Gebore
23 Mrt. 1922
OORLEDE
27 Febr. 2001
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1946
ORDEN
1947
STANDPLASE
1947 Protektoraat
1950 Duplooysburg
1967 Rossville-Rhodes
1974 Dewetsdorp
EMIRITEER
1988
Beyers (of “Boesman”) Brink was die seun van ds. MB Brink en Hendrina Susanna Malan. Hy is gebore op 23 Maart 1922, as die vyfde van sewe pastoriekinders. Sy vader was in daardie stadium leraar op Daniëlskuil.
Beyers het sy laerskool en ‘n gedeelte van sy hoërskoolopleiding op Sutherland ontvang (1929-1936) waar sy vader predikant was vir die laaste 23 jaar van sy bediening. Daarna het hy die Hoër Jongenskool op Stellenbosch bygewoon (1937-1938) terwyl mnr. Paul Roos nog die skoolhoof was.
As skoolseun het hy reeds vir die universiteit se bofbalspan gespeel. Daarna het hy ‘n Matie geword (1939-1941) en is hy in 1942 tot die Kweekskool toegelaat sonder ‘n graad, omdat hy genoeg vakke gehad het om te kwalifiseer. In hierdie tyd het hy steeds vir die universiteit bofbal gespeel, was hy die kaptein van die WP Bofbalspan en lid van die nasionale span wat teen die Amerikaners gespeel het. Hy is in 1946 gelegitimeer.
Sy eerste gemeente was die destydse gemeente Protektoraat (Betsjoeanaland) waar hy op 9 April 1947 te Lobatsi bevestig is. Hy het drie jaar daar gedien voordat hy in 1950 ‘n beroep na Duplooysburg aanvaar het. Sy bediening is vir ‘n ruk onderbreek toe hy in 1952 demissie kry met behoud van status om op die familieplaas, Clifford, in die Barkly-Oos-distrik te gaan boer. Vir sestien jaar het ds. Brink heelwat gemeentes in die Oos-Kaap deeltyds bedien. Hy het byvoorbeeld meer in Barkly-Oos gepreek as enige ander leraar in die gemeente se honderd-jarige bestaan.
Hy het in 1967 teruggekeer na die bediening en is op Rossville-Rhodes bevestig. Na ‘n gelukkige bediening van sewe jaar in hierdie skilderagtige dorpie, het hy na Dewetsdorp verskuif waar hy op 12 Januarie 1974 bevestig is. Hy het in die gemeente gearbei tot met sy aftrede in 1988. Hy het onder andere meegewerk aan die bou die Stillehawe-huis vir bejaardes op Dewetsdorp. Sy bediening in al sy gemeentes is deur sy toewyding aan huisbesoek en Woordverkondiging gekenmerk. Op kerklike terrein was hy veral betrokke by die Diens van Barmhartigheid. Ds. Brink het onder andere in die Vrystaatse Sinodale Kommissie vir Diens van Barmhartigheid gedien.
In sy laaste studiejaar het ds. Brink in die huwelik getree met Emmi Elizabeth Viktoria Wink wat hy tydens ‘n vakansie op Barkly-Oos ontmoet het. Dit was ‘n gelukkige en geseënde huwelik en hulle is met twaalf kinders geseën: Marthinus Beyers (1946); Elizabeth Margarete (1947); Hendrina Susanna (1948); Johan Philip Adam (1950); Emmi Elizabeth Viktoria (1952); Augusta Elizabeth (1953); Elza Johanna (1955); Abraham Hugo Malan (1959); Maria Jacoba (1961); Theodore Christiaan Wink (1964) en die tweeling, Juliana en Rhoda (1968); Al twaalf kinders is intussen getroud en daar was in 1997 reeds 32 kleinkinders en 3 agterkleinkinders. Voorwaar ‘n pragtige huisgesin! Die kinders beskryf hulle verhouding met hulle pa as “fantasties”. Een van hulle, Johan, is tans predikant in Fochville-Noord.
Na sy aftrede het ds. Brink-hulle op Fochville gaan woon, waar hy bekend was as “ou dominee” of “die spaarwiel van die gemeente”. Hy het ook nog afloswerk in ander gemeentes gedoen. Tussendeur het hy homself besig gehou met houtwerk en die mooiste kinderspeelgoed gemaak. Oor die stokperdjie het hy gesê: “Om met hout te werk, is ‘n voorreg, want ons Here het dit ook gedoen – hout lewe en gee aan jou die tyd om te dink.”
Die kerkgebou van Fochville-Noord en talle huise in die gemeente dra die stille getuienis van sy handvaardigheid in sy laaste jare. Hy was ook saam met sy seuns betrokke by ‘n onderneming in staal draaiwerk, waar hy ‘n direkteur was.
Ds. Brink is op 27 Februarie 2001 oorlede nadat kanker reeds in 1990 by hom gediagnoseer is. Nadat die kankerbehandeling op sy eie aandrang gestaak is, het hy nog ‘n jaar lank geleef. In November 2000 moes hy egter ‘n breukoperasie ondergaan en het die siekte progressief voortgegaan sodat hy later gedeeltelik verlam was en in Februarie in die Wilgers-Hospitaal in Pretoria opgeneem moes word. Hy is daar oorlede. Ten spyte van sy swak gesondheid, het hy op Kersdag 2000 nog op Fochville gepreek.
Beyers Brink het uit ‘n predikante familie gekom. Hy was ‘n goeie predikant wat ‘n pragtige verhouding met sy gemeentelede gehad het. Sy gemeentes was lief vir hom. Teen die einde was hy veral bekend vir sy indringende begrafnis preke. Hy was ook besig om ‘n bundel met begrafnis boodskappe te skryf.
Ds. Beyers Brink sal onthou word vir sy wysheid en geduld. Hy het nooit sy eie eer gesoek nie. Hy kon ‘n atmosfeer van rustigheid skep. Hy wou altyd graag die beste in almal sien en niemand moeite aandoen nie. Hy was ‘n vader vol van wysheid en kennis, van liefde en deernis. Sy kinders was sy trots en die punt van sy hart, terwyl hy so baie in die lewe vir hulle opgeoffer het. Op sy stil en beskeie manier het hy ‘n baie duidelike stempel van liefde op sy gesin afgedruk. Hy het elkeen voorgetrek. Sy stem is nou stil, maar sy gedagtenis en voorbeeld sal met ons bly. Ons dank die Here vir ‘n besondere mens soos Beyers Brink.
In sy begrafnisbrief het sy eggenote en elkeen van die kinders ‘n afskeidswoordjie geskryf. Dit is aangrypend om te lees watter intieme plek hy in elkeen se lewe ingeneem het. Gesamentlik skryf hulle hierdie treffende groet wat getuig van die besondere, maar beskeie plek wat hierdie man gevul het:
Daar was eendag ‘n wyse man
wat kennis van die berge gehad het
Sy hare was van silwer en sy hande was van ruwe hout,
Sy oë het die mooi in die dag gesien, en sy stem het dit oorvertel.
Sy voete het hulle spore gelos sodat ander nie verdwaal nie.
Almal wou soos hy wees,
want sy hart was suiwer goud.
Ons het hierdie wyse man ons “Pappa” genoem.
(Dirk Viljoen, aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 25 Maart 1997 ingevul het en ‘n gesprek met sy eggenote, sowel as ‘n besondere begrafnisbrief wat sy aangestuur het.) (Jaarboek 2001/335).