3 Februarie 1931 op Wolmaransstad in die destydse Wes-Transvaal gebore. Hy was die agterkleinkind van ECD Bruwer wat aan die Slag van Bloedrivier deelgeneem en hom later in die omgewing van Bethlehem gevestig en as boer en vrederegter diep spore getrap het. Eddie was die enigste seun van Cornelis Frederick Bruwer en Sophia Pienaar, ouers wat hulle merk in die onderwys en kerklike lewe op Makwassie en Wolmaransstad gemaak het. Sy pa het die Here as skoolhoof in ‘n klein plaasskooltjie gedien. Eddie het dikwels vertel watter blywende indruk dit op hom gemaak het om te kon sien hoe die opvoedkundige werk van sy pa bygedra het dat eenvoudige, brandarm mense met harde werk uit armoede kon ontsnap. Hierdie ervaring het hom sy lewe lank ‘n groot deernis vir armes gegee.

Eddie was in hart en siel ‘ n kunstenaar. Hy kon goed skilder en het in 1947 op Wolmaransstad gematrikuleer. Hy het dit oorweeg om argitektuur te studeer, maar het hom geroepe gevoel om predikant te word. Nadat hy die graad BA (Admissie) aan die Universiteit van Pretoria behaal het, het hy van 1951 tot 1954 aan die Fakulteit Teologie (Afd. B) aan Tukkies gestudeer. Hy was as student ‘n inwoner van Sonop-tehuis. Aan die einde van 1954 is hy as proponent gelegitimeer.

Eddie en sy medestudente is sterk beïnvloed deur prof GM Pellissier, ‘n grondlegger van teologiese opleiding in Transvaal. By hom het Eddie geleer om teologies selfstandig te dink en het diepgaande teologiese vorming plaasgevind. In 1955 is proponent Eddie Bruwer met handoplegging in die NG Gemeente Wonderboom-Suid bevestig. Op 12 Januarie 1957 het hy met Marie Jeanne Maree, ‘n onderwyseres, getrou en hulle het twee kinders gehad, Etienne en Daleen.

Ds. Eddie en Marie Bruwer het heerlik in Wonderboom gewerk tot in 1959, toe ‘n droom bewaarheid is en hy voltyds sendeling geword het. Die gemeente het hulle as sendeling paar na Bendstore aan die Klein Letaba diep in die noordelike Laeveld, deesdae bekend as Giyani, gestuur.

Hieroor skryf sy boesemvriend prof Dons Kritzinger: “Hier het Eddie hom op allerlei wyses onderskei. Deur ‘n rustige en respekvolle saamleef met die tradisionele Sjangaans het hy ‘n fyn aanvoeling en kennis van hulle taal en kultuur opgebou. Uit hierdie basiese sendingwerk van hom en sy medewerkers het ‘n model sendingstasie Nkhensani (genade) en ‘n inheemse gemeente gegroei. In 1964 kon hy as leraar van hierdie nuwe gemeente bevestig word. Sy 15 jare lange dienswerk in die Laeveld het baie vrug gedra in die lewe van talle mense, wat tot aan die einde hom as hulle vader in die geloof beskou het.”

Op 1 Februarie 1974 het hy organiserende Sending sekretaris in die sinodale gebied van Noord-Transvaal geword. Benewens sy komiteewerk, het ds. Eddie na talle sendingwerkers in die veld uitgereik en die mentor en rolmodel van ‘n geslag sendelinge geword. Veral die personeel konferensies by die gerestoureerde Emmarentia Geldenhuys-Sending sentrum het ‘n groot rol gespeel. Hy was die dryfveer agter die totstandkoming van Iswen (die Instituut vir Sendingwetenskaplike Navorsing) aan die Universiteit van Pretoria se Teologiese Fakulteit. Een van sy groot prestasies as Sending sekretaris was die stigting van KAN (Kerklike Aksie Noodhulp) tydens die ernstige droogtetyd van die tagtigerjare.

In 1985 het ds. Eddie sekretaris vir toerusting vir Diens van Barmhartigheid in die NGKA in Noord-Transvaal geword en het KAN sy voltydse verantwoordelikheid geword. Oor ‘n tydperk van tien jaar is verskeie KAN-projekte gestig en is sterk beginsels vir gemeentelike gemeenskapswerk gevestig.

Op 29 April 1995 het ds. Eddie Bruwer sy emeritaat aanvaar en die egpaar het hulle op die pragtige Dullstroom gevestig, waar hulle ‘ n ou motorhawe in ‘n gastehuis omskep het. Na sy aftrede was ds. Eddie Bruwer nie meer aan die Noordelike Sinode verbonde nie, maar aan die VGKSA-Sinode Noord-Transvaal, waar hy en die saakgelastigde van die sinode, dr Daniël Maluleke, ‘n baie besondere werksverhouding opgebou het.

‘n Nuwe era en diensterrein het vir ds. Eddie aangebreek en die egpaar was nou betrokke by die geestelike en kulturele milieu op die dorpie. Hy het ook die nood van die verwaarloosde swart gemeente van die VGK raakgesien skeuring in die gemeente afgeweer.

Ds en mev ECD Bruwer