Botes, David Hermanus * 1919

Ds DH Botes

Gebore

27 Okt. 1919

OORLEDE

20 Jul. 2000

UNIVERSITEIT

U.O.D., B.A. (Sos. Wet.) (UOVS) (US)

gelegitimeer

1951

ORDEN

1952

STANDPLASE

1952 Excelsior

1963 Odendaalsrus-Oos

EMIRITEER

1988

Dawie Botes was ‘n man met ‘n fyn gees, toegewyd aan sy roeping as predikant. Hy was veral bekend vir sy vaste beginsels en patriotisme. Hy was goed onderrig in die gereformeerde leer waarop sy bediening en volledige optrede gebaseer is. Alhoewel hy net in twee gemeentes gestaan het, het hy ‘n merkwaardige loopbaan gehad.

Hy is op 27 Oktober 1919 op Winburg gebore. Sy vader was ds. Weitz J Botes, een van die vroegste sendelinge in Nyassaland (Malawi) en sy moeder was Esther Rossouw, ‘n onderwyseres wat haar opleiding te Friedenheim op Wellington deurloop het. Hy het tot sy sewende jaar saam met sy ouers in Malawi gewoon waarna hulle na Winburg verhuis het. Hy het eers die plaasskool Goedehoop (1927-1928) bygewoon en toe die Laerskool Winburg (1929-1933) en die Hoërskool Winburg (1934-1937); In sy tienerjare het hy reeds klavier gespeel en kuns beoefen. Maar hy was ook besonder lief vir tennis, atletiek en was aktief in die Voortrekkers.

Dawie het hom eers in ‘n opvoedkundige en maatskaplike rigting bekwaam. Hy het ‘n BA-graad (1940) en universiteits onderwysdiploma (1942) aan die Universiteit van die Oranje-Vrystaat (UOVS) behaal. In 1943 het hy deeltyds as omroeper by die SAUK in Durban uitgesaai en in 1944 ‘n onderwyspos aan die Hoërskool op Ladysmith aanvaar. Daarna het hy weer by die UOVS ingeskryf vir ‘n BA-graad in maatskaplike werk (1946) sowel as sy BA Hons in sosiologie (1947); In 1948 het hy na die Kweekskool op Stellenbosch gegaan waar hy onder andere ‘n beurs gekry het om sekteverskynsels te bestudeer. Hy het altesame ses jaar in die studenteraad gedien – drie jaar as visevoorsitter. Sy leierskap is reeds op universiteit bewys toe hy as primarius van Huis Abraham Fischer gekies is; eerste primarius van die Reitzsaal-Kamerwonings; leier van die Afrikaanse Nasionale Studente; visevoorsitter van die CSV; stigter van die NG Kerk Vereniging; stigter van die Admissie Studente-Bond en stigter van die Hollandse Studiekring. Hy was ook primarius van die Kweekskool en redaksielid van Polumnia (1951); Hy het vir twee agtereenvolgende jare die redenaarskompetisie gewen en vier jaar lank in die Kweekskoolkoor gesing. Hy is op 6 Desember 1951 gelegitimeer.

Sy eerste gemeente was Excelsior waar hy op 12 April 1952 georden en bevestig is. Na byna tien jaar van alleen wees, het hy op 26 Junie 1961 met Johanna Elizabeth Smith (van Heilbron) getrou. Uit hierdie huwelik is vier kinders gebore: Weitz (1962); Francois (1963); Elizabeth (1965) en David (1968); Hulle is al vier getroud en in 1997 was daar reeds ses kleinkinders.

Dawie se tweede gemeente was Odendaalsrus-Oos waar hy in 1963 bevestig is en die res van sy bediening, tot en met sy aftrede op 18 Oktober 1988, gebly het. Daarna het hulle hulle op Winburg gevestig waar hy steeds baie bedrywig gebly het. Hy het in een jaar (1979) reeds 406 000 Bybeltekse en -onderwerpe geindekseer! Hy het ‘n Dagboek vir die Jeug geskryf, asook ‘n Preekbundel vir ouderlinge (vier publikasies) en Kom ons glo. Hy het tot en met sy dood ook gewerk aan ‘n vyfde boek van die reeks Bybelse Dagboeke (met begrafnispreke).

Sy gesondheid was tot kort voor sy dood goed ten spyte van sy 81-jarige ouderdom. Op Donderdag, 20 Julie 2000, het hy egter die middag skielik ‘n pyn in sy bors gekry en begin sleg voel. Hy is per ambulans na die hospitaal op Winburg geneem, maar is daardie aand aan ‘n hewige hartaanval oorlede. Merkwaardig is dat hy juis op daardie dag in ‘n stuk oor begrafnis preke geskryf het: “Daar is maar een tree tussen my en die dood ”

Dawie sal onthou word vir sy hartlike, vriendelike en opregte omgang met mense. Hy het diens gelewer op ‘n byna ongelooflike groot terrein. Hy was ses en twintig jaar lank lid van die Universiteitsraad van die Vrystaat, lid van die Kuratorium en medestigter van die Teologiese Fakulteit aan die Universiteit van die Oranje Vrystaat. Terselfdertyd was hy ook lid van die Kuratorium van Stellenbosch. Hy het vir veertig jaar in die hoofbestuur van die Vereniging vir Christelike Hoër Onderwys (VCHO) gedien en was ook erelid van diê organisasie. Hy het vyftien jaar lank in die Sinodale Kommissie van die Vrystaat gedien; in die Sinodale Jeugkommissie; die Interkerklike Kommissie vir Opvoeding en Onderwys (IKOO) (ook as skriba) en die Sentrale Onderwyskommissie van die Algemene Jeugkommissie (onder andere as ondervoorsitter); Hy was lid van die Rapportryers en verskillende skoolrade en hy was ‘n bekende kultuurleier in die Noord Vrystaat. Hy was ook vele j are bestuurslid van die Winburgse Kinderhuis.

Tydens sy bediening het hy vyf en dertig beroepe ontvang, ook as studenteleraar, publikasiehoof van die NG Kerk-Uitgewers, sekretaris vir die Diens van Barmhartigheid in die Vrystaat, sekretaris vir Evangelisasie, as kapelaan na Voortrekkerhoogte en direkteur van ‘n kinderhuis.

Sy vrou, Joyce, sy kinders (onder andere ds. Dawie Botes jnr van Petrusburg) en kleinkinders, sowel as gemeentelede en sy talle kollegas met wie hy op vriendskaplike voet was, dank die Here vir sy lang lewe van diens. Hy was ‘n idealis en humoris – baie liefdevol teenoor oud en jonk, arm of gesiene. Hy kon die kleinkinders heerlik vermaak met dramatisering en nabootsing. ‘n Mooi kenmerk van hom was sy vergewensgesindheid. Nooit het hy ‘n wrok teenoor iemand gekoester nie, al het hulle van hom verskil. Dit was sy toewyding en diens aan Jesus Christus wat hom besiel het om op so ‘n verantwoordelike en beginselvaste manier sy roeping as leraar en vader te vervul. – Dirk Viljoen as vriend en aan die hand van sy biografiese vorm wat hy op 15 Mrt. 1997 ingevul het, asook ‘n stuk deur sy seun Dawie voorsien. (Jaarboek 2001/335).