Brink, Philippus Albertus Myburgh * 1915

 

Gebore

24 Aug. 1915

OORLEDE

27 Jul. 2003

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1940

ORDEN

1942

STANDPLASE

1942 Grootdrink

1945 Gansbaai

1949 Bethanie

1950 Luderitz

1955 Meru, Tanganjika

1960 Die Strand

EMIRITEER

1983

Philippus Albertus Myburgh Brink is op 24 Augustus1915 te Molenvliet in die distrik Stellenbosch gebore. Sy ouers was ds. Matie Brink en Hendrina Malan, wat twee maande voor sy geboorte as herderspaar na Daniëlskuil verhuis het. Die jong Pam het in die duine saam met die San-Boesman grootgeword en hulle vrye gees het ‘n groot invloed op sy lewe gehad. Pam was van kleins af skrander en het sy skoolopleiding op Daniëlskuil (1923 tot 1925); Sutherland (1925 tot 1931) en Stellenbosch (1932) ondergaan. Hy het graag saam met sy vader in die Karoo gejag en motors versien – die harde Moordenaarskaroo het hom van jongs af geslyp. Sy vader het in 1925 ‘n beroep na Sutherland aanvaar waar hy 25 jaar tot met sy aftrede in 1950 in diens was. Ds. en mev MB Brink het sewe kinders gehad, onder wie drie dogters. Twee het predikante geword, die oudste, ds. Pam Brink, het in 1983 in die Strand geëmeriteer en ds. M Beyers Brink in 1988 op Dewetsdorp in die Suid-Vrystaat. Hy was betrokke by die bevestiging van die skrywer in 1984 op Smithfield. Ds. Boesman Brink, soos hy in die omgang genoem is, was bekend as ‘n goeie leraar wat sy mense met oorgawe gedien het.

Met ds. Brink se aankoms as herder en leraar op Sutherland was daar ‘n hewige sneeustorm. Daar en dan het hulle besluit om tulpe te plant. Die projek het hom landwyd bekend gemaak en tydens kerkvergaderings was sy tulpe op die moderatuurstafel ‘n pragtige gesig en ‘n vaste instelling. Hy het van die Hollandse tulp ‘n Suid-Afrikaanse blom gemaak, want met sy vertrek uit Sutherland het hy 43 000 bolle in 23 kleure besit.

As jong seun het Pam hom geroepe gevoel vir die bediening ten spyte van die ooraanbod van predikante in die vroeë dertigerjare in die NG Kerk. Aan die Universiteit van Stellenbosch, waar hy die BA- en MA-graad behaal het, het hy hom onderskei as ‘n kranige sportman. Hy het tussen 1937 en 1940 vir Maties se eerste rugbyspan uitgedraf. Om die geld vir sy studie aan te vul, het hy vakansietye op vrugteplase in die Boland gewerk. Dr Matie Brink skryf oor sy pa se tyd op Stellenbosch: “Een aand neem hy ‘n meisie na die goedkoopste plek in die dorp – die kerk. Hy had een sjieling in sy sak. Ordentliks halwe kan hy twee koppies koffie bekostig. Toe kom daar ‘n ernstige stem van die preekstoel. Gee iets vir die arm hervestigde Afrikaners langs die groot Gariep. Daar moet kerk gebou word. Dis die Here se stem. So is pa sy sjieling kwyt. ‘n Paar jaar later is hy bevestig as eerste leraar van Grootdrink, in die sink kerkgeboutjie waarvoor hy ‘n sjieling bygedra het. In sy dienstyd is ‘n nuwe kerk gebou, die sink van die ou saaltjie is aan Frans van Wyk verkoop. Frans het vir hom ‘n veranda om sy huis opgesit. Pa is met Frans van Wyk se bruinoog dogter getroud, onder die sinkgeboutjie – dit alles vir een sjieling. Dit sou die tema van Pam en Frieda en hulle ses kinders se lewens word: Soek eers die koninkryk van God en alles sal vir julle bygevoeg word.”

Aan die einde van 1940 het Pam sy teologiese opleiding voltooi en is hy as proponent gelegitimeer. Hy het gou ‘n beroep ontvang as leraar van die NG Gemeente Grootdrink aan die Oranjerivier noord van Upington. Hy het die beroep aanvaar en is op 7 Februarie 1942 deur sy vader as predikant bevestig. Ds. Pam Brink het sy intreepreek oor 1 Kor. 2:2 gelewer. Hy het op 22 April 1945 met Maria Francina van Wyk, die dogter van die ouderling by wie hy inwoon op Grootdrink aan die Oranjerivier, getrou. Ds. Pam Brink het nooit sy beginjare daar vergeet nie, en as voorsitter van die kerklike kommissie vir die Kakamas Nedersetting het hy boere langs die Grootrivier help vestig. Jare na sy vertrek het hy steeds betrokke gebly by die lief en leed van sy mense. Op 22 April 1945 het hy afskeid van die gemeente geneem nadat hy ‘n beroep na die NG Gemeente Gansbaai aanvaar het.

