Botha, Jacobus Johannes Schoeman

 

Gebore

21 Okt. 1908

OORLEDE

26 Aug. 2003

UNIVERSITEIT

BA (Rhodes); US

gelegitimeer

1935

ORDEN

1938

STANDPLASE

1938 Uitenhage (Hpr.)

1939 Loerie

1943 Steytlerville

1953 Bedryfsbestuurder Carfo

1958 Rietfontein-Noord

EMIRITEER

1975

Jacobus Johannes Schoeman Botha is op 21 Oktober 1908 op die plaas Kruisrivier naby De Rust in die distrik Oudtshoorn gebore. Sy vader was Pieter Matteus Botha, ‘n boer in murg en been. Sy moeder was Elizabeth Magdalena (gebore Botha); ‘n boorling van die Kango aan die voet van die Swartberge. Haar vader was Philip Rudolph Botha, eienaar van Boomplaas waarop die wêreldbekende Kangogrotte geleë is. Die gemeenskap van Matjiesrivier aan die voet van die Swartberge lewer manne en vroue van durf en daad op, stoere boeremense wat diensbaar en in oorgawe leef. Ons dink aan manne soos PJ Botha (De Hoek) en JG Terblanche (Welbedach); gemeenskaps- en kerkleiers van Matjiesrivier in die Kango.

Die jong Jac het sy skoolopleiding van 1915 af op Graaff-Reinet ondergaan. Hy was eers leerling aan die plaaslike laerskool en van 1919 tot 1921 leerling aan die Hoër Volkskool op Graaff-Reinet. Van 1923 tot 1927 was hy ‘n leerling op Aberdeen waar hy gematrikuleer en ‘n beker vir verdienstelikheid en goeie voorbeeld ontvang het. Jac het hom vroeg reeds geroepe gevoel om predikant te word, en het van 1928 tot 1930 aan die Rhodes-universiteit op Grahamstad gestudeer waar hy die BA-graad behaal het. Daarna het sy pad na die Eikestad gelei waar hy aan die Teologiese Seminarium op Stellenbosch gestudeer en einde 1935 as proponent gelegitimeer is.

Hy het die Du Plessis-saak intens beleef en sy studentemaats op Stellenbosch het later groot bydraes tot die kerk gelewer. Ons dink aan ds. Attie (AJ) van Wyk, dr WA Landman en prof Jan H Hofmeyr.

Na sy legitimasie was beroepe baie skaars en proponent Jac Botha het uitgehelp in gemeentes op Oudtshoorn, Joubertina en Uitenhage. Hier het hy saam met medeleraars ds. PM van Heerden en ds. Kosie Gericke gewerk, en volle verantwoordelikheid vir die wyk Loerie aanvaar. In die historiese ou Moederkerk op Uitenhage is hy op 30 April 1938 met handoplegging bevestig. Die rede is gelewer deur ds. J Burger van De Rust wat hom as baba gedoop het.

Binne ‘n jaar het Loerie afgesig en ‘n selfstandige gemeente geword. Ds. Botha is op 4 Februarie 1939 as die eerste leraar van die NG Gemeente Loerie in die Langkloof bevestig.

Na ‘n geseënde dienstydperk het hy ‘n beroep na die gemeente Steytlerville in die Groot-Karoo aanvaar, waar hy op 4 Desember 1943 as leraar diens aanvaar het. In sy dienstyd is die dorpsmeent verkoop en die hartseer broedertwis tussen stadsraad en kerkraad is opgeklaar. Nadat hy nege beroepe bedank het, het ds. Botha op 6 Februarie 1954 ‘n aanstelling as bedryfsbestuurder van Carfo, ‘n organisasie wat Christelike films vervaardig en wat in die vroeë vyftigerjare ‘n bestaans krisis beleef het, aanvaar. Met behulp van prof Gerhard Beukes van Bloemfontein en mnr Kappie Botha is ‘n rolprent oor die lewe van Jesus Christus in Israel vervaardig. Die film Voetspore uit Nasaret was ‘n reuse sukses en het Carfo weer op die regte spoor geplaas. Na hierdie suksesverhaal het ds. Botha ‘n beroep na die NG Gemeente Rietfontein-Noord in Pretoria aanvaar. Sy bevestiging het op 18 Januarie 1958 in die gemeente plaasgevind. Ds. Botha het in die gemeente gewoon en werk tot met sy aftrede op 30 April 1974.

In die Jakarandastad het hy op kerklike gebied die rol as voorsitter van die SKDB in Noord-Transvaal en skriba in die Ring van Eloffsdal vertolk.

Jac was van kindsbeen af lief vir gedigte skryf en die passie het hom gedurig besig gehou. Meer as ‘n dosyn boekies met gedigte en sketse het uit sy pen verskyn, so ook gedigte in kerklike en ander blaaie. So het sy kollegas hom geken, die dig en die rym het dikwels gesorg vir humor in die bediening. Hy was iemand met baie humor, ‘n talent wat tot in sy grysheid gesorg het vir ‘n vonkel in die oog.

Ds. Jac het op 30 April 1974 sy emeritaat aanvaar na 36 jaar in die bediening, en die egpaar het hulle op ‘n kleinhoewe aan die Pienaarsrivier buite Pretoria gevestig. Later het hulle na Huis Vergenoeg in Villieria te Pretoria verhuis waar hy soms eredienste waargeneem en met geestelike versorging gehelp het. Na sy aftrede was die lewering van die feesrede tydens die halfeeufees van Loerie in 1988 ‘n hoogtepunt.

Ds. Botha is op 1 Junie 1936 met Juliana Bellingan getroud. Uit die huwelik is drie kinders gebore. Met sy afsterwe op 26 Augustus 2003 was daar vier kleinkinders. Sy een kleinseun, Simon du Plooy, het die bedankings op sy begrafnis gedoen. Op 3 September 2003 het dr Cas Jackson die begrafnisdiens gelewer met Fil. 2:5 as teksvers. – Dr Gerdrie van der Merwe. (Jaarboek 2005/345).