Breedt, Johannes Marthinus Nicolaas * 1919

 

Gebore

19 Okt. 1919

OORLEDE

30 Mrt. 2008

UNIVERSITEIT

US

gelegitimeer

1945

ORDEN

1946

STANDPLASE

1946 Nieuwoudtville

1951 Oos-Londen

1952 Oos-Londen-Suid

1957 Worcestervallei

1962 Porterville

1966 Bultfontein-Oos

1972 Boston

1978 Theunissen-Wes

EMIRITEER

1984

Johannes Marthinus Nicolaas Breedt is op 19 Oktober 1919 op Dewetsdorp, suidoos van Bloemfontein, gebore. Sy vader was Dirk Cornelius Breedt en sy moeder Maria Frahsina Botha. In 1927 het Hannes met sy skoolopleiding aan die plaasskool Beyersberg in die distrik Dewetsdorp begin, waar hy die vreugde van ‘n boeregemeenskap beleef het. In 1934 het hy ‘n leerling aan die Hoërskool Dewetsdorp geword, waar hy in die jaar van die Voortrekker-Eeufeesjaar in 1938 gematrikuleer het.

In 1939 het Hannes aan die Universiteit van Stellenbosch begin studeer, waar hy in 1941 die graad BA-Admissie ontvang het. In 1942 het hy hom aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch ingeskryf, waar hy aan die einde van 1945 as proponent gelegitimeer is. Hierna het hy ses maande lank afloswerk in die NG Gemeente Salisbury in Suid-Rhodesië gedoen. Hannes is op 1 Desember 1945 met Jacoba Maria Elizabeth Smit getroud, en uit die huwelik is vier kinders gebore: Elsie Johanna, Maria Fransina, Dirk Cornelis en Elizabeth.

Die naweek van 4 Augustus 1946 is hy met handoplegging in die NG Gemeente Nieuwoudtville bevestig. Die bevestigingsrede is deur ds. C Muller van Calvinia gelewer, tenvyl ds. Kolie Kotzë die nagmaalsdiens waargeneem het. In die jong ds. Hannes Breedt se dienstyd het die gemeente (in 1947) sy eeufees gevier, en het hy as pastor loci ‘n gedenkboek oor dië NG gemeente geskryf. Hy was ook betrokke by die bou van ‘n nuwe pastorie op Nieuwoudtville.

‘n Roepstem na die NG Gemeente Oos- Londen het die jong leraarspaar op 17 Februarie 1951 na dië bekende stad gebring. Na ‘n jaar het die afstigting van die NG Gemeente Oos-Londen-Suid plaasgevind, waar hy op 8 November 1952 as eerste leraar bevestig is. Hierna het sy pad na die NG Gemeente Worcester-Vallei geloop, waar hy op 20 Julie 1957 bevestig is. Op 5 Augustus 1962 het ds. Hannes leraar van die NG Gemeente Porterville in die Swartland geword.

Op 27 Augustus 1966 is hy bevestig as leraar van die NG Gemeente Bultfontein-Oos, waar hy gewerk het tot met sy vertrek na die Kaapse Skiereiland. Na sy bevestiging op 12 Augustus1972 in die NG Gemeente Boston in Bellville, was hy intens betrokke by evangelisasie in die gemeente. Na ses jaar het hy teruggekeer na die NG Gemeente Theunissen-Wes, waar hy op 8 Desember 1978 ontvang en bevestig is. Hier het hy en sy lewensmaat die Here tot met die aanvaarding van sy emeritaat op 18 Oktober 1984 gedien.

Hiema het ds. en mev Hannes Breedt in Kusweg, Gordonsbaai gewoon. Hy was ouderling in sy gemeente en het soms op uitnodiging gepreek. Mettertyd het hulle na die aftree-oord Serenitas in die Strand verhuis, waar hy op 30 Maart 2008 oorlede is. Hy word onthou as ‘n mooi boom in God se tuin, iemand wat ‘n leeftyd in Koninkryksdiens gestaan het. (Jaarboek 2009/383).