Botha, Carl Wilhelm Jacobus

 

Gebore

12 Jun. 1922

OORLEDE

20 Jun. 1998

UNIVERSITEIT

gelegitimeer

1945

ORDEN

1946

STANDPLASE

Aberdeen

1949 Bloemfontein-Oos-De Bloem-Estoire

1952 Villiers-Cornelia

1957 Biesiesvlei

1961 Coligny

1966 Na Moederkerk: Coligny

EMIRITEER

1982

Carl Botha was een van die `Donkies’ – die geliefde spotnaam wat aan die studente van die destydse Hugenote-Universiteitskollege (HUK) van Wellington, en veral die studente van die Sendinginstituut, gegee is. Hy is op 12 Junie 1922 op Rawsonville (waar sy vader ‘n boer was) gebore. In 1940 matrikuleer hy op die dorp. Van daar af het hy na Wellington gegaan, om eers aan die HUK en daarna aan die Sendinginstituut te studeer. Hy het sy Diploma in Teologie in 1945 verwerf.

In 1946 is hy in die destydse NG Sendingkerk (NGSK) bevestig. Hy is op 19 Maart 1948 met Rina Kilian getroud. In 1949 is die uitgebreide gemeente van Bloemfontein-Oos/De Bloem/Estcoire van die NGSK aan hom toevertrou. In 1952 het hy ‘n beroep na die kombinasiegemeente Villiers/Cornelia van die NGSK aanvaar. Sy volgende gemeente was die NG Kerk in Afrika-gemeente, Biesiesvlei in Wes-Transvaal, waarheen hy in 1957 gegaan het. In 1961 het hy hom in die NGSK-gemeente van Coligny bevind waar hy pragtige bouwerk gedoen het. Hy het so ywerig en toegewyd in hierdie gemeente gewerk en soveel inslag gevind, dat die NG Kerk-gemeente Coligny hom in 1966 beroep het. In hierdie gemeente het die grootste en vrugbaarste deel van sy bediening gevolg, aangesien hy 16 jaar – tot met sy aftrede op 5 Junie 1982 – daar gewerk het.

Carl Botha tree af vanweë verswakte gesondheid en hy en sy eggenote gaan woon op Margate waar sy gesondheid nie verbeter het nie en hy op 20 Junie 1998 oorlede is. Hy laat sy eggenote, Rina, en drie kinders, naamlik Johann, Philip en Carina, na. Hy het ook die voorreg gehad om vyf kleinkinders te hê.

Carl Botha was ‘n mens met ‘ n drang vir die evangelie en sy hoogste prioriteit in sy bediening was steeds die pastorale versorging van sy gemeentelede. Sy lang en vrugbare bediening het ‘n onberekenbare bydrae in die Koninkryk van God gelewer. – Dirk Viljoen, aan die hand van ds. Botha se Biografiese Vorm wat hy op 6 Februarie 1997 ingevul het. (Jaarboek 1999/345).