Breet, David

 

Gebore

1 Jul. 1903

OORLEDE

21 Mei 1982

UNIVERSITEIT

Sending Instituut

gelegitimeer

1930

ORDEN

1932

STANDPLASE

1932 Jacobsdal

1933 Koffiefontein

1935 Petrusburg

1936 Kassier Bloemfontein

1937 Wolmaransstad

1942 Scriba/Kassier Beaufort-Wes

1944 Vredefort

EMIRITEER

1959

Ds. David Breet (1 Jul. 1903 – 21 Mei 1982) is in die swaar tyd wat veral vir die Vrystaat op die verwoesting van die Anglo-Boereoorlog gevolg het, op Poortje in die distrik Edenburg gebore. Sy eerste onderwys ontvang hy van sy ouma De Beer en daarna gaan hy na plaasskole in die distrikte Trompsburg en Edenburg, voordat hy agtereenvolgens die skole op Trompsburg, Fauresmith en Philippolis bywoon. Aan laasgenoemde skool slaag hy st 9. In sy kinderjare kom hy geestelik onder die invloed van Edenburg se leraar, wyle ds. Pieter du Toit, sowel as van die predikers by die destydse spesiale dienste. Wyle ds. Pieter van der Merwe, die Vrystaat se sendingsekretaris, raai hom sterk aan om na die Kweekskool op Stellenbosch te gaan, maar die geldelike middele daarvoor ontbreek. Deur Bybelstudie en sielsoortuiging gedring om evangeliedienaar te word, neem hy in die eerste helfte van 1924 die admissie-eksamen aan die Sendinginstituut op Wellington. In Julie daardie jaar is hy op Edenburg op skool terug, maar toe word hy weens siekte verplig om die skool te verlaat. Die jaar daarna is hy vir st 10 onder wyle mnr Paul Roos op Stellenbosch en toe slaag hy ook die Afrikaanse Hoër Taalbondeksamen. Die tweede helfte van 1927 berei hy hom op Wellington vir die toelating tot die Sendinginstituut voor en van 1928 af volg hy die voorgeskrewe kursusaan die inrigting, om November 1930 as sendeling toegelaat te word. In April 1931 tree hy as die eerste leraar van Jacobsdal se sendinggemeente in diens. Omdat dit in die depressietyd was, is hy slegs vir ‘n jaar aangestel teen ‘n vergoeding van £150. Toe sy dienstermyn ‘n jaar verleng word, word die traktement noodgedwonge tot ‘n karige £84 verminder, met die gevolg dat hy saam met sy gemeentewerk ook die boekhouding van ‘n winkel moet behartig. Gelukkig willig die kerkraad van Koffiefontein toe in om £60 per jaar by te dra as hy ‘n derde van sy tyd aan die bearbeiding van hul gekleurdes wy. Intussen maak hy eiehandig ‘n netjiese preekstoel vir sy kerkie en op 17 Sept. 1932 word hy op Jacobsdal georden en bevestig. Teen die einde van 1934 kan Koffiefontein weens die drukkende geldelike omstandighede sy verpligting teenoor die sendeling nie langer nakom nie, maar toe gaan Jacobsdal weer met Petrusburg ‘n dergelike ooreenkoms aan, sodat hy sy werk nog ‘n jaar kan voortsit. Einde 1935 besluit albei kerkrade egter dat hulle die las nie verder kan dra nie en bowendien laat die leraar se gesondheid soveel te wense oor dat hy bedank om in 1936 skriba-kassier en koster van die gemeente Bloemfontein te word. Van Desember 1937 af staan hy in die sendinggemeente Wolmaransstad, maar 1942 word hy skriba-kassier van Beaufort-Wes. Sy laaste vaste gemeente, Vredefort, bedien hy van Februarie 1944 tot Februarie 1951. Buiten die sogenaamde “verenigde” skool en twee Kleurlingskole, was daar destyds agt sendingskole in die omgewing. In 1959 tree hy uit die bediening. Terwyl hy en sy eggenote in Vasco naby Kaapstad woon, doen hy van tyd tot tyd afloswerk in gemeentes en ‘n tydjie help hy ook met die hospitaalarbeid in die Suid-Skiereiland. Sy hele lewe lank het hy met swak gesondheid te kampe gehad, maar hy het steeds die krag van die gebed ondervind. (Jaarboek 1983/259).