Gebore
03 Des. 1935
OORLEDE
13 Sept. 1999
UNIVERSITEIT
(Honn.)
gelegitimeer
1959
ORDEN
1960
STANDPLASE
1960 Njassa-Sending (1960 Mphunzi en Dzenza)
1961 Kongwe
1965 Mvera
1974 Lingadzi-Lilongwe)
1974 Mosambiek (Mzewe en Mawi)
1976 Cape Peninsula Reformed Congregation, met opdrag Arbeid onder Portugese
1984 Igreja Reformada do Cabo (Portugese Gem. Kaapstad)
1986 na IREM: Tsakane (Opleiding Teol. Skool, Ricatla, by Maputo)
EMIRITEER
1993
Ds. Pieter Barend Botha (BA Hons) 03 Des. 1935 – 13 Sept. 1999
Hoewel hierdie besondere en ywerige dienskneg van die Here in September 1999 die stryd teen leukemie verloor het, het hy in die wedloop van die geloof tot die einde toe volhard en oorwin.
Pieter Botha is op 3 Desember 1935 te Garies in die Noordwes-Kaap gebore. Hy het daar grootgeword en gematrikuleer. Na sy teologiese opleiding te Stellenbosch, is hy in 1959 gelegitimeer en in 1960 georden vir die Njassa-sending. Daar het hy vier gemeentes bedien, naamlik Mphunzi (1960); Kongwe (1961); Mvera (1965) en Lingadzi-Lilongwe (1974); Sy visie vir die onbereikte mense van Mosambiek het gedurende hierdie tydperk sterk gegroei sodat hy onophoudelik vir oop deure gebid en gewerk het. In 1974 het hy en sy vrou in hierdie oorlogsgeteisterde land inbeweeg en by Mzewe en Mawi begin werk, ten spyte van die gevare.
In hierdie tyd is die eerste twee ouderlinge, brs FE Kassamba en DE Chikakuda, gestuur om as leraars vir Mosambiek in Zambië opgelei te word. Pieter se werk daar het die grondslag vir die Kerkorde van die IREM (Igreja Reformada em Mocambique) gelê.
In 1976 moes hy en sy gesin noodgedwonge Mosambiek verlaat en het hy in die Cape Peninsula Reformed Congregation met opdrag Portugees-sprekendes begin werk. In 1984 is hy benoem as leraar van die Igreja Reformada do Cabo (die Portugese gemeente van Kaapstad); In 1986 het die deure van Mosambiek uiteindelik finaal oopgegaan en kon hy dus’n beroep na die Igreja Reformada em Mocambique aanvaar waar hy as skakelbeampte van die kerk en as dosent by die Tsakana-Teologiese Skool te Ricatla by Maputo werk.
In 1993 het hy vervroegde emeritaat aanvaar om ruimte te maak vir nog ‘n sendeling wat as dosent kon werk, sodat hy hom voltyds op sy werk as sendeling en skakelbeampte van die kerk kon toelê. In 1994 is sy droom van ‘n eie teologiese skool vir die IRM met die stigting van Hefsiba-Teologiese Skool te Villa Ulongo bewaarheid. In November 1997 is die eerste proponente daar gelegitimeer. ‘n Hele geslag jong leraars wat vroeër as studente onder hom gestudeer het, het na hom opgesien as hulle geestelike vader.
In die laaste jare het hy hom veral beywer vir uitreikaksies na die onbereikte volksgroepe in die verre noorde van Mosambiek en vir die daarstelling van projekte om armoede te beveg en ontwikkeling te stimuleer. Hy het hom ook beywer vir die toenemende betrokkenheid van gemeentes in Suid-Afrika by die groeiende jong kerk van Mosambiek.
In Maart 1999 is leukemie by hom gediagnoseer en moes hy vir drie maande lank twee reekse chemo-behandelings teen hoë koste in Pretoria gekry. Hy het egter teruggekeer na Mosambiek om ‘n geestelike werker by die Makwe-stam in die noord-oostelike hoek te plaas.
Met sy terugkoms in Pretoria moes het hoor dat die kankerselle in sy bloed toegeneem het. Hy het verkies om nie weer behandel te word nie. Op 13 September 1999 is hy in Maputo oorlede, gelukkig en bereid om te gaan. Sy teraardebestelling het plaasgevind in Villa Monque by die Teologiese Opleidingskool Hefsiba. Nie net was dit sy begeerte nie, maar van die eerste leraars wat daar opgelei is, het hom in sy laaste dae besoek en die familie gevra om hom daar te begrawe “aangesien hy hulle pa is”.
Pieter se liefde vir die Skrif, veral die Ou Testament, het bygedra tot sy liefde vir die land Israel. Hy was ‘n kenner van Israel en het nog in Maart 1999, toe hy reeds siek was, as toerleier ‘n groep predikante na Israel geneem ten spyte van advies van sy dokter daarteen. Hy wou hulle ook vertroud maak met die land en sy vurige hoop laat deel dat God se genade deur JesusChristusook uiteindelik vir die Joodse volk sou deurbreek.
Pieter sal deur sy familie, sy vriende en kollegas en die kerk onthou word as iemand met ‘n brandende passie vir die evangelie, ‘n visie vir die kerk in Mosambiek, ‘n ononderbroke toewyding aan die saak van die Here en ‘n roepingsbesef wat meegebring het dat hy vir geen ongerief of opoffering teruggedeins het nie. Die woorde van Mal 3: 16-17 sal op ‘n besondere manier aan sy werk en lewe verbind kan word: “Daar is ‘n gedenkboek voor Hom geskryf met die name van die wat eerbied vir die Here het en waarde heg aan sy Naam ”
Uit sy huwelik met Jeanette Hugo is ses kinders gebore: Hanlie, Griet, Kobus, Jeanette, Hester en Hugo. Daar is reeds tien kleinkinders. Vir sy dierbares is sy heengaan ‘n groot verlies. Mag die mooi herinneringe en sy nederigheid en liefde, sy toewyding en beginselvastheid steeds vir elkeen van hulle lewenslank bybly. – Ds. Andries Louw, aangevul deur Dirk Viljoen. (Jaarboek 2001/336)