Brink, Marthinus Beyers * 1945

 

Gebore

18 Des. 1945

OORLEDE

22 Des. 2006

UNIVERSITEIT

BA (Hons); MA, BTh, MTh, DLitt

gelegitimeer

1969

ORDEN

1970

STANDPLASE

1970 Ladismith

1973 Noorder-Paarl (nou Toringkerk)

EMIRITEER

2005

Marthinus Beyers Brink is een van ‘n tweeling en is op 18 Desember 1945 op Gansbaai gebore. Sy tweelingsuster is Marina. In die omgangstaal staan hy bekend as Matie. Sy vader was ds. PAM Brink wat met die geboorte van die tweeling, predikant was op Gansbaai. Hy bedien ook die NG Gemeentes Grootdrink, Luderitz, Mern in die destydse Tanganjika en later in die Strand. Ds. PAM Brink verwerf bekendheid vir die bou van verskeie aftree-oorde en huise vir bejaardes in die Strand.

Oor hulle werk in Midde-Afrika, skryf sy seun ds. Matie Brink: “Later sou Pa en Ma ook die gemeente Nairobi in Kenia saam bedien, twee pastorieë 175 myl uitmekaar. Die Brinks het saam met Uhuru die laaste boere help terugbring.” Matie is vemoem na sy oupa ds. Marthinus Beyers Brink, leraar op Daniëlskuil en daama ‘n kwarteeu lank op Sutherland in die Groot-Karoo. Hierdie ds. Matie Brink van Sutherland maak die Hollandse tulp ‘n Suid-Afrikaanse blom en met sy emeritaat in 1950 is daar 43 000 bolle met 23 verskillende kleure op Sutherland in die Roggeveld.

Matie gaan op verskeie plekke skool, onder meer op Upington om naby oupa en ouma Frans van Wyk van Grootdrink te wees. In die tyd was Matie se ouers in Midde-Afrika in die bediening. Matie matrikuleer aan die Hoërskool Hottentots-Holland in die Strand, waama hy na die Universiteit van Stellenbosch vertrek om predikant te word. Hieroor skryf sy vrou Cheryl: “Matie het geroepe gevoel om predikant te word en sy vader was in hierdie opsig sy mentor en rolmodel. Al wat ek weet, is dat hy opreg liefde vir sy Skepper gehad het en dat hy ‘n groot passie vir sy werk vir die Here en vir die behoeftes en lief en leed van sy medemens gehad het. Diversiteit was ook vir hom belangrik en hy het gereeld vir die mense van Mbekweni met kos (ook sy passie) gesorg.”

Op Stellenbosch behaal hy die BA (Admissie) -graad en blink veral uit in Semitiese Tale waarin hy ‘n MA-graad en sy doktorsgraad verwerf. Hy word student aan die Fakulteit Teologie op die walle van die Eersterivier, waar hy hom uitleef en word op 28 November 1969 op Stellenbosch as proponent gelegitimeer. Prop Matie Brink word op 21 Februrie 1970 met handoplegging in die NG Gemeente Ladismith (Kaap) bevestig. Sy vader, ds. PAM Brink van die Strand, het die rede gelewer en sy moeder Frieda het sy toga omgehang. Hier het hy baie vir die jeug en die KJA gedoen – ‘n jeugkompleks met swembad is onder meer gebou.

Op 30 November 1973 word ds. Matie Brink herder en leraar in die NG Gemeente Noorder-Paarl (Toringkerk); hier werk hy 31 jaar lank tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 31 Augustus 2005. Sy vrou Cheryl skryf: “Matie het ‘n groot passie vir jongmense gehad en baie moeite, liefde en tyd spandeer aan jong lidmate. Hy het ‘n Tekkiekerk en Koffiekroeg in die lewe geroep by die Toringkerk. Matie het begin siek word net nadat ons in die Paarl gekom het, hy het hartprobleme ontwikkel. Matie het ongeveer 20 jaar gelede ‘n vier-dubbele hartvat-omleining in die Kaap ondergaan en daarna ‘al die punte bymekaar getrek’ en voluit geleef en volstoom met sy werk voortgegaan.

