Gebore
13 Nov. 1901
OORLEDE
8 Feb. 1972
UNIVERSITEIT
US
gelegitimeer
1927
ORDEN
1928
STANDPLASE
Heidelberg, Tvl. (Hulpprediker.)
1928 Dullstroom
1934 Witbank
1941 Roodepoort
1945 Johannesburg
1959 Sendingsekretaris, Noordelike Streeksinode
EMIRITEER
1965
Ds. Cornelis Bertie Brink het veral as moderator van die Transvaalse Sinode van 1951 tot 1957 ‘n belangrike rol in ons kerklike lewe gespeel en hom as een van die Kerk se sterkste leiers laat ken. Hy is op 13 November 1901 in die distrik Ceres gebore en het sy teologiese opleiding op Stellenbosch ontvang. Einde 1927 tot die bediening toegelaat, word hy hulpleraar van die bekende ds. A. J. Louw op Heidelberg, Transvaal. Daarna bedien hy Dullstroom (1928); Witbank (1934) en Johannesburg (Braamfontein) (1945); Oral bou hy deur harde werk en verstandige optrede die gemeentes op. In die Afrikanergemeenskap van die Goudstad speel hy ‘n leidende rol, terwyl hy hom vir onderwyssake beywer. Intussen tree hy ook in die Transvaalse Sinode steeds meer op die voor grond, met die gevolg dat hy in 1944 aktuarius, in 1948 assessor en in 1951 moderator word. Vanaf 1953 tot 1955 dien hy as voorsitter van die Raad van die Kerke en in 1959 word hy ook as moderator van die Suid-Transvaalse Streeksinode gekies. In 1959 aanvaar hy die benoeming as Sendingsekretares van Noord-Transvaal, ‘n betrekking wat hy nie lank beklee nie, omdat ʼn breinoperasie hom in 1963 verplig om af te tree. Hy verrig daarna egter in verskeie gemeentes hulpdiens en in 1968 word hy weer assessor en wel van die Suid-Transvaalse Sinode. Hy het die Kerk by verskeie byeenkomste in die buiteland verteenwoordig. Hierdie Bolandse seun wat sy hele bediening in die Transvaal deurgebring het, was ‘n begaafde leier, ‘n helder denker en ‘n boeiende prediker – inderdaad ‘n gawe van God aan die Kerk. Hy is op 8 Februarie 1972 in Johannesburg oorlede. (Jaarboek 1973/463)