Britz, Rudolph Marthinus

Gebore

14 April 1926

OORLEDE

20 Februarie 2014

UNIVERSITEIT

BA, BA Hons (PU vir CHO); MTh (US)

gelegitimeer

1952

ORDEN

1953

STANDPLASE

1953 Christiana

1954 Bloemhof

1957 Hartbeesfontein

1962 Lichtenburg-Noord

1969 Nelspruit-Suid

EMIRITEER

1991

Rudolph Marthinus Britz is op 14 April 1926 op die plaas Turfbult in die distrik Marico gebore. Hy het vlot Setswana gepraat en was tuis in ‘n wêreld wat deur min wit mense geken is; hy het dikwels na die omgewing as “leeuwêreld” verwys. Sy vader is Rudolph Marthinus Britz, ‘n boukontrakteur, en sy moeder is Susara Johanna Welman.

Die jong Tienie begin sy skoolopleiding in 1932 in die plaasskool op Nietverdiend, totdat hy in 1938 ‘n leerling word aan die laerskool op Zeerust. Hy is van 1940 tot 1943 ‘n leerling aan die Hoërskool Zeerust, waar hy matrikuleer en uitblink in rugby, boks en atletiek. In 1944 werk hy as klerk by die Transvaalse Departement van Paaie.

Tienie voel geroepe om predikant te word en hy begin in 1945 met sy voorstudie aan die destydse Potchefstroomse Universiteit vir CHO. Aan hierdie universiteit met sy gereformeerde grondslag behaal hy ‘n BA- en ‘n BA Honneursgraad. Tienie onderskei hom as ‘n briljante en toegewyde student wat vroeg reeds ‘n passie het om net sy beste te gee.

In 1949 is hy Stellenbosch toe, waar hy ‘n student word aan die Teologiese Seminarium. Op 4 Desember 1952 word hy as proponent gelegitimeer, nadat hy op 27 September daardie jaar met Sarah Maria Alice Nel getroud is. Sy kom van Steynsburg af. Uit die huwelik is daar vyf kinders gebore: Rudolph Marthinus, Phillip Daniël Stefanus, Johannes Jakobus, Sarah Maria Alice, en Susarah Johanna.

‘n Eerste beroep bereik prop RM Britz vanuit die NG Gemeente Christiana aan die Vaalrivier, en hy word op 18 April 1953 met handoplegging daar bevestig. ‘n Nuwe kerksaal en pastorie word onder sy leiding daar gebou. Op 21 Augustus 1954 word hy die herder en leraar van die NG Gemeente Bloemhof, net 40 kilometer noord met die N12 langs. Na drie jaar kom daar ‘n roepstem na die NG Gemeente Hartebeesfontein, waar hy op 16 Maart 1957 ontvang en bevestig word. Hier is sy kollega die bekende ds. SJ (Sarel) Eloff, ‘n teoloog wat net soos Tienie die gereformeerde belydenis omhels. In 1959 aanvaar ds. Eloff ‘n beroep en sy plek word deur ds. EPJ Kleynhans van Brandfort gevul. In Tienie se dienstyd word die pragtige kerkgebou op Hartebeesfontein ingewy.

Op 10 Augustus 1962 word ds. RM Britz in die NG Gemeente Lichtenburg Noord bevestig. Hier is Tienie weer betrokke by die bou van ‘n doelmatige kerkgebou, en sy invloed strek wyd oor hierdie dorp en gemeenskap op die Wes-Transvaalse platteland. Sy volgende gemeente is Nelspruit-Suid. Hier maak hy oor die volgende 22 jaar ‘n reuseverskil in die kerklike en gemeenskapslewe. Hy het op talle kerklike kommissies gedien, maar die diens by die Stellenbosse kuratorium en op die Oos-Transvaalse moderatuur (1983 tot 1987) was vir hom baie besonders.

Tienie se seun, prof Dolf Britz van Bloemfontein, skryf so oor sy pa: “In hom was daar vir almal ‘n aansluitingspunt, ‘n ruimte om gerus te wees. Van Sap tot Nat in Verwoerd se tyd. Van NP tot KP in Mandela se tyd. In al die dorp se kerke was hy geliefd: Dopper, Hervormd, APK, Sending. Hy kon ook in Engels preek as dit moes. En hy kon met sy hande werk. Hy kon bou. Altyd met ‘n stofjas aan, nie ‘n oorpak nie. Dakslaan, houtwerk, kaste, boekrakke gewoonlik van dennehout. In die jare sestig het hy twee keer karavaan gebou vir Oos-Londen, waar hy gekamp het maar nooit geswem het nie. Jy swem nie in water waar jy nie die oorkantse wal kan sien nie. Hy kon ‘n Volkswagen-enjin uitmekaar haal, hy kon mieliepap maak.”

Na. sy aftrede vestig ds. en mev. Tienie Britz hulle in Bellville. In die daaropvolgende jare is hy hulpleraar in verskeie gemeentes — Bellville-Riebeeck, Panorama, Monte Vista, Ruiterwacht-Wes, Goodwood, en hy is hospitaalleraar in die Panoramakliniek. Steeds lees hy wyd, skryf in vir meestersgraad in Kerkgeskiedenis onder prof Eddie Brown op Stellenbosch en voltooi ‘n skripsie met die titel: “Wat van die Jode? Enkele teologiese perspektiewe op die historiese Israel en sy geskiedenis.”

Dolf skryf: “Tienie het hom ‘n geliefde moruti by swart mense gemaak. ‘n Groot deel van sy bediening is aan die sending gewy. Hy het dikwels in die sendinggemeentes gepreek. Hy het ‘n deurslaggewende rol gespeel in die opbou van die kerk in die destydse tuislande.”

Na ‘n kort siekbed is Tienie op 20 Februarie 2014 oorlede. Hy is uit die Gereformeerde Kerk Bellville begrawe. Dolf skryf: “Toe oorstaptyd kom, was die goue strate steeds van geen belang nie — die Een op die troon wa. Gesny uit die hout van Bavinck en dus klassiekgereformeerd, was hy diep deurdronge van die feit dat hy net begenadig is. Om presies te wees: Tussen sy stofjas en sy toga was daar wat hom betref geen verskil nie.” — Dr Gerdrie van der Merwe VDM (Jaarboek 2015).