Gebore
26 Aug. 1852
OORLEDE
8 Nov. 1927
UNIVERSITEIT
US
gelegitimeer
1916
ORDEN
1917
STANDPLASE
1886 Philadelphia
1894 Dordrecht
1898 Swellendam
1904 Stellenbosch
EMIRITEER
1927
Daniël Stephanus Botha is op 26 Augustus 1852 te Goudini Bad gebore. Sy eerste onderwys ontvang hy aan die private skool by sy ouerhuis. Later gaan hy na die “Goevernementschool” op Worcester. In 1871 is hy op die ouderdom van 19 aangestel as hoofonderwyser by ‘n klein skooltjie op Villiersdorp. Teen die einde van 1872 lê hy die Godsdiensonderwyserseksamen af. Nadat ds. J.P. Jordaan in 1875 na Philipstown verhuis het, tree hy op as voorganger by bidure en godsdiensoefeninge. Die nuwe predikant, ds. Frans Lion‑Cachet, maak dikwels van sy dienste gebruik en op 17 April 1879 lê hy met goeie gevolg die sendelingseksamen te Stellenbosch af. Hy tree ook in die huwelik met Hester Kriel van Villiersdorp. Hulle verhuis na die Paarl waar hy hulpprediker word van ds. Gilles van de Wall van die moedergemeente. Hy bedien hoofsaaklik die kleurlinggemeenskap en die lidmate van die Benede‑Paarl. Na enkele maande ontvang hy ‘n beurs van vriende en op 1 Oktober 1879 word hy as sendeling georden. Hy voel egter geroepe om predikant te word en van 1882 tot 1885 is hy ‘n student aan die Stellenbosse Kweekskool. Met toestemming van sy professore neem hy die eredienste in Philadelphia waar. Van 1886 tot 1894 is hy herder en leraar van hierdie gemeente. Hierna is hy tot in 1898 in die Dordrecht‑gemeente werksaam en van 1898 tot 1904 te Swellendam. Op 9 Desember 1904 word hy predikant op Stellenbosch. Hier dien hy met groot onderskeiding en bekwaamheid.
Vanaf 1905‑1927 dien hy op die Raad van die Universiteit van Stellenbosch, onder andere as sekretaris van 1905‑1907. Danie Botha het Victoria-Kollege en die Universiteit van Stellenbosch 22 jaar lank met groot getrouheid en selfopoffering as raadslid gedien. Sedert 1905 het hy sy veelvuldige talente en beste kragte aan die hoër onderwys op Stellenbosch gewy. Die naam van Danie Botha sal altyd in herinnering verbonde bly aan die latere ontwikkelingstydperk van die Victoria-Kollege en die eerste jare van die bestaan van die Universiteit van Stellenbosch.
Tydens die sinodes van 1906 en 1915 word hy verkies tot assessor en in 1919 is hy verkies tot die hoogste amp in die N.G. Kerk, naamlik die van moderator. Hy het die amp ryklik verdien, was dit ten volle waardig en het dit met waardigheid beklee. Hy was ook onder meer lid van die Kerkkommissies vir Sending, Arbeidskolonies, Proponente‑eksamens, die Kweekskool en die Kerkkantoor. In 1913 en 1919 was hy voorsitter van die Raad der Kerken. Verder was hy ook ‘n kerklike wetgeleerde by uitnemendheid, ‘n vertroude outoriteit ten opsigte van die kennis, uitlegging en toepassing van die Kerkorde. In die hersiening van lg gedurende 1906 het hy ‘n vername en groot aandeel gehad.
Ds Botha is een man, die van God grote gaven heft ontvangen, om het Evangelie met helderheid te verkondigen en om anderen te leiden. Hij is in alle opzichten de man van de daad. Vooral is hij zeer gelukkig op een vergadering. Daar leidt hij aanstonds, slaat de spijker op de kop en weet steeds raad. Hij denkt snel, helder en logies. Hij heft een stalen geheugen, is zeer bedrijvig van aardt en uiterst nauwgezet in de vervulling van plichten die op hem rusten. Onder zijne medepredikanten wordt hij vertrouwd, geeerd en geliefd om zijne hoge gaven, zijne bescheidenheid en nederigheid. Zijn levensloop moet elke jongeling, die onder ongunstige omstandigheden het leven begint en met moeilikheden te strijden heft, bemoedigen. – Geskryf deur Andrew Kok