Na ‘n aantal jare op Gansbaai, het die gesin op 3 September 1949 na die destydse Suidwes-Afrika vertrek, hierdie keer as leraar van die gemeente Bethanie. Kort hierna op 18 Februarie 1950 is ds. Brink bevestig as leraar van die NG Gemeente Luderitz (Oranjemund, Ausen Witputs) – ‘n gemeente so groot soos die Vrystaat. In die wye wêreld op pad na ‘n basaar, huisbesoek of die hou van ‘n erediens, het ds. Brink en sy gesin soms tussen die duine en in die oop veld geslaap. Hier het ‘n sterk Masedoniese roepstem uit Midde-Afrika hom bereik, die keer na die Afrikaanse NG Gemeente Meru in Tanganjika. In Midde-Afrika is hy op 26 Maart 1955 as herder en leraar bevestig, waar hy die Afrikaners in ‘n moeilike tydperk met oorleg en wysheid uit die Woord bedien het. Die gemeentegrense was so groot soos die RSA, en dit het duisende kilometers se ry gekos om almal rondom die Victoriameer en elders te besoek – mense wat in jare nie ‘n Christelike woord gehoor het nie. Dr Matie Brink skryf: “Later sou Pa en Ma ook die gemeente Nairobi in Kenia saam bedien, twee pastorieë 175 myl uitmekaar! Die Brinks het met Uhuru die laaste boere help terugbring Unie toe. Paul Sauer het Pa-hulle ‘n sikspens per persoon gevra om weer na die land terug te keer.”

Aan die einde van 1960 het ds. Brink ‘n beroep na die NG Gemeente Die Strand aanvaar, ‘n gemeente en dorp waar hy die volgende 23 jaar tot met sy aftrede in 1983 diep spore getrap het. Dit was veral sy visie en aanslag vir bejaardesorg wat in die annale van die Strand opgeteken is vir die geslagte wat kom. Met sy bevestiging as leraar in die Moedergemeente het hy letterlik ‘n dorp vol weduwees en bejaardes gevind, en die haglike toestand van die onversorgde bejaardes het hom en sy vrou aan die hart gegryp. Hulle het dit hul lewensideaal gemaak om saam met die kerkraad en ander rolspelers ‘n plan van aksie op te stel om die toestand te beredder. In die Strand is verskeie huise vir bejaardes opgerig, een daarvan is Huis Pam Brink. Later het Esperanza, Ametis, Altena en Serenitas gevolg. In die Strand is begrafnisse ‘n alledaagse verskynsel, en hieroor het ds. Brink in 1983 met sy aftrede geskryf: “Uitstaande bly die feit dat ‘n mens oor ‘n tydperk van 23 jaar gemiddeld 60 tot 80 mense per jaar begrawe het. Hulle het hierheen gekom vir die laaste skof. Maar nou moet iemand nog een enkele teks in die Bybel kom wys wat spesifiek by ‘n begrafnis gebruik is. Ook dit het sy kosbare kleur aan die lewe hier gegee, dit, dat so baie hier kom oorstap het.”

Na sy aftrede op 29 Mei 1983 het die egpaar in Myburghstraat 63 in die Strand bly woon. Hierna was hy en sy vrou 13 jaar lank behulpsaam in die gemeente Macassar, en in 1991 is ‘n eie kerkgebou ingewy. Ds. Brink het na sy aftrede steeds na sy groot geestelike familie omgesien, in sy netjiese handskrif is almal gereeld dwarsoor die wêreld bemoedig. Die laaste jare van sy lewe het hy gegee aan die bestuur van die bejaardesorg inrigtings.

Uit Pam en Frieda se huwelik is ses kinders gebore, al die kinders is getroud en daar is 23 kleinkinders en 5 agterkleinkinders. Hulle oudste kinders is ‘n tweeling, ‘n seun Matie en ‘n dogter Marina. Matie is vernoem na sy oupa ds. MB (Matie) Brink en is tans leraar van die NG Toringkerk in die Paarl. Hy is landwyd bekend as potjiekos kenner en sit die predikante-tradisie in die familie voort.

Ds. Pam Brink het op 27 Julie 2003 gesterf en sy seun, dr Matie Brink, was die liturg by ‘n roudiens in die NG Moederkerk in die Strand. Hy skryf: “Pa was ‘n selfgemaakte koringsnyer. Hy was ‘n selfgemaakte vrugtepakker. Hy was ‘n selfgemaakte boer. Hy was ‘n selfgemaakte mechanic. Hy was ‘n selfgemaakte fotograaf. Hy was ‘n selfgemaakte dokter. Hy was ‘n selfgemaakte bouer. Hy was ‘n selfgemaakte storieverteller. Hy was ‘n Godgemaakte evangelis. Daar sal nie meer papwiele of mismoedige mense in die hemel wees nie. Ons eer hom.” – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2005/346).