Brown, Willie

 

Gebore

24 Febr. 1957

OORLEDE

23 Febr. 2003

UNIVERSITEIT

BA., BTh, MTh DTh (US)

gelegitimeer

1980

ORDEN

1986

STANDPLASE

1986 Maltahöhe

1990 Monte Vista

EMIRITEER

Willie Brown is op 24 Februarie 1957 in Princeton in Amerika gebore. Sy vader, Eddie, het destyds in Amerika vir sy doktorsgraad in die Teologie gestudeer, waarna die gesin in 1958 na Suid-Afrika teruggekeer het. In 1960 is sy pa gelegitimeer en in die NG Gemeente Durban-Wes bevestig.

In 1968 is sy pa as professor in Kerkgeskiedenis aan die Universiteit van Zoeloeland aangestel, nadat hy reeds as senior lektor in Bybelkunde aan die universiteit gedien het. Willie het op Empangeni grootgeword en in 1974 aan die Hoërskool Empangeni gematrikuleer. Van kleins af het hy sy pa se belangstelling in die Kerkgeskiedenis gedeel.

Na matriek het hy ‘n Matie geword en vir die graad BA ingeskryf om toelating te kry tot die Fakulteit Teologie. Hy was ‘n inwoner van die koshuis Helshoogte en het ook in die huiskomitee gedien. In 1980 het hy die graad BTh voltooi en is as proponent in die Moederkerk op Stellenbosch gelegitimeer.

Van 1982 tot 1983 het prop Willie Brown militêre diensplig as kapelaan op Otjiwarongo in Namibië gedoen, maar in 1984 het hy teruggekeer na Stellenbosch om sy doktorsgraad te voltooi. Sy verhandeling het die legendariese ds. HJ Neethling van Stellenbosch as tema gehad.

Sy pa, wat sedert 1977 aan die Fakulteit Teologie verbonde was, was sy mentor en studieleier vir sy M- en D-grade. Ook wat temperament betref, het pa en seun baie dinge in gemeen gehad, onder meer ‘n rustigheid wat stemtoon en lewenstyl betref.

Dr Willie Brown het twee gemeentes bedien. Op 21 November 1986 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Maltahöhe in die destydse Suidwes-Afrika bevestig, waar hy goeie werk gelewer het. In 1990 het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Monte Vista in die Kaapse Skiereiland aan vaar. Hy het dertien jaar in die gemeente die Woord verkondig.

Op kerkhistoriese gebied het dr Willie Brown diep spore getrap. Hy was ‘n gewaardeerde lid van die Argiefkommissie van die Kaapse Kerk en het deeltyds werk in die argief gedoen. Met die publikasie van die gedenkboek oor die Ned Geref. Kerk met die viering van die kerk se 350-jarige bestaansjaar in 2002, het hy ‘n wesentlike bydrae gelewer. In Monte Vista was hy bekend vir sy vaste beginsels. Ten tyde van sy dood was hy skriba van die Ring van Koeberg en voorsitter van die beheerraad van die Laerskool Monte Vista.

Hy was top fiks en het die Saterdagoggend nog geoefen vir die Comrades waaraan hy sou deelneem. Hy het gewoonlik sowat 100 km per week gedraf.

Maar Sondagoggend vroeg, 23 Februarie 2003, is hy skielik deur ‘n hartaanval weggeneem. Sy skielike heengaan en – menslik gesproke – ontydige dood, het die gemeente tot stilstand geruk. ‘n Troosdiens is op Donderdag, 27 Februarie, in die kerkgebou gehou.

Hy laat sy vrou, Mariana, met wie hy in 1981 getroud is, drie dogters, en sy ouers Eddie en Magdaleen Brown agter. (Dr Gerdrie van der Merwe.) (Jaarboek 2004/347).