Botes, Jacobus Abraham

 

Gebore

03 Sept. 1937

OORLEDE

08 Jul. 2009

UNIVERSITEIT

BA, BTh 1967, Lis. Teol.

gelegitimeer

ORDEN

STANDPLASE

Vryburg-Wes

EMIRITEER

JacobusAbraham Botes is op 3 September 1937 as ‘n boerseun in die distrik Vryburg gebore. Hy was die enigste seun en het drie ouer susters gehad. Kosie het sy eerste skooljare in ‘n eenmanskool op sy pa se plaas beleef, en in 1955 aan die Hoërskool Vryburg gematrikuleer. In die tyd het sy ouers ‘n losieshuis op die dorp gehad. Na matriek is hy na die Lugmaggimnasium in Pretoria

waar hy tydens sy dienstyd op Langebaan tot bekering gekom en die roeping ervaar het om predikant te word.

Om matrikulasie-vrystelling te kry, het hy by die destydse Departement van Naturellesake op Vryburg gewerk, en van 1957 tot 1960 was hy in diens van die Departement Bantoe-Administrasie en -Ontwikkeling in Pretoria. In 1963 het hy die graad BA (Admissie) aan die Universiteit van Pretoria verwerf. Hierna het sy pad in 1964 na die Universiteit Stellenbosch geloop, waar hy ‘n student was aan die Teologiese Seminarium op die walle van die Eersterivier. Kosie was betrokke by die CSV en het in die bestuur van die CSSB gedien. Dit was wonderlike tye, en aan die einde van 1967 is hy as proponent gelegitimeer.

Proponent JA Botes is op 21 April 1968 met handoplegging in die NG Gemeente Vryburg-Wes bevestig, met opdrag sending in Malawi. En kort daarna, op 4 Junie 1968, is hy met Corrie de Waal, ‘n onderwyseres, in Malawi getroud. Uit hulle huwelik is later vier kinders gebore: Betsie, Kobus, Danie en Braam. Kosie was die eerste leraar van die jong gemeente Mdzobwe en hulle het op Malingunde gewoon. Om naby sy werkkring te wees, het hyself ‘n huisie in die gemeente gebou, waar hulle eerste drie kinders gebore is. Op 9 Desember 1972 het hy leraar van die NG Gemeente Prieska geword, en kort daarna het hy betrokke geraak by die pas gestigte gemeente op Copperton. Hier tussen die asbesmyne het Kosie asbes kanker opgedoen, wat sluimerend gebly het tot aan die einde van 2007.

Op 16 April 1977 het hy leraar van die NG Gemeente Ladismith (KP) geword, waar hy die vloedramp van 1981 beleef het. ‘n Groot deel van sy gemeente het skade gely tydens die oorstromings en die Laingsburg-vloed. Op Ladysmith het die gesin ook hartseer beleef toe Madeleen, hulle oudste en eenjarige dogtertjie, na ‘n lang siekte oorlede is. In 1984 het Kosie na Zimbabwe teruggekeer, hierdie keer as sendeling te Bindura. Nadat die Zimbabwiese regering nie verder ‘n werkpermit aan hom wou toestaan nie, het hy in 1991 na Suid-Afrika teruggekeer en ‘n paar maande aan ‘n projek gewerk om testamentêre bemakings vir die sending te probeer werf. Op 1 Maart 1992 het hy demissie geneem met die oog op verdere studie. Later het hy uit die NG Kerk bedank om 11 jaar lank leraar van die Afrikaanse Protestantse Kerk op Hennenman, Virginia, Prieska en Groblershoop te wees.

Ds. Kosie Botes het in 2002 afgetree en hy en Corrie het hulle op Kleinmond gevestig. Teen die einde van 2007 is mesotaeoom (asbes kanker) by hom gediagnoseer. Hy het met groot vrede en blymoedigheid die beproewing gedra totdat hy op 8 Julie 2009 na ‘n relatiewe kort siekbed in sy huis oorlede is. Hy word onthou as ‘n liefdevolle, sorgsame vader, wie se liefde vir praktiese handewerk sigbaar is in baie dinge wat hy nagelaat het. (Jaarboek 2010/384).