
Gebore
29 Okt. 1901
OORLEDE
5 Des. 1979
UNIVERSITEIT
BA; MA (US); M.Th. (Princeton); D.D. (UP)
gelegitimeer
1931
ORDEN
1932
STANDPLASE
1932 Middelburg, Tvl. (Hpr.)
1932 Ladysmith (Natal)
1945 Villieria
1952 Dosent Hug. Kollege, Wellington
1958 Jeppestown
1960 Randse Sekr. vir Diens van Barmhartigheid
1962 Edenvale
12 Junie 1965 Eendracht
EMIRITEER
1968
Dr Louis Lawrence Nel (Lawrie) Botha (29 Okt. 1901 – 5 Des. 1979); wat op kerklike gebied veral vir sy belangrike bydrae tot die uitbou van die barmhartigheidsdiens onthou sal word, is na ‘n operasie in ‘n Kaapstadse hospitaal oorlede. Op Greytown in Natal waar hy as boerseun gebore is, ontvang hy sy eerste skoolonderrig in die Goede Hoop CNO-skool wat deur ons kerk begin en in stand gehou is en ‘n eie boerestempel gedra en ‘n geestelik-godsdienstige atmosfeer geadem het. Toe die skooltjie ʼn betreklik kortstondige bestaan nie langer kop bo water kon hou nie, moes hy en die ander Afrikaanse kinders noodgedwonge na die Engelse dorpskool oorskakel. Later gaan hy na die Hoërskool Ermelo waar hy hom op die gebied van rugby en atletiek onderskei en einde 1922 die matriekeksamen aflê. Nadat hy op Stellenbosch die grade BA (1926) en MA (Sielkunde (1928) – laasgenoemde onder die leiding van wyle dr H F Verwoerd – behaal en 1930 ook die kandidaatseksamen aan die Kweekskool geslaag het); vertrek hy na Princeton, VSA, waar hy 1931 die MTh verwerf. In sy vaderland terug, word hy einde 1931 gelegitimeer. Daarna verrig hy tydelike hulpdiens in Weenen, Natal, totdat hy 2 Apr. 1932 met handoplegging as hulpprediker in Middelburg, Transvaal, bevestig word. Sedert Julie 1932 staan hy in Ladysmith, waar hy hom grootliks vir moedertaalonderwys in die Tuinprovinsie beywer. Terselfdertyd dien hy as skriba en daarna as aktuariusvan die Natalse Sinode. Gedurende sy dienstyd in Villieria (1945-1951); word daar ‘n nuwe pastorie en kerk gebou en twee gemeentes afgestig. Verder het hy ‘n groot aandeel aan die stigting van die Bond van Dienaresse (tans Vrouediens) in die Transvaal. As voorsitter van die sentrale komitee vir onderwys in Pretoria voer hy en sy medestanders die stryd wat daarop uitloop dat die Afrikaanseprekendes vir die eerste keer ‘n billike verteenwoordiging in die skoolraad kry. Sedert 1949 is hy ook buitemuurse student aan die Universiteit van Pretoria en 1951 behaal hy die MA in Sosiologie en maatskaplike werk. Van 1952 tot 1958 is hy een van die eerste dosente aan ons Kerk se Hugenote-Kollege op Wellington, waar hy voltyds vir Sosiologie en deeltyds vir Sielkunde verantwoordelik is. In 1956 verwerf hy sy doktorsgraad aan die Universiteit van Pretoria met ‘n belangwekkende proefskrif oor die maatskaplike sorg van die Ned Geref. Kerk in Suid-Afrika 1928-1953. Na ‘n dienstyd van sowat twee jaar in Jeppestown, word hy 1960 Randse Sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid en toe eers leraar van Edenvale (1962) en daarna van Eendracht (1965); totdat hy 20 Jan. 1968 sy emeritaat aanvaar. Hy en sy gade vestig hulle in Natal waar hy nog tien jaar met seën as hospitaalleraar in Durban dien. Nadat hy nog ‘n rukkie by Bybelkor op Wellington behulpsaam was, verhuis die egpaar na ‘n tehuis vir bejaardes in Pretoria. Uit sy pen verskyn, in 1944 Die Stryd om Moedertaalonderwys in Natal. As lid van die Kommissie van Ondersoek insake die Gesinslewe het hy ook ‘n aandeel aan die gedrukte verslag van die kommissie (1958); Hy was ‘n ryk begaafde mens, ‘n wellewende, hartlike en diensvaardige gelowige, ‘n wyse raadgewer en ‘n uitnemende voorbidder, wat ons kerk en die koninkryk van God gedurende lange jare voortreflik gedien het. (Jaarboek 1981/252)