“Matie het baie belanggestel in mense en vriende, hy het ‘n ryk en vol lewe gehad. Hy het omtrent `geleef en rus nou by sy Hemelse Vader vir wie hy so lief was. Na sy aftrede kon Matie nie stilsit nie, hy het aangegaan met sy bedrywighede, nog meer aandag gegee aan sy waterplante, diere en die sorg van kos vir Mbekweni se mense.”

Dr Matie Brink was oor die land bekend as ‘n kenner van potjiekos, uit sy pen het verskeie resepteboeke verskyn. Hy het bekend gestaan as die Potjiekoskoning en Cheryl as “Mev Potjiekos”. Sy kollega, ds. Jaco Thom, skryf: “Kosmaak was deel van sy lewe. Ek het my altyd verstom oor hoe maklik hy kos kon maak. As ons predikante op ‘n beplanningsessie weg was, het hy altyd die kos gemaak, sommer so tussen die praat deur, en dan is dit klaar. Hy het geglo die etenstafel bring mense bymekaar (‘n heel Bybelse gedagte, want die liefdesmaal in Bybelse tye was deel van die gewone gemeente-byeenkomste); Matie was ‘n nederige man, ten spyte van baie gawes wat die Here hom gegee het. Ek was altyd verstom oor sy vermoë om telefoonnommers te onthou. En die soort boeke wat hy gelees het. Oor sy geleerdheid was hy baie beskeie. Ek het, toe ek hier gekom het en hom nog nie op voomaamterme geken het nie, vir hom as “doktor” aangespreek, maar daarmee was hy glad nie gelukkig nie. Hy het gesë netnou dink die mense hy weet iets.

Matie het ‘n onblusbare lewenslusgehad ten spyte van swak gesondheid en baie persoonlike terugslae. Ek het hom dikwels ontevrede gesien oor een of ander besluit van ‘n vergadering waarmee hy nie saamgestem het nie, maar ek het hom nooit moedeloos gesien nie. Daarvoor het hy te goed verstaan dat ons in die Here se hand en uit sy hand leef, en op pad is na die ewige wonings, waar hy op Vrydag, 22 Desember 2006, aangekom het”.

Matie is op 15 Desember 1967 getroud met Cheryl Elizabeth Ruthven van die Strand. Uit die huwelik is vyf kinders gebore: ‘n Tweeling, Philippus Albertus Myburgh en Walter George Brink. Philip is getroud met Marianna du Plessis en hulle het twee dogters, Liza en Alta. Walter is getroud met Yolande Visser, hulle eersteling is oppad en sy naam gaan klein Matie (Marthinus Beyers Brink) wees. Liezel Pauline is getroud met Malcolm Brink en hulle woon in Engeland. Hulle het drie dogtertjies, Cheryltjie, Kaylene en Annelize. Cheryl-Mari is getroud met Kevin Moore en hulle woon in Engeland, hulle het ‘n seuntjie Ridley Adam Moore. Martelize Brink is die jongste kind en sy werk by RSG in Kaapstad.

Dr Matie Brink sterf op 22 Desember 2006 kort na sy 61ste verjaarsdag aan ‘n hartaanval. Hy word op 9 Januarie 2007 uit die NG Gemeente Toringkerk begrawe, ds. Carel Lotz bedien die Woord en ds. Jaco Thom lewer ‘n huldeblyk. ‘n Mede-koskenner, Andries Krogmann, vertel dat alhoewel hy ‘n hoogs opgevoede leraar was, hy steeds plat op die aarde gebly en diep omgegee het vir sy medemens. Hy was ook ‘n ewige optimis wat telkemale die lig aan die einde van die tonnel gesien het, terwyl ander om hom wanhopig was.” (Jaarboek 2008/388).