Gebore
7 Apr. 1921
OORLEDE
21 Mei 2009
UNIVERSITEIT
–
gelegitimeer
1945
ORDEN
1946
STANDPLASE
1942 Goedgegun
1951 Skanskop
1957 Leeu-Gamka
1962 Springs-Noord
1966 Richmond
1970 Vryburg
1974 Witpoortje
EMIRITEER
1986
Theunis Louis Botha is op 7 April 1921 op die plaas Daniëlskuil naby Steynsrus gebore. Die Bothas was ‘n geslag van boere, sy oupa was Theuns Louis Botha van die plaas Ellensrust in die distrik Senekal. Sy ouma was Elizabeth Johanna de Wet, naby familie van generaal CR de Wet. Theuns is as vyfjarige skool toe en het in 1938 aan die Hoërskool Steynsrus gematrikuleer. Hy was ‘n bedrewe perderuiter en het ook in rugby en atletiek uitgeblink.
Na matriek het Theuns met geldelike hulp uit die distrik Steynsrus na Stellenbosch vertrek en die graad BA behaal, wat hom in 1942 toegang tot die Teologiese Seminarium verleen het. Tydens sy jare in die Kweekskool is hy geestelik en akademies toegerus vir die bediening. In die kort vakansies het hy nie Vrystaat toe gereis nie, maar druiwe gepak vir boere en so sakgeld verdien. Aan die einde van 1945 is Theuns as proponent toegelaat en na die NG Gemeente Goedgegun in Swaziland beroep (naby die Suid-Afrikaanse dorp Piet Retief); Hier is hy op 24 Mei 1942 met handoplegging ontvang en bevestig. Die gemeente het uit tabakboere, ‘n polisie korps en ‘n grenspos bestaan.
Ds. Theuns Botha is op 31 Maart 1951 as leraar van die NG Gemeente Skanskop in Pretoria bevestig, en op 27 Julie 1957 in die NG Gemeente Leeu-Gamka naby Beaufort-Wes. In 1962 is hy beroep na die NG Gemeente Springs-Noord aan die Oos-Rand, en op 1 Oktober 1966 het hy leraar van die NG Gemeente Richmond geword. Na ‘n paar jaar het hy ‘n beroep na die NG Gemeente Moedergemeente Vryburg aanvaar, waar hy op 5 September 1970 bevestig is. Op 2 Februarie 1974 het hy teruggekeer na die Witwatersrand en leraar van die NG Gemeente Witpoortjie in Roodepoort geword.
Theuns het sy toekomstige vrou, Glaudina Johanna (Dinie) de Villiers, by die stranddienste op Strandfontein ontmoet. Sy was ‘n onderwyseres op Vanrhynsdorp. Hulle is op 13 Desember 1946 in die Groote Kerk in Kaapstad getroud, en ses kinders is uit die huwelik gebore: Danie (wat betrokke is by die NG Gemeente George-Bergsig); Ina, Erina, Willie, Estelle (wat as ‘n lugwaardin in 1987 in die Helderberg-vliegramp oorlede is) en Theuns.
Hier in Roodepoort het ds. Theuns gewerk totdat hy op 27 April 1986 emeritaat aanvaar het. Daarna het die egpaar op Stilbaai afgetree, waar hy steeds as prediker opgetree en bidure en Bybelstudies gelei het. Na die dood van sy vrou op 24 September 2002 het ds. Theuns in Huis Stilbaai gaan woon, waar hy op 21 Mei 2009 oorlede is.
Danie skryf oor sy pa: “Sy bediening is deurgaans gekenmerk deur ‘n besondere liefde vir die deursneelidmaat, ook sy bediening aan jongmense en skoolkinders. Hy was gereeld betrokke by kategese- en belydenis kampe, ook in sy laaste gemeente Witpoortjie by die NG Kerk se kampterrein by Achterberg. Hy was ‘n praktiese en handige mens wat twee woonwaens self ontwerp en gebou het. Hy was ‘n baie handige hout- en skrynwerker wat dwarsdeur sy lewe die stokperdjie beoefen het.” – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2012/391).